“Ek soek nóóit weer ’n boer nie,” sê sy ferm. Maritza Conradie (38) pers haar rooi lippe ’n oomblik styf op mekaar, haar donkerbruin oë die ene erns.

Waar daar eens ’n trouring aan haar ringvinger geskitter het, is dit nou leeg.

Kykers van Boer soek ’n vrou sal haar onthou as die spontane donkerkop wat in 2011 sommer gou boer Gert se oog gevang het.

God het vir Gert gesê ek is die een, en ek wou dit ook glo.

Teen die reünie-episode het dié plaasbestuurder van Wel Van Pas, ’n vrugte-en-wingerdplaas naby Robertson, besluit hy het in haar sy ideale pasmaat gevind.

Dit was ’n onvergeetlike oomblik vir kykers toe hy voor die reeks se kameras op een knie sak en Maritza vra om met hom te trou.

“Ek het ja gesê,” onthou sy nou weer daardie oomblik, nege jaar later.

“Kyk, ek wou so graag in ’n sprokie glo. God het vir Gert gesê ek is die een, en ek wou dit ook glo,” verduidelik sy.

“En kan jy dink, as ek nie daar voor al die kameras ja gesê het nie, sou ek die mees gehate persoon in Suid-Afrika gewees het . . .”

Ook vir kykers van die vierde seisoen van kykNET se gewilde maatsoekprogram het die romanse tussen Maritza, toe ’n 27-jarige geskeide ma, en Gert Conradie (toe 34), die pa van twee seuns uit vorige verhoudings, na ’n sprokies­verhaal gelyk wat voor hul oë ontvou.

Maar dit het toe geen sprokieseinde van “vir altyd gelukkig saam” gehad nie. Pleks daarvan het hul huwelik ná vyf jaar in die skeihof geëindig . . .

‘Die idee van haar’

Vandag is Maritza vir die eerste keer gereed om openlik daaroor te praat en glo sy Gert het destyds net op “die idee” van haar verlief geraak. En sy draai nie doekies om oor haar gevoelens en menings nie.

“Boere is glad nie so onskuldig soos wat mense dink hulle is nie,” sê sy.

“Dis ’n groot fout wat mense maak.

“As jy ’n vrou is wat nie ’n loopbaan wil najaag nie, wat nie ambisieus is nie en wat daarmee gelukkig sal wees om ’n huisvrou te wees – go for it.

“Ek is nie daardie soort vrou nie, en ongelukkig moes ek eers met twee boere trou en skei om dít te besef.”

Waar die pragtige donkerkop gemaklik op ’n grys bank in die voorportaal van ’n hotel by Century City, Kaapstad, sit, kruis sy haar bene. Dan gee sy daardie bekende glimlag wat kykers – én boer Gert – destyds so bekoor het.

Sy en Gert is al drie jaar geskei – waarom so lank daaroor stilbly, en waarom nou besluit om daaroor te praat?

“Dit is aanvanklik mos nie iets wat ’n mens vir die wêreld uitbasuin nie. Almal op Robertson weet natuurlik ons is ­geskei.

“Gert het intussen ook al ’n paar ander verhoudings gehad. Maar die probleem is hier in die Kaap. Nou nog sal mense my herken en vra waar Gert is. Of hulle sal my saam met ’n ander man sien, en dan is dit ’n ongemaklike situasie,” verduidelik Maritza.

Want ná nege jaar onthou TV-kykers nog hoe dit toe gelyk het of sy ná die hartseer van ’n eerste, mislukte huwelik weer by boer Gert geluk gevind het.

Die kort briefie

Die lewe op die plaas saam met Gert het nie vir Ma
Die lewe op die plaas saam met Gert het nie vir Maritza uitgewerk nie. Argieffoto: Misha Jordaan

Die aptekersassistent van Goodwood, Kaapstad, het destyds aan Huisgenoot vertel sy het net aan Boer soek ’n vrou deelgeneem om haar ma stil te kry. Dis dié dat sy net ’n eenblad-afskeepbriefie geskryf het met foto’s daarby wat sy as “passion killers” beskryf het.

Maar boer Gert het gedink haar foto’s is pragtig, en die kort briefie het sy aandag getrek.

Boonop het hy profesieë gekry dat God iemand vir hom gaan stuur wat baie seergekry het – iemand soos Maritza. Toe verras hy haar én die kykers deur haar die jawoord te vra.

“Ek dink ek het in daardie stadium net met die stroom saamgegaan. Jy raak verlief, raak verloof, trou en kry kinders – dis mos hoe dinge verloop,” sê Maritza.

Vorige huwelik

Vandag besef sy sy het ’n “groot fout” gemaak om so gou ná haar egskeiding weer te trou. Sy was skaars 21 toe sy met ’n welgestelde koringboer van die Swartland getrou het.

Maar die huwelik was ná agt jaar so ongelukkig dat sy hom saam met hul jong seuntjie verlaat en terug­getrek het na haar ma in Goodwood.

“Ek het nooit werklik tyd gevat om deur daardie trauma te werk nie. My selfwaarde was in daardie tyd nul.

“Ses maande ná my egskeiding skryf ek toe maar vir Boer soek ’n vrou in net om my ma gelukkig te hou. Maar ek besef nou wat ek eintlik gedoen het, is net om my ligging te verander.

“Die man, die boer, het dieselfde gebly. Hierdie keer was dit net Gert. Ek kry toe net twee (van sy) kinders by.”

Gelukkig

Op hul trou­dag. Boer Gert en Maritza het in 2012
Op hul trou­dag. Boer Gert en Maritza het in 2012 afgehaak en het geglo hul liefde sal alles kan trotseer. Argieffoto: Misha Jordaan

Toe sy van die gebeure begin vertel wat eindelik tot hul egskeiding sou lei, verwag jy dat sy plek-plek emo­sioneel sal raak. Maar haar rooi lippe bly glimlag. Dan verduidelik Maritza, vandag ’n suksesvolle mediese verkoopsverteenwoordiger en steeds enkellopend, sy was nog nooit so gelukkig soos nou nie.

Tog erken sy dat sy en Gert aan die begin wel gelukkig was. Maar ná die geboorte van hul dogtertjie het die klein jakkalsies begin kop uitsteek.

“Hy het sy emosies vir homself gehou. Ek kon nooit verstaan hoe hy dink en redeneer nie. Ek het verworpe gevoel. Ons was totale teenoorgesteldes, dag en nag. Hy konserwatief; ek liberaal en ’n freedom child.”

Gert wou glo nooit gehad het sy moet haar droom najaag om ’n mediese verkoopsverteenwoordiger te word nie. Dit sou haar te veel van die huis wegneem, was glo sy beswaar.

Maritza het in ’n stadium elke dag sowat 50 km ver na haar werk by ’n apteek op Worcester gery.

Die boere kuier

“Wanneer ek ná seweuur in die aande moeg by die huis kom, kuier al die boere by ons huis. En hulle hou van kuier, hoor.

“Ek was so moeg vir boereverenigings. Daar kuier al die boere net saam terwyl hulle ‘kammavergaderings’ hou, en die vroue moet by die huis sit en kinders oppas.

“Ons het so min alleentyd gehad en dit het hom nie gepla nie. Sy vriende het báie, báie – heeltemal te veel – invloed op ons huwelik gehad,” sê sy en skud haar kop.

“Op Robertson was ek altyd ‘die Kapenaar’ en ’n ‘inkommer’, maak nie saak hoe hard ek op die plaas probeer het nie,” voeg sy by.

My skoene is nie vol stof nie; ek het ’n oulike karretjie waarmee ek ry en nie ’n swaar masjien nie.

En ná vyf moeilike jare het Gert en Maritza se huweliksbootjie gesink.

Die  stadslewe is veel beter vir haar, vertel sy.

“My skoene is nie vol stof nie; ek het ’n oulike karretjie waarmee ek ry en nie ’n swaar masjien nie. As ek nie wil kos maak nie, gaan ek na ’n deurry-­kafee toe en ek kan gaan fliek net wanneer ek wil,” lag sy, en haar oë skitter.

Toe sy en haar twee kinders drie jaar gelede teruggetrek het na haar ma in Goodwood, het sy haar droomwerk losgeslaan.

“Ek wou nog altyd ’n mediese rep wees, en ek is mal daaroor. Ek glo dit sou nie oor my pad gekom het as ek nie die ­reset-knoppie van my lewe gedruk en begin doen het wat ék wil doen nie pleks van wat ander mense van my verwag.

“Om ter wille van ander ongelukkig in ’n huwelik te bly is beslis nie die antwoord nie.”

Ware liefde

Ná haar ervarings met verhoudings lewer sy ook deesdae praatjies om ander vroue te bemagtig.

“Ek wil graag ander vroue help om die trauma wat hulle in verhoudings deurgemaak het te verwerk. Jy moet jouself eers liefhê voor jy iemand anders kan liefhê.”

Ten spyte van al die ander verhoudings en gelukkige huwelike wat die maatsoekreeks al opgelewer het, glo Maritza dit is “hoogs onwaarskynlik” dat iemand in ’n televisieprogram “ware liefde” kan vind.

“Dit is seker moontlik, ja, maar dit is bitter moeilik.

“Want die oomblik wanneer daardie kameras afgesit word, sit jy met ongemaklike stiltes. En as jy ’n beroepsvrou is, hoort jy beslis nie op ’n plaas nie,” meen sy.

’n Uur nadat ons gegroet het, stuur sy ’n teksboodskap: “Ek glo ek was in ’n ­stadium baie lief vir Gert. Maar ons het mekaar ongelukkig maar net ontgroei.”

En nou plant sy haar koring eerder op ’n plek waar dit sonder hom kan groei.

Wat sê Gert?

Gert beskryf Maritza se bewerings as “belaglik” en “onwaar”.

“Ek het nooit in die pad van haar loopbaan gestaan nie; enige boer droom van ’n vrou met ambisie wat haar drome najaag,” sê hy by navraag.

Hy sê hy is nie spyt hy het Maritza gekies nie, want uit hul huwelik het hulle ’n dogtertjie gekry waarvoor hy “lank gebid het”.

Gert was intussen in twee ander verhoudings, maar het tans nie ’n vrou in sy lewe nie. Hy sê hy bid dat “die regte een” sy pad kruis.

“Ek het maar net besef Maritza is eerder ’n stadsliggiemens as ’n plaasmens,” sê hy.