Die paartjie kan hul hande nie van mekaar afhou nie. Eers vee boer Hentie, van die kykNET-reeks Boer soek ’n vrou, die hare van Hantie se skouers af, en dan rus sy haar hand sagkens op sy been.

Foto: Corrie Hansen
Hentie steel ’n soen. Foto: Corrie Hansen

Tussendeur kyk hulle liefdevol na mekaar. Dis ’n volmaakte prentjie van twee verliefdes. Maar dit was so hittete of dinge het anders vir dié rooibosboer van die Sandveld en die vrou aan sy sy uitgewerk.

“Ek kry hoendervel as ek daaraan dink dat sy dalk nie nou hier langs my sou wees nie,” vertel die 51-jarige boer en deelnemer aan die 12de sei-soen van dié maatsoekreeks.

“Kyk hoe slaan die goosebumps aan jou bene uit,” merk Hantie (48) op en vryf dit weg.

Sy lyk koel en elegant in ’n wynrooi bloes op ’n snikhete dag. By die tuintafel waar ons sit, bied die skaduwee genadiglik lafenis.

Met ons vorige besoek aan die plaas buite Clanwilliam was die verfilming van die werklikheidsreeks al afgehandel, maar die kykers was nog in die duister oor of Hentie vir Hantie of Hester sou kies om langer by hom te kuier.

Toe het die boer met ’n vonkel in die oog verklap: “Daar is ietwat van ’n twist.”

Boer Hentie en Hester. Foto: kykNet
Boer Hentie en Hester. Foto: kykNet

Kort daarna kon die kykers sien hoe Hester vir Hentie en die aanbieder van die program, Leah, sê sy wil huis toe gaan – nog voor Hentie sy keuse kon maak.

Hy het daarna reguit na Hantie in ’n ander kamer gegaan en ruiterlik erken dat hy Hester sou kies, vertel Hentie nou.

“Ek het vir haar gesê dit was nie omdat sy nie goed genoeg is nie. In daardie stadium het Hester vir my meer gewys. Ek het gedink sy sou eerder wou bly en sal beter op die plaas aanpas.”

Hoewel die situasie nie vir Hantie ideaal was nie, het sy Hentie se eerlikheid waardeer en tog besluit om te bly.

“Dit het vir ’n rede gebeur, en ons gaan uitvind wat daai rede is,” het sy toe voor die TV-kameras gesê.

Toe Hentie daarna by haar in Pretoria gaan kuier, het dinge “begin vlam vat”, sê hy, en teen die tyd dat hulle saam met die ander boere en hul pasmaats vakansie gaan hou het, was die koeël deur die kerk.

Vier maande ná die verfilming borrel die twee behoorlik noudat die laaste episode van die reeks uitgesaai is, en Hester is lankal vergete . . .

En dié keer kuier Hantie nie net op die plaas nie; sy het in Desember sak en pak uit Pretoria hierheen verhuis om by Hentie te wees.

Nou sit hulle elke aand buite met ’n glas wyn of gin-en-tonic, steek soms ’n braaivleisvuur aan en gesels oor die dag se gebeure, die lewe en hul toekoms saam. Sy glimlag en kyk weer na haar boer.

Dan koer sy: “Die gevoelens raak by die dag sterker. Ons raak ál erger oor mekaar.”

Terwyl Hentie bedags doenig is as bestuurder van die Elandsberg-teeverwerkingsaanleg wat van Groenkol Boerdery deel is, werk Hantie op Clanwilliam as ’n boedelberedderaar by ’n prokureursfirma.

Sy het maar pas daar begin en vertel dit was uitputtend om haar voete in die nuwe omgewing te vind. “Maar die mense op die dorp is so mensliewend, gaaf en ondersteunend; dit help baie,” sê sy.

En Hentie het op haar eerste dag vir haar ’n yslike bos blomme by die kantoor laat aflewer met ’n briefie daarby wat lui: “Lekker werk, liefie.”

Toe sy in November seker was sy en Hentie gaan ’n pad saamloop, het Hantie oor Clanwilliam en rooibosteeboerdery begin oplees.

Die rooibosteeboer koel af in die jacuzzi op die plaas buite Clanwilliam in die Wes-Kaap waar hy as bestuurder vir die Elandsberg-­teeverwerkingsaanleg werk. Foto: Corrie Hansen

Iemand stuur toe vir haar ’n WhatsApp-boodskap oor ’n vakature by die prokureur op die dorp.

Sy het gebel en hulle het haar vir ’n onderhoud genooi. “Toe ek die werk kry, was dit vir my ’n teken,” vertel sy.

En dis vir haar heerlik om saans terug te kom plaas toe.

“Omdat ek my naels verf en grimering aansit, het mense gedink ek sal nie op ’n plaas aard nie. Ek kén plaas. Voor my egskeiding het ek op ’n plot naby Rustenburg gewoon waar ons ook geboer het.

“Ek tof net op wanneer ek op die dorp gaan werk. Hier op die plaas sal ek ou klere en tekkies aantrek om Hentie te gaan help om met die skaap te werk,” vertel sy.

Benewens die verwerking en verpakking van rooibostee boer Hentie ook met ’n paar beeste en skape.

Sy werkgewer en sy gesin emigreer binnekort na Nieu-Seeland, maar vir Hentie sal alles hier soos gewoon aangaan. Hantie het besluit om vir Boer soek ’n vrou in te skryf nadat ’n profeet by haar Pinksterkerk in November 2018 vir haar gesê het die Here sien sy het ’n lang lys dinge wat sy wil afmerk.

“Hy het gesê ek moet dit weggooi. Die Here sal self ’n konneksie vir my met iemand laat gebeur.”

Toe hoor sy in Mei verlede jaar in die advertensie vir die reeks dat Hentie, nes sy, 23 jaar getroud was voor hy geskei is, twee kinders het en twee jaar lank in ’n verhouding was wat nie uitgewerk het nie.

Sy het net daar besluit om in te skryf. “Ek wou nie dadelik voor die kameras oopmaak nie,” sê Hantie.

“Want dit was in die Here se hande of die konneksie wat Hy beloof het inderdaad met Hentie is.”

Op sy beurt het Hentie ook gebid. “Dinge het uitgewerk soos dit moes,” sê hy.

“Ja, ek het die eerste prys gewen!” meen Hantie.

Boer Hentie en Hantie. Foto: Corrie Hansen
Boer Hentie en Hantie. Foto: Corrie Hansen

“Ag toggie,” sê Hentie en lag skugter.

Al wou sy aanvanklik – nadat Hester van die plaas weg is – nie eens aan sy hand vat nie, erken Hantie hy het haar hart begin wen toe hy kort ná haar plaasbesoek vir haar ’n roerende brief geskryf het oor hoe hy haar op die plaas mis.

“Eers wil ek hartseer word oor jou afwesigheid, maar ’n traan van dankbaarheid rol oor my wang en ek besef jy het my so diep geraak en dat jy reeds ’n stukkie van my hart saam met jou geneem het,” skryf hy in dié brief.

“Dit het my hart aangeraak. Hy is eintlik baie diep,” vertel Hantie.

Hy is maar net te dankbaar vir hoe dinge uitgewerk het, sê Hentie, wat vir die reeks ingeskryf het omdat hy te eensaam begin raak het hier op die plaas.

Dan vertel hy: “Ons ontdek voortdurend meer van mekaar en geniet die nuutgevonde liefde.”

Die Boer soek ’n vrou-ervaring was vir hulle albei ’n goeie een – ’n “lekker journey”, noem Hentie dit.

En hulle hoop nou hul storie van liefde in die middeljare kan hoop gee aan ander wat ook daarna soek.

Hul kinders – Hantie se seun, JD (28), en dogter, Janneke (25), en Hentie se dogters, Charlise (25) en Delanie (22) – het hul ouers se deelname aan die program van die begin af ondersteun en staan nou ook vierkant agter die paartjie.

Vra jy die twee verliefdes of ’n boeretroue in die nabye toekoms wink, is hulle dit eens: Hul kinders moet eers almal getroud raak; net JD is al getroud.

Intussen geniet hulle dit net om iemand langs hulle te hê wat die lewenspad saam met hulle kan stap. “Daar het eintlik niks op die plaas verander vandat sy hier is nie,” sê Hentie.

“Eintlik maar net dat ons nie meer alleen in die bed hoef te klim nie.”