Vanjaar sou die jaar wees dat hy die vrou van sy drome die jawoord vra. Maar toe kom keer die coronavirus al sy planne op hul kop.

Eers het die hotel in Kampsbaai, Kaapstad, waar Handrè Lourens aan sy donkerkopmeisie wou verloof raak, hul deure vir die inperking gesluit.

Daarna het hy dit oorweeg om Marciel Hopkins in September op die eiland Zanzibar die groot vraag te vra, maar die covid-19-pandemie het toe ook hul vakansieplanne in die wiele gery. Maar as ’n man die aanvallige nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou jóú vrou wil maak, maak jy ’n plan. Een wat haar asem sal laat wegslaan . . .

Handrè (30), ’n finansiële bestuurder, het met sy modelnooi se agent gereël om Marciel (27) op Vrydagoggend 24 Julie na ’n vyfsterhotel in Kampsbaai te stuur onder die voorwendsel dat dit kwansuis vir ’n fotosessie met ’n publikasie is.

Maar toe wag hy haar in op die lowergroen grasperk van die Twelve Apostles-hotel met sy asemrowende uitsig op die Atlantiese Oseaan.

Daar, met Tafelberg wat agter hulle uittroon, sak hy op een knie en vra haar om met hom te trou. “Op daardie oomblik het die grootste dankbaarheid oor my gespoel. 

Marciel Hopkins
andrè het alles haarfyn beplan en haar na ’n vyfsterhotel in Kaapstad gelok waar hy die groot vraag gevra het. Foto: Ben Heyns

Hy het regtig uit sy pad gegaan en al hierdie moeite gedoen,” sê die voormalige Mej. Suid-Afrika-finalis en nuwe aanbieder van die kykNET-maatsoekprogram waar ons ’n paar dae later by ’n koffierestaurant in Wynberg, naby hul tuiste in die suidelike voorstede van Kaapstad, met haar gesels.

“Ek is nie regtig iemand wat oor die algemeen op my senuwees raak nie,” vertel Handrè later oor die groot oomblik. “Maar so vyf minute voor sy moes opdaag, het ek die vlinders gevoel. Amper soos net voor jy ’n rugbywedstryd gaan speel.”

Handrè kon nie saam kuier nie aangesien hy by die werk moes wees.

“Ek weet nie of sy bene of myne die meeste gebewe het nie,” sê Marciel.

“Hy het vreeslike mooi dinge gesê oor al die avonture wat ons al saam gehad het en gevra of ek reg is om die res van my lewe avonture saam met hom te hê. Natuurlik het ek ja gesê!”

Eers ure later – ná ’n piekniek op die hotel se terrein, ’n spa-sessie en ’n maaltyd – het hulle die nuus met familie en vriende gedeel.

Op Instagram het die beeldskone brunet hul verlowing aangekondig met ’n foto van hulle twee en daarby geskryf: “Toe draai jy 2020 op sy kop met die belofte van ’n leeftyd.”

Die eerste keer in 12 jaar sal aanhangers van kykNET se gewilde maatsoekprogram nie vanjaar 10 boere se soeke na liefde kan meemaak nie, want die inperking het die verfilming daarvan vertraag.

Die 13de seisoen van Boer soek ’n vrou – en die eerste met Marciel as aanbieder – word eers van Januarie 2021 af uitgesaai. Intussen is daar geen beter alternatief as om te sien die vrou wat vir die boere Kupido gaan speel, is self verlief en verloof nie.

Marciel en Handrè het mekaar in 2015 op die Wes-Kaapse kusdorpie Franskraal ontmoet waar albei se gesinne toe vakansie gehou het. Handrè is oorspronklik van Worcester en Marciel van die Paarl.

“Dit was die één jaar dat ek nie ’n kêrel wou hê nie, en ’n gemeenskaplike vriendin het ons aan mekaar voorgestel. Ek moet sê daar was onmiddellik elektrisiteit tussen ons. Maar ek het gedink dit gaan net ’n vakansieromanse wees, want ek het toe aan Mej. Suid-Afrika deelgeneem en wou nie toelaat dat my aandag afgelei word nie,” sê Marciel.

In die maande voor die kompetisie het Handrè haar die nodige ruimte gegee. Maar hy het spesiaal Johannesburg toe gevlieg om die kroningsaand by te woon. “Ek het nogal vir hom gevra hoekom hy dit doen,” onthou Marciel.

“Sy woorde aan my was: ‘As ek eendag met jou trou, wil ek nie hierdie aand in jou lewe misloop nie.’ ”

Net ’n week later het hy haar op Tafelberg gevra om sy meisie te word. As Mej. Suid-Afrika-finalis het Marciel baie aandag getrek, want met ’n streng dieet en oefening het sy binne vier maande 14 kg afgeskud. Maar daarna was sy “soos ’n rubberballetjie wat na sy gewone grootte terugspring”, het sy al tevore vertel.

Die besef dat haar nuwe leefstyl nie volhoubaar is nie, het haar op die pad van selfliefde en aanvaarding geplaas. Deesdae werk sy ook as lewensafrigter en help vroue onder meer met hul selfbeeld.

’n Voller figuur het haar gehelp om haar loopbaan as plusgroottemodel voort te sit. Sy is juis in Februarie vanjaar New York toe waar sy twee maande modelwerk sou doen voor die verfilming aan Boer soek ’n vrou in April sou begin.

Maar toe die covid-19-pandemie die wêreld tref, moes Marciel ná net ’n maand in New York terugkeer. Met haar tuiskoms uit die buiteland was haar tyd van verpligte selfisolasie net mooi verby toe die inperking aanbreek.

“Ek het regtig gesukkel toe ek terugkom, want ek het tussen twee ekstreme wêrelde beweeg,” erken sy.

“Ek het al hierdie mooi herinnerings (aan New York) gehad, maar toe is al ons vryheid en onafhanklikheid weg.” Maar nie eens om saam in hul huis in Claremont ingeperk te wees kon haar en Handrè onderkry nie.

“Ons irriteer mekaar nie en verstaan mekaar se ritme,” sê Marciel. Hulle het ’n vaste roetine gevolg. “Ons het elke oggend vroeg opgestaan, koffie gedrink en dan geoefen,” vertel sy oor hul oefensessies tuis.

“Ek het in daardie tyd gratis lewensafrigting gedoen. Saans het ons saam kos gemaak en dalk ’n fliek gekyk.” Min het sy geweet Handrè het, terwyl sy in New York was, ouers gevra en ook vir haar ’n verloofring laat maak, presies soos die een wat sy in 2018 tydens ’n besoek aan Londen gesien het. Daar het hulle by ’n vriendin gaan kuier wat by die juwelier Boodles in die luukse winkel Harrods werk.

Marciel Hopkins
Hy het vir haar ’n ring laat maak wat presies lyk soos een wat sy twee jaar gelede by ’n juwelier in Londen gesien het. Foto: Ben Heyns

“Toe ons weer sien, het ons elkeen ’n glas sjampanje in die hand en sy pak haar boksies uit,” onthou Marciel. “Sy het gesê: ‘Kom ons kyk net.’

“Ek het na een ring gewys waarvan ek hou. Dit was ’n perfekte prinsessnit op ’n platinumpand. Handrè het ’n foto daarvan geneem en ons het my ringgrootte gevat.”

Toe hulle in Julie al vier en ’n half jaar ’n paartjie was, wou hy nie ’n oomblik langer met die verlowing wag nie. “Dis nie maklik om vyf maande met ’n ring in jou sak rond te loop nie,” sê Handrè met ’n glimlag.

Hulle het nog nie ’n troudatum bepaal nie. “Ek sal volgende jaar eers op Boer soek ’n vrou fokus en my Amerikaanse visum is ook dan nog geldig, so dit sal seker eers in 2022 wees,” vertel Marciel oor hul planne.

Intussen raak hulle elke dag net nog sekerder van mekaar. “Handrè het ’n vreeslik sorgsame kant aan hom. Ons ondersteun mekaar, en hy gee my momentum,” sê sy.

“Ons het groot planne as dit kom by dinge soos reis en wat ons uit die lewe wil hê,” beaam Handrè.

“Sy is die een saam met wie ek my drome en avonture wil najaag. Sy het al die karaktereienskappe om ’n ongelooflike ma en vrou te wees. Sy is regtig die volle pakket.

“Jy kan nie voorspel wat jy die res van jou lewe gaan doen nie, maar jy kan bepaal saam met wie jy die onbekende gaan aanpak. Marciel is die persoon saam met wie ek daardie onbekende wil aanpak.”

Al is Suid-Afrika nog nie uit die kloue van die pandemie bevry nie, het Marciel reeds met die verfilming aan Boer soek ’n vrou begin.

Marciel Hopkins
Marciel is die nuwe aanbieder van die gewilde maatsoekprogram op kykNET, Boer soek ’n vrou. Foto: Instagram/@kyknettv

Die formaat van die program moes wel aangepas word om aan die regulasies van die inperking te voldoen.

“Dit is regtig ’n spesiale groep,” vertel sy oor die 10 boere. “Hulle is talentvol en interessant, en dit voel regtig vir my of ek al met elkeen ’n band kon vorm.”

En natuurlik hoop sy met haar hele hart elkeen van hulle sal ware liefde vind – net soos sy het.