Boer Niel Bruwer in die peerboord op die plaas bui
Boer Niel Bruwer in die peerboord op die plaas buite Prins Alfred Hamlet in die Warm Bokkeveld. Foto: Gallo Images/Corrie Hansen

Ná sy egskeiding drie jaar gelede moes hy ’n steil pad na genesing stap voor hy weer vir romanse kans gesien het. So vertel die aantreklike boer Niel Bruwer (33), een van die hubare vrygeselle om wie se hart die vroue meeding in die nuwe seisoen van kykNET se maatsoekprogram Boer soek ’n vrou.

“Daar was ’n tyd toe ek gesê het nóóit weer nie,” erken hy oor sy gevoelens ná die einde van sy huwelik van vyf en half jaar.

“Maar gelukkig genees tyd baie wonde. Ná ’n vakansie by sy broer in Duitsland, oorgee aan die trane met tye, en baie kilometers in sy drafskoene as terapie teen die seer, het hy stelselmatig weer die wêreld in perspektief begin sien.

“Ek het gekom op ’n punt waar ek besef het ek moet uit my foute en die proses leer om dalk vir iemand anders hoop te gee,” sê hy. “Ek het besef ek moet die pyn vat en dit in iets positief omskep. 

Jy voel humbled, want jy kry so baie briewe, maar eintlik soek jy net daai één brief . . .

“Nou is ek weer op ’n plek waar ek alles kan gee. Die drome en ideale wat ek 10 jaar gelede vir myself gehad het, lyk anders. Party goed word van jou af weggevat, maar jy kry iets beter in hul plek.” 

Ja, hy het op die nippertjie wik en weeg voor hy vir die gewilde maatsoekprogram ingeskryf het, maar hy was nog nie ’n oomblik daaroor spyt nie. 

En die donkerkopboer met die groot arms en breë borskas het die vroue se harte behoorlik laat klop. Hy het die meeste briewe van hoopvolle vryers gekry: 327 altesaam.

“Ek kon dit nie glo nie,” vertel Niel. “Ek was baie verbaas, want ek het nie gedink ek gaan deel van die topvyf wees nie. Jy voel humbled, want jy kry so baie briewe, maar eintlik soek jy net daai één brief . . .”

Tydens die verfilming van die program was hy vir die eerste keer in sy lewe in ’n posisie waar hy by meer as een vrou op ’n slag mag vlerksleep.

“Ons het soveel pret gehad op die plaas,” sê hy oor sy drie liefdeskandidate, Sheri (26), Monique (28) en Chereze (28) se kuier. 

Niel saam met die drie vroue wat vir hom op die pl
Niel saam met die drie vroue wat vir hom op die plaas kom kuier het. Van links is Chereze (28), Monique (28) en Sheri (26). Foto's: Verskaf

Maar, voeg hy by oor die balanseertoertjie tussen drie vroue, “dit was vir my verskriklik moeilik”.

Terwyl die reeks geskiet is, was Niel ’n plaasbestuurder buite Grabouw. Maar Huisgenoot kuier vandag by hom op ’n vrugteplaas in die Warm Bokkeveld buite Prince Alfred Hamlet, waar hy in Januarie begin werk het.

Hou jy op die werf stil, kom groet sy sjokoladebruin Labrador, Basjan, jou met die soort plaashondgeesdrif wat modderstrepe op jou broek laat. Die twee worshonde, Molly en Nina, is ook by, maar oudergewoonte is die stertswaaiende Basjan die ware hartedief.

“Hy was seker vier maande oud toe die meisies op die plaas kom kuier het,” vertel Niel. “Hulle was mal oor hom. Selfs die vervaardiger Berdene het hom in die bakkie gelaai wanneer sy êrens heen moes ry.”

Niel se hond Basjan was ’n groot gunsteling onder
Niel se hond Basjan was ’n groot gunsteling onder die vroue op die plaas. Gallo Images/Corrie Hansen

Boerdery is in Niel se bloed. Hy het op ’n skaapplaas buite Williston in die Karoo grootgeword.

“My oupa Louis, my pa se pa, het melkkoeie op die plaas gehad. Wanneer ek saam met hom gery het om vars melk dorp toe vat, het hy altyd vir my gesê: ‘Jy gaan op Grootfontein-landboukollege op Middelburg studeer, en jy gaan ’n boer raak.’ Dis toe ook wat gebeur het.”

Sy ouers, Wickus (63) en Surita (59) Bruwer, boer steeds daar, en die familie kuier saam wanneer hulle kan. Sy suster, Margaret Weideman (40), woon op Moorreesburg, en sy broer, Louis Bruwer (38), is in Duitsland. 

Niel vertel sy ouers was ondersteunend toe hulle hoor hy het vir die program ingeskryf, maar sy broer was skepties.

“Ek dink hy was bekommerd omdat ’n mens jouself blootstel. Hy is maar net beskermend, en ek dink hy was bang die proses doen meer skade as goed. ’n Mens weet mos nie hoe dinge gaan uitdraai nie.”

Niel is gasvry en staan altyd reg wanneer kos gema
Niel is gasvry en staan altyd reg wanneer kos gemaak en daar lekker gekuier word. Foto: Gallo Images/Corrie Hansen

Sy ouers se huwelik is vir hom ’n mooi voorbeeld. “Hulle is al 41 jaar getroud. Hulle is deur droogtes, skole, universiteite, my egskeiding, middeljare, en deur dit alles is hulle rotsvas.”

Niel het ná sy studie in 2008 vir die Griekwas rugby gespeel, maar moes begin werk om sy studieskuld af te betaal. Hy is na Williston toe terug, waar hy vir die koöperasie bemarking gedoen en geboer het. In September 2016 het hy Ceres toe getrek, en in 2020 het hy na Grabouw geskuif. 

Nog voor die skietwerk aan Boer soek ’n vrou behoorlik voltooi was, is hy die geleentheid gebied om na die Warm Bokkeveld te gaan. 

As ’n passievolle boer en iemand wat deur die meul van ’n egskeiding is, voel Niel hom geroepe om ander te help om bo hul omstandighede uit te styg. Hy probeer dit veral met die plaaswerkersgemeenskap vermag. 

Hy vertel dit kom eintlik al van sy universiteitsdae af.

“Ek het soveel ouens gesien met potensiaal wat dan met die verkeerde vriende deurmekaar raak en verkeerde keuses maak,” verduidelik hy. “Kyk, ek het ook aande gehad waar ek ’n lekker glas wyn of brandewyn-en-Coke gedrink het, maar dan het ek altyd geweet dit is nou klaar vir ’n ruk.” 

Dis dié groothartigheid wat veroorsaak het dat die blas jong boer so gesukkel het om twee van sy drie aantreklike kuiergaste huis toe te stuur. 

“Dit was vir my so lekker omdat ons so lekker oor die weg gekom en pret gehad het. Maar o, liewe jimmel, ek was gestres voor hulle gekom het. Ek wou hê alles moes reg wees, maar ek het gou besef ek gaan nie beheer hê oor die hele besigheid nie.”

Hy beskryf Monique as die moederhen van die groep, terwyl Chereze neutraler is en Sheri die ekstrovert wat maklik ’n partytjie aan die gang kan kry. Hy het probeer om nie sy voorkeure te verklap nie en om aan almal ewe veel aandag te gee. 

Hy is vol lof vir al drie vroue. “Ek sou hulle weer kies. Ons het eintlik ’n ongelooflike lekker week gehad.”

Niel roei saam met die vroue op 'n dam tydens hull
Niel roei saam met die vroue op 'n dam tydens hulle besoek op die plaas. Foto: Verskaf

Toe ons groet, kom druk die hartedief Basjan ook sy snoet by die motordeur in, so asof hy jou wil vra om te bly. 

Die vriendelike, sagmoedige Labrador het duidelik die aandag van al die vroue op die plaas geniet, maar vir eers moet hy nog sonder ’n mensema saam met Niel op die plaas agterbly.

Maar dis duidelik sy baas is ewe gereed dat die sagter hand van ’n vrou die werf moet kom regeer. Iemand wat Niel se avontuurlus deel, wat gemaklik is in haar eie vel en gelukkig is met wie sy is.

“Ek is nou op ’n plek waar ek weer alles vir iemand kan gee. Dit voel of ek weer kan werk en veg vir iemand se welstand en menswees,” vertel Niel oor die nuwe pad wat hy ná sy lang genesingsreis wil stap.

Wie die vrou is wat die hardste aan die deur van sy hart klop, sal kykers nog moet wag en sien. En of hulle eindelik hul skapies saam in een kraal sal jaag, wel, dit sal net die toekoms leer.