Ds. Gert Nothnagel van die Herold-gemeente naby George het die hartseer nuus aan Huisgenoot bevestig en gesê die begrafnis is Maandag gehou.

Huisgenoot het in November verlede jaar met boer Flip en sy vrou, Wenda, op sy plaas gesels ná die skokdiagnose dat hy prostaatkanker het en dat die kanker reeds na sy skelet versprei het. Lees Huisgenoot se laaste onderhoud met die gewilde boer hier.

In kanker se kake – Pieter van Zyl, 22 November 2018

Boer Flip veg moedig teen die laaste fase van sy siekte terwyl die dokter hom nie meer kan help nie.

Hy was die fors, bruingebrande boer wat sy vrugte-en-groenteplaas in die Langkloof op sy kwadfiets platgery het om die vinger op die pols van sy boerdery te hou. Toe boer Flip die vrou van sy drome raakloop, het hul romanse voor Boer Soek ’n Vrou se TV-kameras ontvou en kykers weer in die liefde in die later jare laat glo.

Maar waar hy nou voor die televisie in die gesellige siersteenhuis op die plaas Boskloof in die Uniondale-distrik in die Wes-Kaap sit, is Flip Kotzé (64) net ’n skadu van die man met wie Wenda (59) sewe jaar gelede getrou het.

Hy is bleek en uitgeteer met oë wat diep in hul kasse sit. Selfs wanneer hy glimlag, verdwyn die pyn nie uit sy kykers nie. “Die pyne en skete, het ek eers gedink, is maar van harde werk en die ouderdom,” begin hy vertel. “Toe is dit iets heel anders. Nou is die kanker in sy laaste fase.”

By Wenda en Flip is (van links) Jackie, Jessie en Lady. Foto: Misha Jordaan.

Die pyn is ondraaglik terwyl hy verbete teen fase 4-prostaatkanker veg. Hy neem elke dag groot dosisse morfien en drink ook ’n aftreksel van kankerbossie. Dokters vermoed die kanker het al vyf jaar gelede begin kop uitsteek, vertel hy.

In daardie vroeë stadium sou dit nog suksesvol behandel kon word. Omdat hy hom nooit laat toets het nie – kanker is nie ’n familieding nie, sê hy – is dit nooit bespeur nie. “As ek één man se lewe kan red deurdat hy hom vroegtydig laat toets, is dit die moeite werd dat ek hieroor praat,” sê hy nou.

Dit is asof die dood soos ’n donker wolk oor die plaashuis hier anderkant die Keurboomsrivier hang, al praat Flip en Wenda nie dikwels daaroor nie. “Die dood is tog in my agterkop,” erken hy. Sy stem kraak en ’n enkele snik ontsnap oor sy lippe toe hy sê: “Die Here moet my maar nou kom vat.”

Ook Wenda kan die trane nie keer nie en streel vertroostend oor sy linkerarm. “Dit is vir my moeilik; die diagnose het steeds nie by my ingesink nie,” vertel sy.

Deesdae behartig sy die boerdery onder Flip se leiding. As die perskes nie gou genoeg gepluk word nie, vreet die bobbejane dit op. “Daar is mos nie ’n man met ’n geweer op die plaas wat hulle verwilder nie,” verduidelik sy. “Hy het altyd alles op die plaas gedoen . . .”

Flip en Wenda aan tafel in die kombuis met haar melktert as trooskos. Foto: Misha Jordaan.

Elke Vrydagaand het hy die braaivleisvuur vir hulle gepak. “Ons het sit en gesels met ’n glasie rooiwyn,” onthou Flip. Nou is die braaiplek buite al lank koud, met net uitgebrande as daarin. En die gesellige aandjies voor die gloeiende kole net ’n mooi herinnering. Dan sê hy sag: “Oe, ek is so lus vir ’n gebraaide skaaptjoppie.”

Byna 200 vroue van oor die hele land het destyds vir Flip geskryf toe hy aan die tweede seisoen van Boer Soek ’n Vrou deelgeneem het. Maar kort ná die seisoen se begin in 2009 het hy Wenda, toe ’n sekretaresse van Riversdal, in ’n musiekwinkel in George raakgeloop en sy het sy hart vinniger laat klop.

Hy het oop kaarte met kykNET gespeel en gevra of hy Wenda saam met twee ander vroue plaas toe kan nooi, al was sy nie een van die briefskrywers nie.

Die ander twee, Ansebé Pieterse (toe 46), ’n ontvangsdame van Kaapstad, en June Smith (toe 59), ’n rekenmeester van Hartenbos, het kort ná hul aankoms gal gebraak oor die “vervalle huis” met sy kanariegeel mure, die leë yskas en die slegte koffie.

Daarby was dit gou duidelik Flip het reeds besluit om Wenda te kies. Ansebé en June is die eerste dag al sak en pak van die plaas weg. Die kykers was aanvanklik ook vies vir Flip, maar net tot hulle gesien het hoe lief hy en Wenda mekaar het.

“Ons is sielsgenote,” beaam albei nou byna tegelyk in die einste huis wat allesbehalwe vervalle is. Wenda het dit keurig versier en gesellig ingerig.

Op hul boerebruilof op 8 Oktober 2011 het hulle die dansbaan op die maat van Theuns Jordaan se Soos Bloed geopen en die toekoms tegemoetgelangarm. “Ai, die wiel het van toe af ’n bietjie gedraai,” sug Flip waar hy op die bank in die sitkamer sit, gemaklik in ’n sweetpakbroek, T-hemp en pantoffels.

Toe was hy nog ’n gerekende vrugteboer in die Langkloof, ’n inspirasie vir sy medeboere. “Hy het van meet af by ons ingepas,” het Hannie Strydom, destyds die koöperasiebestuurder op Noll’s Halte in die distrik, op die bruilof vertel.

Binne die eerste jaar het Flip die lande bewerk en vragte aartappels, pampoen en perskes van uitvoergehalte gelewer. En die rede? “Dis hoe dit gaan as ’n man die liefde van ’n vrou soos Wenda kry,” het hy destyds aan Huisgenoot gesê.

Toe die gewone lyfpyne van ’n hardwerkende boer verlede jaar ál erger begin word, het hy dit eers as ouderdomskwale afgemaak. ’n Paar weke later, op 17 November, het hy eindelik by ’n dokter ingestap, want Flip het gereken hy het jig. Die dokter het bloedtoetse gedoen en die volgende dag laat weet: “Hier kom groot probleme.”

Op 20 November het hy die skoknuus gehoor dat hy prostaatkanker het en dat die kanker reeds na sy skelet versprei het. Flip was daarvan oortuig die uitslag was verkeerd, maar ’n uroloog het dit met ’n biopsie bevestig.

Drie weke lank het hy ses keer per week chemoterapie ontvang, maar die behandeling was nie suksesvol nie. Ná die laaste chemosessie in Augustus vanjaar het die dokter gesê hy kan niks meer vir hom doen nie.

Hy onthou die dokter se woorde toe hy vra hoe lank hy nog sal leef: Gaan op jou knieë, bid en leef voluit.

Die afgelope maand word sy energie ál minder en die pyn ál erger. “Ek kan sien hy raak ál swakker,” vertel Wenda. Boonop sal hulle dalk ander blyplek moet soek aangesien Flip die plaas in Augustus 2016 moes verkoop nadat hy weens die swak mark vir sagtevrugte groot lenings by die bank en koöperasie aangegaan het en toe gesukkel het om dit te delg.

Hulle kon vir eers op die plaas aanbly, maar moes intussen van sy ou toerusting, sy geliefde boot, ligte vliegtuig en voertuie verkoop om aan die lewe te bly. Net die bakkie is oor. “Ons bly maar hier tot ons uitgeskop word,” sê Wenda.

’n Muur in hul sitkamer met hul troufoto en foto’s van hul kinders uit vorige huwelike. Foto: Misha Jordaan.

Teen die muur hang hul troufoto en regs daarvan foto’s van sy kinders en kleinkinders – twee seuns van wie een op 19 in ’n motorongeluk dood is, en drie kleinseuns. Aan die ander kant is kiekies van Wenda se twee dogters en haar drie kleinseuns en twee kleindogters.

“Ons wil nie by ons kinders intrek nie. Dit is ons huis dié. Dis nie spoggerig nie, maar dis ons s’n,” sê Wenda.

Sy wil nie eens aan die dag dink dat Flip nie meer daar sal wees nie. Sy sal veral sy droë humorsin mis. “Hy is ’n gee-mens; as daar groente is, gee hy dit weg. Hy het my gelukkig gemaak in ’n tyd in my lewe toe ek baie low was.”

Sy onthou op ’n dag aan die begin van hul verhouding toe sy moedeloos was, het hy vir haar in sy 4x4-stasiewa ’n kasset van Broers gespeel: Daar sal nuwe winde waai en die son sal weer skyn . . .

Die trane blink in haar oë toe sy sê: “Hy het daardie son vir my laat skyn. Ons baklei saam met hom om daardie lig nie te laat verdwyn nie.” En Flip troos haar: “Niks is vir die Here onmoontlik nie.”