Maar vir die twee boere wat steeds dolgelukkig in verhoudings is met hul gekose pasmaats, was daar onlangs opnuut ’n rede om fees te vier.

Sanel Prinsloo, wat met boer Willem uitgaan, en Hantie Fourie wat met boer Hentie gekys is, het albei onlangs hul aanhangers in die sosiale media herinner dat die eerste blitsafsprake met die boere presies ’n jaar gelede verfilm is.

“Daar was beslis meer opwinding as vrees. Ek was kalm oor die hele proses, want ek het geweet wat moet gebeur, sal gebeur,” vertel Sanel aan Huisgenoot.

“Die onbekende maak ’n mens maar ’n bietjie senuweeagtig. Jy weet nie wat om te verwag nie aangesien die mense van Boer soek ’n vrou baie geheimsinnig oor die hele storie is en niks wil verklap oor die hele proses nie,” vertel Hantie as sy nou aan die begin van die verfilming terugdink.

Hoewel daar aanvanklik drie boere was wat liefde gevind het, het boer Graham en sy pasmaat, Ilne Prinsloo, se verhouding aan die begin van die jaar op die rotse beland.

“Ek is baie dankbaar oor hoe die hele ervaring uitgespeel het. Ek meen, dit is maar ’n kans wat jy vat,” sê Sanel.

“Dit was van die begin af ’n saak van gebed. Ek is baie dankbaar teenoor die Here dat ek die gelukkige een was wat gekies is, want Willem is ’n juweel van ’n man,” sê Sanel.

Noudat sy op die hele ervaring terugkyk, is Hantie dankbaar dat die program en beslis ook Hentie vir haar ’n tweede kans in die lewe gegun het.

“Dit was van die begin af opwindend om te weet dat ek een van baie dames is wat Hentie gekies het en ek was opgewonde om die lang, rustige, aantreklike man beter te kan leer ken,” sê sy.

Hoewel die 13de seisoen se verfilming weens die coronakrisis uitgestel moes word, is daar hopelik binnekort goeie nuus op pad.

Volgens Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Boer soek ’n vrou, sal kykNET binnekort opwindende nuus oor die nuwe seisoen van dié gewilde maatsoekprogram deel. Meer kan hy ongelukkig nie nou al verklap nie.

“Ek is iemand wat glad nie hou van verandering nie. Hierdie hele ervaring het my geleer dat die dinge buite jou gemaksone nie altyd sleg is nie en dat ’n mens nie so bang hoef te wees vir verandering nie,” sê Sanel.

Hantie se raad aan deelnemers is om net jouself te wees en die geleentheid voluit aan te gryp. “Ontdek die mens binne jou en leer jouself ken en maak nuwe vriende,” verduidelik Hantie.

“Maar op die ou end, geniet dit net,” voeg sy by.

Boer soek 'n vrou
Foto: Instagram.

Iets wat vir Sanel altyd sal bybly van die ervaring is al die mense wat sy op dié reis ontmoet het. “Al die grappies waaroor ’n mens saam met die ander deelnemers gelag het en die ondersteuning van my vriende en familie tuis,” sê Sanel.

“Tussen deur die lang ure, die baie in- en uitpak, die nuuskierigheid oor waar en wat volgende gaan gebeur, die grappies en ongelooflike herinneringe wat tussen almal gemaak is, sal ek nie twee keer dink om weer in te skryf nie,” skryf Sanel in die sosiale media. “Goed, net as Willem ook weer inskryf!” voeg sy grappig by.

Sanel en Hantie is dit eens dat hulle beslis baie van hulself en ander mense geleer het in hierdie tyd.

“Min mense kan sê dat hulle dié avontuur kon meemaak en daarmee saam nuwe vriende kon ontmoet en die mooiste herinneringe bymekaar kon maak,” vertel Hantie.

“Daar is soveel herinneringe wat ek nooit sal vergeet nie, en geen geld kan dít koop nie,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe