Maar dié keer het Anchen van Rensburg (27) se kêrel, boer Gerrit Genis, haar sommer heeltemal onkant betrap.

“Ek het dit glad nie verwag nie. Kyk, hy was definitief ’n paar stappe voor met hierdie een,” vertel Anchen aan Huisgenoot oor hul onlangse verlowing.

Anchen en Gerrit (32), ’n sitrusboer van Citrusdal in die Wes-Kaap, het verlede week, op Vrydag 3 April, ’n entjie op die plaas gaan stap.

“Ek het so sneaky-sneaky die ring saam met ’n bottel sjampanje in ons rugsak gepak,” vertel Gerrit. Hulle het teen ’n koppie uitgestap tot by ’n uitkykpunt waar hulle die son kon sien ondergaan. Die tweetjies het heerlik gesels en sjampanje drink, toe hy haar vra om haar oë toe te hou.

Anchen van Rensburg
Foto: Verskaf.

Toe hy op sy een knie neersak en die ring uithaal, het Anchen eers uit ongeloof geroep: “Nee, nee!” 

“Ek vra toe eers vir haar, ‘Wat? Sê jy nee?’, maar toe verduidelik sy dat sy dit net nie kon glo nie,” lag Gerrit oor die misverstand.

Anchen het verlede jaar vir boer Graham in die 12de seisoen van Boer soek ’n vrou ingeskryf. Hoewel sy in Graham se topvyf-pasmaats beland het, is sy in die vierde episode huis toe gestuur.

Anchen het in Desember verlede jaar weer deur al die boere se inskrywingsvideo’s aanlyn gaan kyk, en boer Gerrit s’n het vir die tweede keer haar oog gevang. Hulle het aanlyn kontak gemaak en op 2 Januarie vanjaar is hulle ’n paartjie.  

Hoewel die tweetjies geweet het dat hulle sommer vinnig wil verloof raak, het hulle nooit saam na ringe gaan kyk nie. “Ek is mal oor my ring. Ek het wel al vir hom ’n hele tydjie terug foto’s gestuur van ringe waarvan ek hou en wat ek ééndag sal wil hê,” vertel Anchen. 

Anchen van Rensburg
Die uitsig op die plaas toe Anchen en Gerrit verloof geraak het. Foto: Verskaf.

Gerrit verduidelik dat dit ’n bietjie langer geneem het om alles in plek te kry, omdat hy die ring laat maak het. “Dit was eers agtertoe en vorentoe met die ontwerp van die ring, maar toe die ring eers gemaak is, het alles eintlik baie vinnig gebeur,” verduidelik Gerrit.

“Ek dink hy was eintlik net baie op sy senuwees om my pa te bel en hom te vra oor die verlowing,” spot sy en lag.

Anchen van Rensburg
Foto: Verskaf.

Gelukkig kon al Gerrit se planne in plek val voordat die nasionale staat van inperking in werking getree het. Anchen kuier nou tydens hierdie tydperk by Gerrit op die plaas, en kan nie gelukkiger wees nie. Veral met daardie verloofring wat nou aan haar linkerhand pryk.

“Ek sou op geen ander plek wou wees as net hier nie,” lag Anchen. Sy is tans ’n gr. 1-onderwyseres op Bredasdorp. “Dit is vir ons baie lekker om in hierdie stadium nie 300 km agter mekaar hoef aan te ry nie,” voeg sy by.

Anchen van Rensburg
Anchen wys haar verloofring. Foto: Verskaf.
Anchen van Rensburg
Foto: Verskaf.

Hoewel die tweetjies baie hard na ’n pos vir haar in Citrusdal of die nabye omgewing soek, het dit nog nie vrugte afgewerp nie.

“Ons is mal daaroor om net bymekaar te wees en tyd saam te spandeer. So ons maak die meeste van die feit dat ons nou kan saam wees,” vertel Anchen.

Hulle stres egter nie te veel of sy in die nabye toekoms nader aan Gerrit sal kan werk kry nie. “Ek glo wat moet gebeur sal gebeur. Ons weet dat die Here ’n weg vir ons sal maak in daardie opsig,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.