Boer Kobus, wat met beeste en mielies boer, het ky
Boer Kobus, wat met beeste en mielies boer, het kykers verstom toe hy sy laaste twee kuiergaste huis toe stuur. Foto: Papi Morake

En daar bly die TV-boer oor wie kykers vanjaar die meeste gegons het toe droëbek in sy opstal agter. Sonder ’n maat, steeds stoksielalleen op ’n Saterdagaand. Maar dit was darem sý keuse – en dis nie een wat hy berou nie.

En waar boer Kobus van Zyl nou nader stap om te kom groet hier op sy plaas in Gauteng se Randfonteindistrik, lyk hy allermins bedroef. Trouens, die glimlag is breed en die groet net so verwelkomend soos die honde wat al rondom sy voete blaf: “Welkom hier!” 

Beteken daardie vonkel in die oog dalk alles was darem nie heeltemal verlore nadat hy sy twee laaste kuiergaste in Boer soek ’n vrou, Lynette en Maxie, sommer albei gelyk huis toe gestuur het nie? 

Lynette en Maxie hoor hulle moet albei huis toe ga
Lynette en Maxie hoor hulle moet albei huis toe gaan. Foto: Verskaf

“Kom ons sê maar net ek het wonderlike mense tydens die reeks ontmoet en ’n hele paar vriendskappe gesmee,” praat Kobus (53) die vraag met ’n laggie weg. Hm. Dié boer, wat 1,92 m lank is, lyk nie soos ’n ou wat verkleineer voel ná die intriges van sy liefdesreis voor die kameras nie.

Hy lyk vandag ontspanne en selfs meer bruingebrand as gewoonlik – pas terug van ’n maand lange vakansie op Hentiesbaai. Die vis het gebyt, en die asemskep het hom goed gedoen.

Hy doen dit elke jaar, maar dié keer was dit broodnodig ná ’n besonder bedrywige tyd. Benewens die boerdery met mielies en beeste moes hy ook voor Boer soek ’n vrou se kameras bontstaan. 

Dit maak my ongelukkig dat mense wat jou glad nie ken nie jou slegmaak. En hoekom my ma, wat reeds oorlede is, daarby insleep?

En toe die reeks uitgesaai is, het kykers hom behoorlik gebraai. Hy is onbeskof, narsisties, vol van homself, moes hy hoor. Hy is net ingestel op vroue se voorkoms, maak gewaagde grappe, soek net ’n trofeevrou en mors die vroue se tyd. Hy was maar alte bewus van dié kwetsende aanmerkings.

Hy lees een stukkie kommentaar op sy selfoon hardop voor: “ ’n Paar geraamtes in die kas, Kobus? Kyk, die oë is die vensters na jou siel, en ai, jy moet nog vrede maak met baie goedjies in jou lewe. Begin sommer by jou eie voordeur, jou eie ma. Sterkte, maar jy maak nie mooi nie.” 

Hy skud sy kop. “Dit maak my ongelukkig dat mense wat jou glad nie ken nie jou slegmaak. En hoekom my ma, wat reeds oorlede is, daarby insleep?” 

Nee, sê hy, al daardie dinge wat hom toegesnou is, is nie wie hy is nie. Ja, Michelle, een van die drie vroue wat in die reeks by hom kom kuier het, het die plaas huilend verlaat. En hy het Lynette en Maxie albei huis toe gestuur. Hy kon “nie tussen hulle kies nie”, sê hy. 

“En omdat ek respek vir hulle het, vir alle vroue, wou ek nie een van hulle aan ’n lyntjie hou en vals hoop gee nie. Hulle is albei oulik; die mans wat hulle kry, sal oulike vroue kry.” 

Kobus dra sy gaste se tasse motor toe. Foto: Versk
Kobus dra sy gaste se tasse motor toe. Foto: Verskaf

Die paar dae saam op die plaas was net nie genoeg tyd vir hom om die vroue goed genoeg te leer ken nie. “Ek het net nie gevoelens gehad wat sterk genoeg was nie.” 

Maar dis nie waar dat hy dinge nie ernstig opgeneem het nie. Hy het al liefde geken, en hy soek dit weer. Sy tweede huwelik het in die skeihof geëindig; sy eerste een het van hom, ná 27 jaar saam, ’n wewenaar gemaak.

Hy is nie gemaak om alleen te wees nie, sê hy. “Ek wil nie alleen oud word nie. Wanneer die son sak, wil ek ’n maatjie by my hê sodat ons mekaar kan bederf. Iemand om mee ’n glas wyn saam te drink, oor alles en nog wat te gesels en die lewe mee te deel. Dis die dinge wat ek mis.”

Sy dogter, Dulandi, is ook by die boerdery betrokk
Sy dogter, Dulandi, is ook by die boerdery betrokke. Foto: Papi Morake

Hier in die ruim plaashuis dra sy dogter, Dulandi (24), nou koeldrank aan. Met ’n diploma in vleisgradering is sy nes haar broers, Jaco (34) en Lenard (29), by die boerdery betrokke.

Sy was nog in matriek toe sy op 1 April 2014 langs haar ma, Melinda, se sterfbed moes staan. Kobus was op die lande toe sy vrou gesterf het. Sy was toe al 16 maande siek met long- en lewerkanker. 

“Sy het kort voor dit altyd gesê sy sal nie doodgaan voor sy haar eerste kleinkind vashou nie. Drie dae nadat Jaco se eersteling, Arlu, gebore is, het hy die seuntjie in haar arms kom sit. Twee dae later is sy dood,” onthou hy. 

“Ná my vrou se dood was dit veral die gemis tydens feestye soos Kersfees wat my die meeste gevang het. Dan raak dit maar alleen sonder die vrou aan wie jy so gewoond was langs jou. Sy was ook ’n voorslag in die kombuis en ek onthou veral die heerlike Kersgeregte wat sy berei het.

“My dogter sorg nou vir etes. Melinda was net so tuis agter die braaivleisvuur en ons het beurte gemaak om te braai. In 2012 was sy die wenner van Thys die Bosveldklong se TV-reeks Bring en braai,” spog hy.

Kobus het ná Melinda se dood weer getrou, maar hy en sy tweede vrou is ná twee jaar uitmekaar. 

“Hier was niks toe ek dit in 1997 gekoop het nie,” sê hy. Voor dit het hy sy pa, Hennie, twee jaar lank op sy plaas, ook in die omgewing, met sy boerdery gehelp. Maar met die nuwe eiendom op sy naam kon hy nie net op sy nuwe boerdery staatmaak nie.

Hy het gereeld skape en bokke in Kimberley en op Vryburg gaan aankoop wat hy dan in Soweto gesmous het, vertel hy oor daardie beginjare. Hy het ook beeste karwei wat mynwerkers na hul families in Transkei stuur.

Destyds moes hy ’n lening van R70 000 aangaan om sy eerste oes te plant. “Maar dit het nie so goed gegaan nie, en toe sit ek met die skuld. Die volgende jaar het ek ’n wins gemaak en van daar af nooit weer teruggekyk nie.” 

Sowat 300 beeste loop tans op Johan se plaas rond.
Sowat 300 beeste loop tans op Johan se plaas rond. Foto: Papi Morake

Buite wys hy die werf wat kykers leer ken het: Daar is die voerkraal waar hy Lynette en Maxie op sy trekker laat saamry het; ’n ent verder die einste kraal waar sy drie vrouegaste op hul eerste dag moes help beeste uitkeer – en waarvoor hy ook in die sosiale media pak gekry het.

Die Facebookkritici het ook losgetrek omdat hy op ’n keer aan die drie vroue ’n gebakte skaapkop vir ete voorgesit het.

“In die vroeë jare het boere skaapkop net vir hul spesiale gaste voorgesit,” vertel hy. “Ek sal darem wil hê my vrou moet eendag vir my afval kan berei.” 

Terug in die plaashuis dra Dulandi koue turksvye en vetkoek met maalvleis aan. In dié einste kombuis wil hy vorentoe weer ’n bottel wyn saam met ’n spesiale maat deel en tot diep in die nag hartsake praat, sê hy. Want ten spyte van hoe sy Boer soek ’n vrou-kaarte geval het, is hy steeds oop vir die liefde.

“Al wat ek wil hê, is ’n eerlike en opregte vrou. ’n Bok vir sports. ’n Vrou wat kan kos maak en by ander mense kan inpas.” 

En miskien, dink hy steeds, is dit nie te veel gevra nie. 

  • Inskrywings vir Boer Soek ’n Vrou 14 (2022) open op 15 April wanneer die huidige seisoen eindig.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe