Daarna het hierdie swartkop van Johannesburg ook sonder sukses aan die VIA-maatsoekreeks Wie’s my Liefie deelgeneem. Sy is steeds enkellopend, maar deesdae put Marilyn van Droogenbroeck geluk uit haar kunsklasse.

“Dit is die bevredigendste gevoel wanneer jy skilder en jy sien hoe jou kunswerk voor jou oë begin vorm aanneem,” vertel Marilyn (43) aan Huisgenoot.

Sy spesialiseer in olieverf en neem die afgelope drie maande klasse by Ric Holt, ’n skilder van Krugersdorp.

Marilyn het van skooldae af daarvan gehou om sketse van veral voëls te teken, maar het dit nooit baie ernstig opgeneem nie.

Vroeër vanjaar het sy besef dit is die ideale stokperdjie om haar innerlike self te ontwikkel.

“Ek is ‘n rekenmeester van beroep wat beteken dat ek heeldag met syfers werk. Maar kuns stimuleer ’n ander kant van jou menswees; dis wanneer jy die kreatiewe kant binne jou na vore bring.”

En natuurlik is dit ook vir haar lekker om saam met die ander studente in die kunsklas te sosialiseer, verklap sy.

“My beroep kan soms maar eensaam wees omdat ek die meeste van die tyd afgesonder en alleen werk. Dis miskien hoekom ek so na my weeklikse kunsklasse saam met die ander uitsien!”

Haar kunsleermeester, Ric Holt, het dié kunswerk v
Haar kunsleermeester, Ric Holt, het dié kunswerk van haar geskilder. Foto verskaf.

Ric het in Mei ’n skildery van 1 x 1 m van haar geskilder wat hy noem “Bound by Virtue”. In dié skildery is haar twee hande met doringdraad aan mekaar vasgebind.

“Dis simbolies van iemand wat magteloos in ’n situasie staan,” sê Marilyn.

En nee, sy beplan geen groot uitstalling binnekort nie, vertel sy laggend.

“Ek doen dit suiwer net vir my eie plesier, geluk en bevrediging.”

Haar eerste olieverfskildery, ’n selfportret, is darem al klaar!

Marilyn se eerste voltooide werk is ‘n selfportret
Marilyn se eerste voltooide werk is ‘n selfportret. Foto verskaf.