Gebroke hart? Nie sy nie. Sy moes immers al baie groter terugslae as ’n mislukte romanse met ’n TV-boer in haar lewe oorkom.

Op dié einste rusbank in haar Krugersdorpse woonstel waar Marita Schoombie (56) nou so lekker lag, het sy vroeër vanjaar knus langs Johan Uys (61) van Boer Soek ’n Vrou-faam gesit toe die twee vertel het hulle is smoorverlief en in ’n verhouding.

Destyds het Johan, ’n beesboer van Carolina in Mpumalanga, vertel Marita is “die wonderlikste vrou van my drome”. Maar haar verhouding met dié omstrede beesboer – wat kykers laat mor het oor sy houding jeens die vroue op soek na liefde – was vlietend.

’n Paar maande nadat Johan Marita gevra het “om sy girl te wees”, was als verby.

“Ek het nog nie een traan oor hom gestort nie,” beklemtoon die pragtige donkerkopboekhouer.

“Johan is ’n nice mens. Ek wil hom nie afkraak nie, maar mense moet my nie jammer kry nie; my hart is nie gebreek nie.”

Hulle het net te veel verskille gehad, verduidelik sy. En dan was daar die “onderonsie” in Desember ná die Oppiplaas-fees in Badplaas toe hy haar beskuldig het van dronkenskap – nes hy Christa, wat ook vir die TV-reeks ingeskryf het om hom te ontmoet, van sy plaas af weggestuur het.

“Ek weet nou hoe verneder Christa moes gevoel het,” sê Marita.

“Maar ek het vrede in my hart. Ons het mekaar nie eens so gereeld gesien nie.”

‘Ek weet nou hoe verneder Christa moes gevoel het’
Marita en Johan het in Januarie van hul romanse vertel.

Die aanslae van die lewe het haar sterk gemaak. Sy het borskanker oorwin. Selfs erger as haar stryd met dié siekte was die dood van haar 31-jarige dogter, Charlene Leeson, aan dieselfde siekte twee jaar gelede.

“Ek het die laaste jaar van haar lewe my dogter gesien ly. Maar nou is sy sonder pyn,” sê sy.

Ná hierdie beproewings verknies sy haar nie oor onbenullighede nie. En nee, sy was nog nooit spyt oor haar deelname aan Boer Soek ’n Vrou nie.

Marita se woonstel bied ’n panoramiese uitsig op die groen landskap noordoos van Krugersdorp. Jy kan jou amper verbeel jy kyk uit op ’n beesplaas buite Carolina. Maar Marita se gedagtes reis op veel donkerder paaie as die een na boer Johan se opstal.

Die eerste familietragedie was in 2007 toe haar suster Wilma (36), ’n epilepsielyer, dood is nadat sy in die stort geval het. In 2013 het Marita borskanker opgedoen en moes sy ’n dubbele mastektomie ondergaan. In dié tyd was haar seun, Gregory (nou 30), ’n jaar lank bedlêend ná ’n motorfietsongeluk. Hy het herstel, maar het groot skade oorgehou en loop moeilik.

Marita se gedagtes reis op veel donkerder paaie as die een na boer Johan se opstal.

In 2015 is Marita se broer, Ikey (57), ook aan borskanker dood. En Charlene is in 2016 weggeruk. Marita, wat al twee keer getroud was, was besig om die teleurstelling van ’n verbreekte verlowing te verwerk toe kanker in 2014 by haar dogter gediagnoseer word.

“Ek het in daardie tyd my onderneming, my kar en my blyplek verloor. Maar ek sê dankie, want die laaste twee maande van my dogter se lewe was ek dag en nag by haar,” sê Marita.

Die kanker het na Charlene se lewer en brein versprei.

“Op die laaste, toe hulle my bel, het ek gedink: Het ek haar nou dood gebid? Want ek het daardie dag gehuil voor die Here: Ek het gebid dat ek nie meer my kind so moet sien ly nie.”

Hoe lyk sy so vreugdevol en vredig ná al die trauma?

“Dit kom van die Here. Ja, ’n mens is gelukkig in ’n oomblik of ’n tyd lank. Maar dit is van korte duur. Omdat ek binne my ’n gelukkige mens is, kyk ek glad nie na my omstandighede nie.”

Dis hoekom sy kan aangaan ná Johan. Hulle was maar vyf maande saam voor hulle in Maart vanjaar uitmekaar is. Die twee het die einde van hul verhouding eers stilgehou, maar dit het onlangs op die lappe gekom.

Sy het hom verlede jaar vir koffie genooi vier maande nadat hy haar op die program van sy plaas af weggestuur het.

Johan het in die reeks Marinda (links) en Marita huis toe gestuur en Marilyn (regs) gekies.

Johan se romanse met Marilyn van Droogenbroeck (42), vir wie hy op die program gekies het, was toe verby. En ja, sy het Marilyn daarna gebel om haar te vertel sy en Johan sien mekaar, maar Marilyn het nie die oproep beantwoord nie.

Marilyn het later teruggebel om haar teen Johan te waarsku. Maar sy het Marilyn nog nooit werklik vertrou nie, vertel Marita, al het hulle op die plaas oor die weg gekom. Sy het getwyfel oor Marilyn se motiewe met haar deelname.

“Marilyn het tydens haar oproep gesê ek moet weet als wat Johan oor haar sê, is leuens. Hoe kon sy weet wat hy vir my sê?”

Daar was goeie tye saam met Johan, vertel sy nou. “Hy kan die lekkerste kos maak.”

Maar hy was altyd besig en in vyf maande was sy net drie keer op sy plaas. Die tweede keer, in Desember, het dinge versuur. Sy en Johan is op 28 Desember na die Oppiplaas-musiekfees by Badplaas.

“En natuurlik het almal my en Johan herken en ’n groot fuss gemaak,” vertel sy. Johan het vir haar drankies aangedra.

“Ek was nie dronk nie, dalk effens tipsy, maar nie dronk nie,” sê sy heftig. Toe ’n bakleiery onder feesgangers uitbreek, het Johan gebrul: “Kom, ons moet gaan; ons kan nie hier betrokke wees nie.”

Johan praat van liefde, maar hy wys geen liefde nie. In die publiek sou hy soms my hand vashou of ’n piksoentjie gee, maar ek dink dit was vir publisiteit.

“By die huis is ek na my kamer toe en hy na syne. Toe vra hy of hy kan inkom,” vertel sy.

Sy sê Johan het ’n skêr by hom gehad waarmee hy die Oppiplaas-toegangsbandjie vir die volgende paar dae van die fees van haar gewrig afgeknip het. Hy neem haar die volgende dag huis toe, het Johan haar glo toegesnou.

“Ek wou weet: ‘Wat nou?’

Hy het gesê: ‘Jou tong het so geslur; jy was dronk.’ En ek het gedink: Maar ek was nie . . . Ek het daardie nag niks geslaap nie.”

Die volgende dag het Johan hom klaarblyklik bedink, want sy het nog ’n dag op die plaas gebly. Hy het glo later die dag vir haar gesê sy was “te vryerig”. Sy moes toe al die verhouding verbreek het, glo Marita nou.

“Johan praat van liefde, maar hy wys geen liefde nie. In die publiek sou hy soms my hand vashou of ’n piksoentjie gee, maar ek dink dit was vir publisiteit.”

En sy oggend- en aandpraatjies het verskil, sê sy. Een aand het hy in ’n teksboodskap gesê hy kan nie bel nie, die weer is te swaar.

“Die volgende dag het hy gesê hy is jammer hy kon nie praat nie, sy loseerder was by hom.”

Marita het haar ál meer onttrek en hulle het mekaar nog minder gesien. Dit was Johan wat haar in Januarie oorreed het om met Huisgenoot te praat. Sy was eers huiwerig.

“Hy wou weet: ‘Gaan dit steeds oor die Badplaas-storie?’ Toe sê ek vir hom: ‘Ja, my spontaniteit is weg.’ Ek het gevoel ek wil nie eens meer aan hom vat nie.”

Maar Johan het haar verseker hy is lief vir haar. Sy moet net haar kop regkry . . .

Dit was 3 Maart – nadat Marita uit haar werk as boekhouer bedank het – dat hy haar gelos het, vertel sy. Sy het weke tevore vir hom vertel sy wil vir haarself werk. “Ek was net nie meer gelukkig by my werk nie. Ek was moeg.”

Hy het haar gesteun – tot die eerste dag van haar nuwe lewe.

“Hy het gesê omdat ek my werk gelos het, beëindig hy die verhouding.”

“Ek was verlig dit was verby,” vertel sy. Maar drie weke later het Johan glo haar voormalige werkgewer gebel en dié vertel van die frustrasies oor haar werk wat sy vertroulik met hom gedeel het. Marita lag in ongeloof. Dit was die laaste strooi.

Ná als glo sy steeds sy sal die regte man ontmoet.

“Maar kyk, volgende keer sal ek die kat behoorlik uit die boom kyk.”

  • Huisgenoot het Johan om kommentaar genader, maar hy het nie oproepe beantwoord of op boodskappe gereageer nie. Hy het Huisgenoot se joernaliste se nommers op WhatsApp geblok nadat hulle Marita se bewerings aan hom gestuur het.
Foto's: Dino Codevilla, Rowyn Lombard, kykNET