Dit is nou byna ’n maand sedert sy en haar man, Wianco Blom (24), hulle gevestig het in Bangkok in die hartjie van Thailand. 

Volgens Ilne was die afgelope maand alles waaroor sy en Wianco gedroom het. “Die eerste maand in Thailand was alles-in-een. Dit was opwindend, nuut, deurmekaar en uitdagend. Ons sien soveel nuwe dinge, proe nuwe kosse en leer ’n nuwe taal,” vertel sy. 

Die gelukkige paartjie. Foto: Instagram/@wiancoblom
Die gelukkige paartjie. Foto: Instagram/@wiancoblom

Die twee is sedert Junie 2020 amptelik ’n paartjie nadat Ilne se verhouding met boer Graham Lombard van Cradock in die Oos-Kaap verbrokkel het. Ilne het Graham op die 13de seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou ontmoet.

Sy en Wianco het op 5 Desember verlede jaar verloof geraak en het ’n maand later afgehaak.

Ilne het op 29 April vanjaar op Instagram bekendgemaak dat hulle na Thailand verhuis en dat alles binne ’n week moes gebeur.

“Ons kan absoluut getuig dat wanneer God deure oopmaak, niemand dit kan sluit nie. Ons het amper ’n jaar gewag om oorsee te gaan.

“Eers het ons gedink China, toe Suid-Korea, maar onlangs het God Thailand in ons harte begin verlig en toe ons daarin stap, het alles so vinnig gebeur!” het sy in haar inskrywing vertel.

Volgens Ilne is sy en Wianco tans op ’n jaar lange kontrak in Thailand waar hulle as Engelse onderwysers werk. “Ons weet nog nie definitief vir hoe lank ons hier gaan bly of waarnatoe ons volgende gaan nie. Ons wil graag ’n paar lande sien en het nou die geleentheid daarvoor,” vertel Ilne al die pad uit Bangkok aan Huisgenoot

Sy en Wianco het al sedert verlede jaar beplan om oorsee klas te gee. Wianco het vir ’n jaar Engels in China gegee voor die covid-19-pandemie uitgebreek het, sê Ilne. 

“Toe het ons gewag vir al die grense om oop te maak. Ons het aanvanklik nie Thailand oorweeg nie, dit is ’n deur wat die Here vir ons oopgemaak het en alles het so goed in plek geval.” 

Ilne vertel die trek oorsee was uitdagend as gevolg van al die onsekerheid rondom die covid-19-pandemie.

“Jy beplan, maar jy weet nie wat oor twee weke kan gebeur nie. Daar is heeltyd nuwe uitdagings wat oor ons pad kom. Ons moes leer om baie aanpasbaar te wees. 

“Maar dit is ook goed, ons leer om regtig op God en Sy tydsberekening te vertrou,” sê sy.

Volgens Ilne is hulle gek oor die getroude lewe. H
Ilne vertel hulle is gek oor die getroude lewe. Hulle geniet elke oomblik daarvan. Foto: Instagram/@ilneblom

Die egpaar geniet omtrent hul nuwe avontuur doer in die verte. “In hierdie stadium geniet ons die feit dat alles so gerieflik en maklik beskikbaar is. Hier is so baie malls, stalletjies, markte en kosse,” sê sy.

Hulle geniet ook Thailand se gemeenskap. "Die mense is baie vriendelik en die taal is ook interessant  ’n mens tel van die woorde makliker op as die ander.

“Ons probeer ’n bietjie Thai aanleer. Die kos is geurig en meestal baie warm, maar ons gunsteling sover is hoender khao soi,” vertel sy. “Dit is ’n klapperkerrie-noedelsop wat afkomstig is van Noord-Thailand, Mianmar en Laos.”

Maar dit beteken nie die twee mis nie Suid-Afrika nie. “Goeie koffie is duur hier, so ons mis ons daaglikse Toro-koffie in Potchefstroom.

“En ons mis dit om lekker te braai. Ook die gemeenskap wat ons in Potch het,” vertel sy.

Hulle beplan om beslis na Suid-Afrika toe terug te keer. “Ons weet nog nie wat die toekoms inhou nie, maar dit is tans in die beplanning,” sê sy.

Ilne en Wianco beplan tussendeur die klasgee deeltyds ’n paar kort kursusse te doen.

“Ons wil ook baie graag op ’n eilandvakansie gaan hier in Thailand sodra alles veiliger is met die pandemie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.