“Dit gaan regtig baie goed met al die troureëlings. Ons datum is 22 Mei 2021, in die mooie herfsseisoen,” vertel Anchen (28) opgewonde aan Huisgenoot. 

“Dit is nie regtig moeilik om reëlings in hierdie tyd te tref nie. Baie van ons ‘groot goed’ soos die venue, fotograaf, DJ en stilis is klaar gereël,” voeg sy by.

Die tweetjies het op Vrydag 3 April op Gerrit, ’n sitrusboer van Citrusdal in die Wes-Kaap, se plaas verloof geraak. 

Anchen het vir ’n ander boer in die 12de seisoen van die gewilde maatsoekprogram Boer soek ’n vrou ingeskryf. Hoewel sy nie in die program liefde gevind het nie, het sy en boer Gerrit, wat nie genoeg briewe ontvang het om verder in die reeks deel te neem nie, ná die program met mekaar kontak gemaak.

Anchen van Rensburg
Die paartjie het die fotosessie op die pragte Val de Vie-landgoed laat neem. Foto: Jané Ulla.
Anchen van Rensburg
Foto: Jané Ulla.
Anchen van Rensburg
Foto: Jané Ulla.

Dié tweetjies het sommer vinnig die skoot hoog deur gehad en is sedertdien onafskeidbaar.

Om hul verlowing te vier, het Gerrit en Anchen onlangs op die beeldskone Val de Vie-landgoed in die Kaap ’n pragtige fotosessie gehad.

Om deur die prentjiemooi berge en landskappe omring te wees was beslis een van die dinge wat vir hulle van dié fotosessie uitgestaan het. “In die pragtige Val de Vie-landgoed voel dit of jy nie naby ’n stad is nie,” vertel Anchen.

Hoewel die paartjie tydens die strenger stadiums van die inperking saam op die plaas kon bly, is Anchen intussen weer terug Bredasdorp toe. Anchen, ’n gr. 1-onderwyseres op dié dorp, se leerders gaan op alternatiewe dae skool toe om die moontlike verspreiding van covid-19 te probeer hokslaan.

Anchen van Rensburg
Die paartjie het op 3 April vanjaar verloof geraak. Foto: Jané Ulla.
Anchen van Rensburg
Foto: Jané Ulla.

“Toe die skool weer begin het, was dit maar ’n aanpassing vir albei van ons om weer van mekaar af weg te wees, maar nou is ons dit ook alweer gewoond,” verduidelik Anchen oor die sowat 300 km tussen Bredasdorp en Citrusdal. 

Maar dié klein struikelblok demp nie hul opgewondenheid oor hul troudag nie.

“Ná die fotosessie kan ek nie meer wag om Gerrit se vrou te wees en met hom te trou nie,” vertel Anchen met ’n sprankel in haar oog.

En help Gerrit darem met al die troureëlings? 

Ja, Gerrit is baie “hands-on” met die beplanning, en ek is mal daaroor dat hy so baie daarin belangstel, koer Anchen.

Anchen van Rensburg
Foto: Jané Ulla.
Anchen van Rensburg
Foto: Jané Ulla.

“Ons albei sien vreeslik uit na die sowat agt maande se troubeplanning wat voorlê en dan vir daardie groot dag om aan te breek,” vertel Anchen.

“Ons is nog net so verlief soos dag een en elke dag saam met mekaar is beter as die vorige een. Ons is só gelukkig en vreeslik dankbaar teenoor die Here dat hy ons paaie laat kruis het,” sê sy.