Die possakke het behoorlik gebult met briewe, foto’s en geskenkies toe die aanbieder, Leah, in episode twee die land deurkruis het om die top-10 boere se briewe af te lewer.

Die vyf boere wat die meeste pos gekry het, het natuurlik nou die kans om elkeen 10 briefskrywers te nooi sodat hulle mekaar in volgende week se episode (31 Oktober) tydens die blits-afsprake kan ontmoet.

Húlle kan nou moontlik liefde vind:

Damian (37), bees- en skaapboer, Bapsfontein (Gauteng)

Boer Damian was baie verras toe hy hoor dat hy die meeste briewe as al die ander deelnemers gekry het. "Ek het dit glad nie verwag nie. Die moeite wat almal met die pakkies gedoen het, het ook vir my uitgestaan," vertel hy.

"Een outjie het byvoorbeeld ’n pakkie gemaak in die vorm van ’n musiekboek. Dit was spesiaal, veral omdat ek so baie van musiek hou.”

Dit is veral die mense wat moeite hiermee gedoen het, wat sy aandag getrek het. “As jy moeite doen, wys dit jy vat die reeks ernstig op.”

Sy vriende Gert en Jaco het hom gehelp om uit die honderde briewe 10 te kies van manne wat hy in volgende week se episode in Kaapstad gaan ontmoet.

Hy vertel hulle het tergend gevra as hy nie iemand kry nie, of hulle dan maar die briewe vir hulle kan kry.

Boer Damian lees sorgvuldig aan een van sy briewe.
Boer Damian lees sorgvuldig aan een van sy briewe.

Graham (26), melk- en beesboer, Cradock (Oos-Kaap)

Hy was oorweldig deur al die briewe wat hy gekry het, "maar dit was vrek lekker!" vertel boer Graham.

"Die probleem is nie om 10 meisies te kies nie, die probleem is om die res nié te kies nie,” verduidelik hy sy dilemma.

Gelukkig was sy niggie, Delene, en sy vriend, Bennie, aan sy sy om hom hiermee te help.


Een van die meisies het selfs vir hom ’n paar gestreepte sokkies in helderkleure gestuur. "Ek moet sê, dit is nogal funky!"

En hoe het hy gevoel toe Leah vir hom sê hy is een van die vyf boere wat sy keuse van 10 meisies in Kaapstad gaan ontmoet? "Ek was uit my skoene uit geskok!"

Boer Graham kan nie wag om sy pakkies oop te maak
Boer Graham kan nie wag om sy pakkies oop te maak nie.

Hentie (51), rooibosteeboer, Clanwilliam (Wes-Kaap)

Boer Hentie sê hy was net so uit die veld geslaan. "Dit gee jou ’n warm gevoel om al daardie pakkies te ontvang en te weet iemand het dit spesiaal vir jou gedoen. Jy is mos nie meer gewoond daaraan om ’n blommetjie of sjokolade te kry nie!”

Een briefskrywer het hom goediglik laat glimlag met haar oorspronklikheid: "Wie weet, dalk is ek die rib wat by jou linkerheup inpas," het sy geskryf.

Hentie se grootste "wow-oomblik" was toe hy en Leah deur die een sak pos gegaan het. "Ek het gedog dit is nou dit, en toe kom hulle met nóg sakke daar ingestap. Dit het my onkant betrap!"

Boer Hentie in ‘n vrolike luim saam met Leah.
Boer Hentie in ‘n vrolike luim saam met Leah.

Hy wil geen brief uitsonder nie, maar dit het hom wel geruk toe hy die brief lees van ’n dame wie se man en twee kinders twee jaar gelede in ’n motorongeluk dood is.

Hoe kies jy 10 name tussen al daardie hordes briewe? "Man, ek weet nie. Jy werk maar op instink!"

Die boere het net 24 uur gekry om deur al die briewe te gaan en op 10 te besluit. Daardie nag het hy maar min geslaap, verklap Hentie.

Hy is darem in die keuringsproses gesteun deur sy kollega Leandri en sy skoonsuster Chrisna.

Leandri en Chrisna help vir Hentie met die kiespro
Leandri en Chrisna help vir Hentie met die kiesproses.

Willem (29), rooibosteeboer, Clanwilliam (Wes-Kaap)

"Genade, ek het nie verwag dat die vroumense hul harte só daar ingesit het nie!"

So beskryf Willem sy emosie toe hy sy sakke briewe ontvang het. "Daardie moeite word waardeer. Ek het regtig spesiaal gevoel.”

Maar kykers het ook vanaand gesien hoe hy soms sommer gebloos het van lekkerkry as hy sy briewe lees!

Maar nes die geval met die ander boere is, was dit ook vir hom moeilik om ’n keuse te maak. “Jy sit jou hart en siel in dit wat hulle sê, en dan hoop en bid jy maar net dat hulle wel die mens is wat hulle sê hulle is.”

Sy twee buurvroue, Janita en Monique, het hom bygestaan.

Boer Willem is sommer baie opgewonde.
Boer Willem is sommer baie opgewonde.

Theunis (36), tafeldruiweboer, De Doorns (Wes-Kaap)

Theunis vertel hy het nog nooit so baie geskenke op een slag gekry nie. "Dit is baie cool van hulle," som hy sy emosie op.

Hy het hom egter nie laat lei deur die moeite wat die meisies gedoen het nie.

"Jy kyk na ’n kombinasie van goeters om vas te stel wie die mens agter die brief is. Maar ek het beslis ook gekyk na meisies wat ’n humorsin het, want dit is vir my belangrik."

Maar hy het beslis lekker gelag vir die een briefskrywer wat haarself beskryf het as iemand wat "sonder kak en drama is".

Theunis bieg hy is ’n man van min woorde wat nie daarvan hou om in groot groepe te kuier nie. "Dit beteken nie ek sal groot groepe vermy nie, maar dan sal ek altyd een of twee mense uitsonder en hoofsaaklik net saam met hulle kuier."

  • In episode 3, wat volgende Donderdag, 31 Oktober, op die kassie is, kry die boere hul kans om hul 10 gekose briefskrywers in lewende lywe te ontmoet. Maar, hulle gaan net vyf minute per persoon toegelaat word om dié persoon beter te leer ken! Daarna moet hulle vyf moontlike pasmaats kies saam met wie hulle op ’n uitstappie wil gaan.