Maar dit is twee boere van die vorige seisoen wat November gekies het om hul dames, en aanhangers van die reeks, se harte opnuut te vermurwe.

Hoewel Danél Saayman aanvanklik vir boer Jacques Vlok geskryf het, het haar pad met ’n ander deelnemer, Carl Möller, ’n veeboer van Carnavon in die Noord-Kaap, gekruis.

Nou, sowat een jaar nadat hulle saam begin kuier het, het Danél die blye nuus in die sosiale media verkondig dat hulle gaan trou.

“My grootse droom het waar geword. Ek gaan met my beste vriend trou,” het die blondekop onderwyseres met twee pragtige kiekies op Instagram geskryf. Sy het ook sommer die bruilof alklaar met die hutsmerk #möllermakietie2019 gebrandmerk.

Die paartjie het sowat ’n maand terug een jaar saam gevier en kan nie gelukkiger wees nie.

Ná ’n romantiese naweek om dié mylpaal te vier het Carl aan Huisgenoot verklap dat dinge baie goed gaan en die vooruitsigte rooskleurig lyk toe hy gepols word of daar ’n ring op pad is.

Boer Carl is ook nie die enigste deelnemer van die 10de seisoen van dié gewilde televisiereeks om in November op een knie af te gaan nie.

Boer Stoffel Boschoff het twee weke gelede sy meisie van drie maande, Meliza Hendricks, die jawoord gevra en dié tweetjies beplan om sommer al teen April volgende jaar voor die kansel te staan.

Stoffel Boschoff en Meliza Hendricks het mekaar in Augustus ontmoet. Foto: Christiaan Wessels.
Stoffel het ’n pragtige ring aan haar vinger gesteek. Foto: Christiaan Wessels.
Die twee verliefdes wil sommer gou trou. Foto: Christiaan Wessels.

Stoffel kon ongelukkig nie liefde op die program vind nie, maar toe een van sy vriende hom tydens ’n jagnaweek aan Meliza voorstel, het hy “geweet hier kom moeilikheid,” het Stoffel aan Huisgenoot vertel.

“En ja, ons kon net nie genoeg van mekaar kry nie!” sê hy.