Maritza Conradie (39) wens net sy het hom vroeër ontmoet – voor sy in 2011 aan Boer soek 'n vrou deelgeneem het en voor sy met boer Gert Conradie, 'n plaasbestuurder van Wel Van Pas, 'n vrugte-en-wingerdplaas naby Robertson, getrou het.

Want deesdae spog Maritza met 'n skitterende swart diamant aan haar vinger. En die oomblik dat die derde vlaag van die covid-pandemie verby is, gaan die trouklokkies vir die derde keer vir haar lui.

Hierdie keer met Werner Killian (51), 'n areabestuurder van verbruikersprodukte van Somerset-Wes in die Kaap.  

Op hul trou­dag. Boer Gert en Maritza het in 2012
Op hul trou­dag. Boer Gert en Maritza het in 2012 afgehaak en het geglo hul liefde sal alles kan trotseer. Argieffoto: Misha Jordaan

Kykers van Boer soek 'n vrou sal die spontane donkerkop, toe 'n 27-jarige geskeide ma, onthou wat in 2011 in seisoen vier sommer gou boer Gert se oog gevang het. Teen die reünie-episode het die plaasbestuurder besluit hy het in haar sy ideale pasmaat gevind.

Dit was 'n onvergeetlike oomblik vir kykers toe hy voor die reeks se kameras op een knie sak en Maritza vra om met hom te trou. 

Maar dit het toe geen sprokieseinde gehad nie en ná vyf jaar het hul huwelik in die skeihof beland.

Toe Huisgenoot in Februarie verlede jaar met Maritza gesels het, het sy gesê sy is 'n beroepsvrou en wil nooit weer met 'n boer trou nie. 

En toe ontmoet sy vir Werner en die liefdesvlamme het weer behoorlik vir haar gebrand.  

Die twee het mekaar in Oktober verlede jaar op die Afrikaanse maatsoek-app Koer ontmoet en sommer dadelik 'n hond uit 'n bos met mekaar gesels. 

Maritza en die man wat haar hart opnuut gesteel he
Maritza en die man wat haar hart opnuut gesteel het, haar verloofde, Werni Killian. Foto: Verskaf

“Ek en 'n vriendin het besluit om die app uit te toets. Sommer gou sien ek toe Werner se foto,” vetel sy. Maar dit het beslis nie sonder enige skeptisisme van haar kant gekom nie. 

“Eers het ek gedink die man is getroud, want hy was baie netjies en dit het gelyk of hy baie goed na homself kyk."

Maar sy het sommer vining uitgevind hy is ook 'n geskeide ouer. 

Die twee het twee keer planne gemaak om mekaar te ontmoet, maar Maritza het elke keer etlike ure voor hul afspraak gekanselleer.

“Albei kere was hy al op die pad vanaf Somerset-Wes na Goodwood, dan bel ek hom om te kanselleer. Ek was maar net bang om hierdie wildvreemde man te ontmoet. En as hy kwaad geword het daaroor, het ek dit nooit geweet nie. Hy het omgedraai en teruggery huis toe,” onthou sy.

Maar Werner het nie so maklik opgegee nie, en met die derde probeerslag het die twee mekaar eindelik in 'n koffiewinkel ontmoet.

“Gelukkig het hy nes sy foto gelyk,” vertel Maritza en lag. 

Die donkerkopman het 'n goue koevert by hom gehad, vertel sy. Dit was 'n geskenkbwys vir 'n manikuur en pedikuur wat hy vir haar gegee het.

Die skoot was hoog deur en twee maande later het Werner op een knie neergesak met die spogdiamant in sy hand. 

“Hy het my gevra om te trou nadat hy my kinders en my ma om toestemming gevra het,” vertel Maritza laggend. 

Maritza spog nou met 'n pragtige swart diamant aan
Maritza spog nou met 'n pragtige swart diamant aan haar ringvinger. Foto: Verskaf

Sy het nie twee keer gedink wat om hom te antwoord nie en het hom sonder voorbehoud die jawoord gegee. Maritza en Werner woon nou saam in Boston, Bellville, en beplan om 'n klein, intieme troue te hê sodra die derde vlaag verby is. 

“Ek is vreeslik gelukkig, en ek wens werklik ek het Werner vroeër in my lewe ontmoet. Ek kan 100% myself wees met hom,” vertel sy.

Oor haar huwelik met Gert sê sy: “Ek het soveel geleer uit my verhouding met Gert. Vroue moet weet dat hulle nooit hulself moet verander vir enige man nie. Die regte man sal jou aanvaar en liefhê nes jy is. Iemand by wie jy altyd jouself kan wees.

En so iemand het ek in Werner gevind.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe