’n Knoets van ’n diamant blink aan die mooi blondekop se ringvinger en sy is styf in die waai van die lang boer se arm gewikkel. Hulle koer behoorlik vir mekaar.

Loer jy op hul sosialemediaprofiele na al die foto’s van die gewilde Boer Soek ’n Vrou-deelnemer Réan Clasen (27) en sy Rox-Zee Veldhuizen (27), kan jy sien dié pas verloofde paartjie het die skoot hoog deur.

“Rox is amper vir my so lief soos vir haar ring . . . Nou moet ek seker vir jou oorbelle spaar?” skerts die TV-boer by een van die Instagramfoto’s.

Sommer vroeg in die 11de seisoen van die gewilde kykNET-maatsoekreeks was daar al ’n vonk tussen Réan, ’n boer van Groblershoop in die Noord-Kaap, en Rox-Zee, ’n skoonheidsterapeut van Hillcrest buite Durban.

‘My raad is om jou nie aan die kommentaar te steur nie’.
Dié gewilde paartjie het mekaar in die afgelope Boer Soek ’n Vrou-seisoen ontmoet.

Ná hul eerste ontmoeting tydens die blitsafsprake het Réan kykers laat skater toe hy blosend sê: “Sy is mooi, maar sy is Engels!”

Die spitsvondige boer was gou ’n gunsteling onder kykers, wat dié twee se liefdespaadjie week ná week met belangstelling dopgehou het.

Nou, net ’n paar maande later, is Réan en Rox, soos hy haar noem, op pad kansel toe.

Die huweliksklokkies het ook al vir ander pare gelui wie se paaie danksy Boer Soek ’n Vrou gekruis het. Huisgenoot het by van hulle gaan hoor wat Réan en sy Rox alles kan verwag en watter raad hulle vir die verloofde paartjie het.

Hennie & Jacobu Lötter

Min mense sou aan die begin van die 2016-seisoen van Boer Soek ’n Vrou kon raai dat dié twee by mekaar sou beland. Hennie (28) en Jacobu (24) het nie voor die kameras liefde gevind nie, maar mekaar agter die skerms by die reünie-episode beter leer ken nadat sy aanvanklik vir ’n ander boer geskryf het.

Die liefde het toe gou geblom. Hulle is in Oktober 2017 getroud en het onlangs die dorre Karoo vir die kusdorpie Stilbaai verruil, waar Hennie ’n eiendomsagent is en Jacobu skoolhou.

Die Lötters se raad is om die jong getroude lewe te geniet.

Hennie raai Réan en Rox-Zee aan om soms selfsugtig te wees met hul tyd, veral wanneer dit by aanhangers kom, want as jy eers in die kollig was, onthou kykers jou.

“Wees maar altyd op ’n drafstappie sodat as iemand jou voorkeer jy vriendelik maar ferm kan sê jy moet nou gaan,” sê hy. Tog beskou die egpaar hul deelname aan Boer Soek ’n Vrou as ’n seën en waardeer hulle dit wanneer mense hulle op straat herken en geselsies aanknoop.

“Dit hang als af van jou uitkyk op die lewe. Jy moet goed in ’n positiewe lig sien.”

Hennie vertel hy en Jacobu moes tot dusver al ’n paar aanpassings maak, soos toe sy plaas toe getrek het en weer toe hulle verlede jaar Stilbaai toe verhuis het, maar hul verhouding het deurgaans hul prioriteit gebly.

“Stel mekaar se belange altyd eerste en maak tyd vir mekaar. ‘Huwelik’ is ’n werkwoord, maar ’n lekker een,” skerts hy.

“Geniet die lewe. Daar is oorgenoeg tyd om eendag ernstig en ‘groot’ te wees. Doen nou soveel goed moontlik saam en geniet mekaar,” sê hy.

Gerrie & Carna Rossouw

Gerrie (35) en Carna (26) het mekaar in 2014 tydens die sewende seisoen ontmoet en in 2015 getrou. Hulle het al ’n dogter, Sanri (18 maande), ryker geword. Die gesin woon op ’n plaas by Bothaville in die Vrystaat waar hulle met mielies, sojabone en beeste boer.

“Bly jouself, en onthou, julle is net nog ’n normale paartjie,” is Gerrie se raad aan Réan en Rox-Zee. Die ophef ná ’n romanse voor die TV-kameras is aanvanklik groot, vertel die vriendelike boer, maar ’n mens se lewe gaan later weer gewoonweg aan.

“Aan die begin vra mense ’n foto saam met jou en gee hulle sommer ook huweliksraad, maar mettertyd verdwyn dié aandag,” sê hy.

Carna vertel hoe ’n kyker hulle vroeg in hul verhouding trompop geloop het terwyl hulle saam Kersinkopies gedoen het.

Gerrie en Carna sê ’n mens moet jou voete net stewig op die grond hou.

“Die seisoen was lankal klaar geskiet, maar op TV was daar nog twee meisies wat by Gerrie op die plaas gekuier het. Sy het gesê ek kort ’n klap omdat sy ons saam gesien het, en ek het dit vir almal bederf. Mense vergeet ons leef ook in die regte wêreld en dat alles nie om die program draai nie.”

Dié aandag waai wel oor, sê sy. “Réan en Rox-Zee moet maar besluit hoeveel van hul lewe hulle privaat wil hou. Ons was oop oor ons verhouding, maar later gaan jou lewe soos vroeër aan.

Mense sal net altyd vra: ‘Waarvandaan ken ek jou?’ ” sê sy. Een van die lekkerste dinge van ’n romanse wat in Boer Soek ’n Vrou begin het, is die opwindende storie wat Rox-Zee-hulle eendag vir hul kinders kan vertel, sê Gerrie.

“Ons het later uitgevind ons oumas ken mekaar baie goed, en tog het ons mekaar in die reeks ontmoet. Dit het uitgewerk soos dit moes.”

Nog ’n lekkerte daarvan om met ’n boer te trou is dat jy jou kinders op ’n plaas kan grootmaak. Gerrie sê hulle voel geseënd dat Sanri op die plaas kan grootword.

“Haar tone is wel heeltyd nerfaf, maar sy is bang vir geen dier nie en kan hier regtig kind wees,” sê hy.

Tickey & Selmé-Louise van Wyk

Tickey en Selmé-Louise het mekaar in die eerste seisoen in 2008 ontmoet en diep in kykers se hart ingekruip. Vandag is hulle al 10 jaar getroud en het hulle ’n seuntjie, George (8), en ’n dogtertjie, Malea (3).

Die gesin woon op Loxton in die Noord-Kaap. “Die grootste uitdaging is wanneer ek vies is vir my man of my kinders wil pak gee en iemand my dan herken. Dan moet ’n mens besluit of jy jou pose gaan hou of nie!” skerts Selmé-Louise oor die lewe ná die reeks.

“Aan die begin het ek en Tickey maar harde klippe gekou, want ons het mekaar kort geken. Ek dink ons het effens geskrik toe alles ’n bietjie bedaar en ons besef: Oukei, nou moet ons dit laat werk. Dis eers dan dat ’n mens mekaar regtig leer ken.’’

Paartjies moet hulle nie aan negatiewe kommentaar steur nie, is Selmé-Louise en Tickey se raad. By hulle op die foto is hul kinders, Malea en George.

Selmé-Louise sê hulle is dankbaar hulle was op die kassie in die dae voor die sosiale media waarin soms bitsig kommentaar gelewer word.

“My raad aan vandag se paartjies is om hulle nie aan die kommentaar te steur nie. Dit gaan altyd daar wees,” sê sy. “Dit het my veral gepla wanneer mense sommer uit die staanspoor sê ons huwelik gaan nie werk nie. Mense spreek dié ding maklik oor jou uit.”

As dit met Réan en Rox-Zee gebeur, moet hulle sterk staan, is haar raad. “Dan kan hulle later, wanneer hulle al ’n pad saam gestap het, sê: ‘Whê, sien julle, ons werk!’ ”

Ná ’n dekade saam vergeet sy en Tickey soms dat hulle voor die kykers se oë verlief geraak het. Tog sal hulle die reeks ewig dankbaar bly.

Dan vra sy: “Hoe anders sou ’n onderwyseres van Nelspruit ’n boer van Loxton ontmoet het?”

Vanjaar se top-10-boere word in Mei op kykNET bekendgestel, waarna hoopvolle pasmaats aan hulle kan skryf. Die nuwe seisoen word van Oktober af uitgesaai.