Hy het dit baie skelm gedoen! So onthul ’n opgewonde Meliza Hendriks (23) teenoor Huisgenoot kort nadat haar boer Stoffel Boshoff (31) haar die jawoord in die pragtige bosveldwêreld van Lephalale in Limpopo gevra het. En Stoffel gesels geesdriftig saam: “Ja, sy het al die eienskappe wat ek nog altyd in ’n meisie gesoek het!”

Hoewel die twee verliefdes mekaar skaars drie maande gelede ontmoet het, was dit liefde met die eerste oogopslag, verduidelik Stoffel.

G’n wonder die twee beplan om sommer teen April volgende jaar al voor die kansel te staan nie.

Stoffel Boshoff en Meliza Hendriks het mekaar in Augustus ontmoet (Foto: Christiaan Wessels).

Stoffel, wat in die Koppies-distrik in die Vrystaat boer, het verlede jaar bekend geword toe hy een van die top-10-deelnemers van die TV-reeks Boer Soek ’n Vrou was. Toe al het hy gesê hy hoop dat hy sy droomvrou in die program sou raakloop.

Kupido se plaaspyltjies kon egter nie die kol tref nie en Stoffel het ook nie na die topvyfdeelnemers deurgedring nie. Hy was ook nie daarna in ’n ernstige verhouding betrokke nie, vertel die boer.

Toe hy in Augustus weer vir ’n jagnaweek by vriende van hom in Lephalale gaan kuier, stel een van sy vriende, Christiaan Wessels, hom voor aan Meliza wat saam met haar ouers by hul familieboerdery in die distrik betrokke is.

“En ja, ons kon net nie genoeg van mekaar kry nie!” sê Stoffel. “Die oomblik toe ek haar ontmoet, het ek geweet hier kom moeilikheid.”

Vir hul verlowing die afgelope Sondag (11 November), het Stoffel sy vriend Christiaan se hulp ingeroep. Christiaan is immers nie net ’n beesboer nie, maar ook ’n kranige fotograaf.

Die twee mans kom toe ooreen dat hulle haar sal vertel dat hy ’n “spesiale photoshoot vir hulle gaan doen”.

Die blondekop meisie het pens en pootjies vir dié wit leuentjie geval en ingestem, want “wie weet wanneer ek hom weer voor ’n kamera sal kry,” verduidelik sy.

Stoffel het 'n pragtige ring aan haar vinger gesteek (Foto: Christiaan Wessels)

Die drie is die Sondagoggend na ’n pragtige uitkykpunt in die veld waar Christiaan eers ’n paar informele foto’s geneem het.

Stoffel sê die presiese tydsberekening was vir hom belangrik. “Want toe, om presies 11 minute oor 11, op die 11de dag van die 11de maand, het ek daar in die veld voor haar gekniel en die jawoord gevra.”

Meliza sê sy het niks vermoed nie, maar het dadelik ja gesê.

Die twee het nog nie ’n vaste troudatum nie, maar hoop om teen volgende April meneer en mevrou Boshoff te wees . . . 

Die twee verliefdes wil sommer gou trou (Foto: Christiaan Wessels)