Sy het in ’n restaurant op haar skootrekenaar sit en werk toe haar selfoon lui. Maar toe sy die naam op die skermpie sien, wou sy eers nie antwoord nie.

Die beller was immers die 56-jarige Marita Schoombie, die eerste van die drie vroue wat die omstrede boer Johan van Boer Soek ’n Vrou-faam gevra het om sy plaas op Carolina, Mpumalanga, te verlaat.

Sy wat Marilyn van Droogenbroeck is, het ná die laaste seisoen van kykNET se werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou selde kontak met Marita gehad. En veral nie nadat Marilyn vir Johan Uys (61) ná hul kortstondige verhouding in sy maai gestuur het nie.

‘Toe het ek haar vertel wie en wat Johan werklik is’

Sy het hoogstens so af en toe ’n WhatsApp-boodskap met Marita en Marinda, die derde vrou wat op Johan se plaas was, gedeel. Maar toe lui die foon daardie middag in die restaurant en so half teen haar sin het die 44-jarige Marilyn, ’n rekenmeester, geantwoord.

“Marita wou my laat weet sy en Johan het saam gaan koffie drink,” vertel Marilyn oor ’n koppie koffie in haar luukse meenthuis in Fourways.

“Toe het ek haar vertel wie en wat Johan werklik is.”

Maar toe Marilyn haar oë uitvee, lees sy in die media die nuus oor Johan en sy nuwe liefde, die einste Marita. Boer Johan het vroeër aan Huisgenoot gesê hy het Marita op 5 November verlede jaar, ’n volle vier maande nadat hy haar van sy plaas af weggestuur het, gevra om “sy girl” te wees.

Nadat Johan en Marita se verhouding bekend geword het, was foto’s te sien van dié twee waar hulle soen, hande vashou en saam lag. Dit ten spyte van wat Marilyn vir Marita vertel het.

“Ek was so geskok. Hy het haar dan heel eerste huis toe gestuur,” sê Marilyn. Of sy nou geskok was of nie, sy lag vandag alte lekker oor dié TV-liefdeskraaines. “Johan het nadat hy haar huis toe gestuur het vir my en Marinda vertel hoewel hy goed met Marita oor die weg gekom het, hy nie romanties aangetrokke tot haar gevoel het nie.

Marinda (links), Marita en Marilyn is ver­lede jaar na Johan se plaas genooi. Foto: kykNET

“Dis hoekom ek so verbaas was oor die verhouding.”

Sy en Johan het ’n verhouding gehad, maar dit was van korte duur en hy het haar later op WhatsApp geblok. En skaars vyf maande nadat Johan en Marita openlik oor hul verhouding gesels het, blyk dit hulle is nie meer bymekaar nie.

“Ek het Marita indirek probeer waarsku, maar wou nie die indruk wek dat ek Johan wil terug hê nie,” vertel Marilyn. “Ek het eintlik verwag die verhouding gaan nie uitwerk nie. Ek het nie jammer gevoel vir haar toe ek hoor die verhouding het geëindig nie.

“Kyk, dis nie lekker wanneer ’n verhouding nie uitwerk nie, maar ons het ’n uur lange gesprek gehad, vrou tot vrou. Ek het haar alles vertel, maar sy het net voortgegaan.”

Boer Johan het haar so sleg behandel, “ek wil hom nooit, ooit weer sien of van hom hoor nie”, vertel Marilyn. Nadat Johan in die reeks aanvanklik vir Marilyn bo Marita en Marinda gekies het, was sy en Johan “net twee dae saam”, sê Marilyn.

Marita en boer Johan. Hy het nog in Februarie vertel hy het by haar liefde gevind. Hul verhouding het nou verbrokkel. Foto: Rowyn Lombard

Hulle het reeds voor die TV-boere se reünie uitgemaak. Dit is juis oor Johan se optrede teenoor haar in hul vlietende verhouding dat sy gevoel het sy moet Marita waarsku.

Sy en die “geselserige” Marita het immers vroeg in die program goed oor die weg gekom. Sy het gedink omdat Marita nie ver van haar af woon nie, sou hulle ná die program vriendinne kon wees.

“Ons het lekker gesels en gekuier. Maar dit was ’n kompetisie. Elkeen wou tog die boer se hart wen,” sê Marilyn. Maar teen die tweede dag van vervaardiging het hulle ál minder met mekaar gepraat omdat elkeen Johan se hart probeer wen het. Sy vertel Marita het lekker met Johan flankeer.

“Ons het almal van hom gehou.” Hy het glo te midde van dié wedywering ewe veel aandag aan albei probeer gee, veral in hul kort tydjie saam op die plaas. Maar nadat Johan Marilyn gekies het, was die maanskyn en rose gou verby.

Hy was te dominerend na Marilyn se sin. Die laaste strooi was toe hy ’n uur laat opdaag vir ’n afspraak met Marilyn se ouers, glo omdat hy eers wou mediteer.

Eindelik het sy een oggend omstreeks tweeuur vir hom in ’n WhatsApp-boodskap gesê sy sien nie meer kans vir die verhouding nie. Hierna het Marilyn min kontak met Marita gehad, vertel sy.

Toe kom daardie oproep in Oktober in die restaurant. “Marita het die oproep ernstig begin en vertel sy en Johan het gaan koffie drink. Dit was asof sy haarself aan my probeer verduidelik het,” sê Marilyn.

“Sy het spesifiek vir my gesê haar mond het oopgehang toe Johan van my praat. Ek het haar nie eens gevra wat hy alles gesê het nie. Hy het my al so seer gemaak.”

In die lang gesprek het Marilyn haar eie ervaring met die boer met Marita gedeel. “Ek het ook vir haar gesê hoe hy my ma en die televisieproduksiespan gekontak het om my naam te beswadder. Hy het my so sleggesê, die see sou my nie kon afwas nie,” vertel Marilyn.

“Ek het vir Marita gesê hoe hy vir my ouers gejok het deur te sê ek was toe reeds by ’n ander man betrokke.” Soos dikwels tydens die gesprek lag sy weer lekker oor alles.

“Ek het vir haar vertel van my en Johan se afspraak waar hy die hele aand op sy foon deurgebring en my geïgnoreer het.” Marilyn het daarna Marita se selfoonnommer van haar foon afgevee. En nou is Marita weer enkellopend.

Net soos Marilyn.

Ja, sy soek steeds liefde, erken Marilyn nou. Ná verlede jaar se Boer Soek ’n Vrou het Marilyn ook haar soektog na ’n maat na die TV-program Wie’s Jou Liefie op VIA geneem. Maar sy het ook daar nie geluk gevind nie.

So vier maande gelede het sy ’n man met “mooi oë en ’n groot glimlag” ontmoet. “Hy het my hart vinniger laat klop, maar dié verhouding het ook nie uitgewerk nie.” Hulle is wel nog vriende.

“Ek het nog nie die regte een ontmoet nie,” sê Marilyn. Sy gaan wel soms op afsprake. Sal sy Johan weer ’n kans gee? Marilyn lag hardop en dink ’n rukkie voor sy antwoord.

Foto: Dino Codevilla

“Ek dink Johan weet self nie wat hy wil hê wat vroue betref nie. “Ek wil Johan nooit weer sien nie. Ek wou dinge aanvanklik uitpraat. Maar dit is alles nou in die verlede. Ek het daardie deur toegemaak, gesluit en die sleutel weggesmyt.”

Marilyn sê sy is steeds hoopvol om haar groot liefde eendag te ontmoet. “Hoe ouer ’n mens word, hoe moeiliker raak dit om iemand spesiaals te ontmoet. Ten minste weet ek wat ek nie wil hê wat liefde betref nie.” 

  • Marita het kort voor druktyd nog nie gereageer op Huisgenoot se boodskap oor die gesprek tussen haar en Marilyn nie, hoewel sy ons boodskap gelees het.
  • Johan het nie Huisgenoot se versoeke vir ’n onderhoud of kommentaar beantwoord nie en drie joernaliste van Huisgenoot op WhatsApp geblok toe hulle hom om kommentaar nader.