Sy het van meet af aan die tonge laat klap toe sy een van die Boer Soek ’n Vrou-deelnemers aan die 11de reeks van die seisoen se hart aansienlik vinniger laat klop het, sommer in Engels en in Afrikaans deurmekaar.

Op 21 Januarie vanjaar het die jong boer Réan (27) van Groblershoop in die Noord-Kaap sy verhouding met Rox-Zee (27), ’n skoonheidsterapeut van Hillcrest buite Durban, Facebook-amptelik gemaak, kort nadat dit gegons het omdat Rox-Zee haarself in Engeland bevind het.

Réan, tot oor sy ore verlief op die sprankelende meisie, was gou om almal reg te help: “Sy het net ‘an bietjie gaan kuier, die vliegkaartjies is reeds lank gelede gekoop.”

Boonop het hy in Januarie vanjaar aan Huisgenoot erken hulle twee is reeds van Julie-maand in ’n vaste verhouding. Dit moes egter eers dig gehou word om nie die kykers se genot te bederf nie.

Réan het pront aan Huisgenoot erken dat Rox-Zee reeds sy voete onder hom uitgeslaan het toe sy die eerste keer tydens hul blitsafspraak by die deur ingekom het.

“Sy was die mooiste meisie wat ek al ooit in lewende lywe gesien het,” het hy oor die pragtige blondine geswymel.

Natuurlik was Rox-Zee nie onaangeraak deur die grapmaker-boer se persoonlikheid nie. Op die rit terug nà daardie eerste ontmoeting het sy vir die ander in die bussie gesê sy het haar trouman gevind.

En Sondag was dit die regte oomblik om die verhouding tussen hulle nog 'n stap verder te neem, dié keer met 'n ring.