Die skoonheidsterapeut van Hillcrest buite Durban het Sondag eerste die nuus met haar 37 500 Instagram-volgelinge gedeel. 

Hulle kon ook vir haar verskeie vrae vra en sy het dit op haar Instagram-storie beantwoord.

Tydens die vraag-en-antwoord-sessie het sy bevestig dat sy op 1 Julie Kaap toe trek omdat daar ’n sakegeleentheid in Kaapstad op haar wag.

In hierdie stadium beoog sy om 'n ateljee vir mikrolemtegnologie in die Kaapse woonbuurt Gardens te open. (Mikrolemtegnologie fokus op wenkbroue en is 'n semi-permanente tegniek om wenkbroue digter te laat voorkom.)

"Ek kan nie wag om my nuwe kliënte te ontmoet en hulle mooi en gelukkig te maak nie,” het 'n opgewonde Rox-Zee by die nuus oor haar beplande skuif geskryf.

Sy het ook genoem dat sy weer soos haar gewone self voel en slaggereed is om ’n “pragtige nuwe lewe” in die Kaap te begin. 

“Ek voel geseënd en dankbaar vir alles wat ek het,” skryf sy.

Boer soek ’n Vrou

Rox-Zee en boer Rèan Clasen was die gewildste paartjie in die jongste seisoen van Boer Soek ’n Vrou.  

Boer Rèan het begin April 'n knoets van ’n verloofring aan haar vinger gesteek en dit het gelyk of hul romanse ’n sprokieseinde gaan hê. 

Maar Rox-Zee het kort daarna hul verlowing verbreek en aan Huisgenoot vertel mense na aan hom was na bewering so erg gekant teen hul troue dat sy die stap moes neem. 

Een van die vrae wat aan haar gevra is, was natuurlik of sy weer aan Boer Soek ’n Vrou sal deelneem. Die blondekop het nee geantwoord, maar bygevoeg dat sy steeds enkellopend is.

Grootste les

Op die vraag oor wat die grootse les is wat sy al ooit geleer het sê Rox-Zee: “So baie: niks hou vir ewig nie.”

Een van haar 37 500 Instagram-volgelinge het haar later ook raad gevra oor hoe ’n mens vernedering hanteer ná 'n mislukte verhouding.

Sy het kort en kragtig geantwoord: “Dit gaan seer maak en jy gaan dit voel, maar dit is menslik.

“God doen dinge vir ’n rede, vertrou Hom en sy tydsberekening. Onthou altyd jou waarde. As jou bedoeling goed en jy jou alles gegee het, is daar niks meer wat jy kon gee nie. Laat dit gaan!”

Rox-Zee wou nie enige verdere vrae van Huisgenoot beantwoord nie en het volstaan by wat sy op sosiale media gedeel het.