Jy sien net tande toe sy oor die groen plaaswerf aangehol kom. Dis nou Tessa, die eenjarige skaaphond en tot onlangs nog die enigste vrou in die huis.

Maar sedert haar baas vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het, het hulle hier op die rooibosteeplaas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap “enetjie bygekry’’, soos boer Willem sê.

“Jy moet breed glimlag,” sê dié platjie vir Tessa. “Dis nie meer net ek en jy nie.”

In die plaashuis bespeur jy die hand van ’n vrou noudat Sanel Prinsloo, ’n 23-jarige onderwyseres, hier by Willem Pool (30) en Tessa kom nesskop het.

Op die stoep is woorde op ysterplaatjies teen die sandsteenmuur onder mekaar vasgemaak: Hoop. Liefde. Samesyn. Waardeer. Vriende.

“Ek weet wanneer Willem ernstig is oor iets, maar die meeste van die tyd is dit grapperig. Dis soos daardie seuntjie op skool wat jou hare trek omdat hy eintlik van jou hou,” voeg sy by.

“Die garage is vol van bokse met haar goeters in. Daar is badsout in die bad­kamer,” spot die donkerkopboer oor sy “mooi nooi van Mooinooi” in Noordwes wat hier kom intrek het. 

“Die huis is besiger. Oral lê iets van haar, soos haarknippies waarmee sy haar omgewing merk.” 

“Ek moet my stempel afdruk,” kap Sanel speels terug. Kykers het al tydens die pas afgelope 12de seisoen van die kyk­NET-maatsoekreeks opgemerk hoe die twee kan kibbel. “Dis in ’n goeie gees,” verseker Sanel. 

“Ek weet wanneer Willem ernstig is oor iets, maar die meeste van die tyd is dit grapperig. Dis soos daardie seuntjie op skool wat jou hare trek omdat hy eintlik van jou hou,” voeg sy by.

“Ek sal graag eendag wil settle,” het Willem, een van die gewildste boere in die jongste Boer soek ’n vrou-seisoen, met Huisgenoot se vorige besoek gesê. “Ek is nog altyd opsoek na Die Een...”

Cboer willem,sanel prinsloo,clanwilliam
Nou is twee vroue saam met boer Willem op die plaas: Sanel en die skaaphond Tessa, wat baie goed met mekaar klaarkom. Foto: Corrie Hansen

Nou lyk dit of Sanel daardie een kan wees. Beteken dit dat die dag waarop hulle amptelik hul skapies bymekaar jaag vinnig nader kom?

“Ons vat ons tyd en wil nie ons verhouding oorryp druk nie,” antwoord Sanel waar sy knus langs Willem op die bank in die oopplanleefvertrek sit.

“Ons is redelik seker ons hoort by mekaar,” sê hy. “Maar ons sal eers nog ’n paar jaar lank saam wil groei en vir die boeretroue spaar.”

Met sy plattelandse Afrikaanse aksent en kortmouhemde selfs wanneer dit koud is, lyk hy soos ’n boer wat dinge kan raakvat. Willem, ’n gebore Kapenaar wat ’n leerder aan die Augsburg Landbou­gimnasium op Clanwilliam was, boer al nege jaar hier op die plaas Langbergpunt.

Sanel het op die myndorpie Mooinooi grootgeword en was aan die Hoërskool Brits in die koshuis. Daarna het sy aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom onderwys studeer.

Haar pa, Herman (49), is ’n sakeman op Brits en haar ma, Johnelle (47), hoof by ’n kleuterskool. 

Sanel het ’n jonger suster, Lu-Mari (16), en kleinboet, Drikus (13).

Toe sy voor die TV-kameras haar hart verloor op ’n boer van Clanwilliam, het dit gelyk of ’n langafstandverhouding hul voorland sou wees.

In die tweedelaaste episode het Sanel reeds laat val: “Ek sal ’n pad saam met hom kan stap, al is dit ’n langafstand-besigheid...Ek hoop nie ek maak my naam pawpaw nie...”

Sy was verniet bang, want toe kies Willem haar uit die drie vroue wat by hom op die plaas kom kuier het. Daarby kon Sanel gou werk in die omgewing kry.

“Ons vat ons tyd en wil nie ons verhouding oorryp druk nie,” antwoord Sanel waar sy knus langs Willem op die bank in die oopplanleefvertrek sit.
 Sy het pas as gr. R-onderwyseres op Leipoldtville begin skoolhou. Deur die week woon sy in ’n woonstel op die dorp saam met twee ander onderwyseresse.

“Die 60 km Leipoldtville toe is beter as die 1 400 km van Mooinooi af,” sê Sanel, wat elke naweek plaas toe kom.

Op pad na Willem ry ’n mens verby boer Hentie se plaashuis. Dié twee plaasbestuurders van aangrensende plase is bure en het heel toevallig besluit om vir dieselfde seisoen van Boer soek ’n vrou in te skryf. Toe haal albei die topvyf en vind albei liefde in die reeks.

Ook Hentie se Hantie het werk in die omgewing gekry – by ’n prokureur op Clanwilliam.

Die twee paartjies het onlangs by Hentie se huis saamgekuier.

In Desember verlede jaar het Willem en Sanel ook saam-saam hul verjaardae gevier. Hy verjaar op die 21ste en sy op die 24ste. 

boer willem,sanel prinsloo,clanwilliam
Willem en Sanel kuier op die buurplaas by Hentie en Hantie, wat ook in die reeks liefde gevind het. Foto: Verskaf

“Ons het sommer saam ’n paartie hier in die plaasstoor gehou,” vertel hy.

Met sy arm om haar skouer stap die twee later met die grondpad langs na ’n rooibosteeland waar ’n trekker staan en wag. 

“Ek moet haar eintlik abba sodat haar voetjies nie vol stof raak nie,” spot hy.

Willem is ’n opperste terggees, maar Sanel is ook nie op haar mond geval nie. Aan die begin van die seisoen het hy immers oor sy droomvrou gesê: “Sy moenie bang wees om te leef nie en haar sê kan sê. Sy moenie op haar bek geval wees nie en moet my kan uitdaag.”

Nou wil-wil hy haar lang goudbruin hare wegstoot toe die wind dit voor haar gesig inwaai.

“Nee, los!” keer sy. “Jy noem dit mos my maanhare.”

“Slang!” skree hy skielik vir ’n stok in die pad. “O, jy skrik nie meer nie,” terg hy dan vir Sanel.

“Ek het dan nou die dag ’n pofadder gekry,” herinner sy hom.

Terwyl hy en Sanel op die trekker klim, merk hy op oor die fotonemery: “Dis amper soos vir ’n verlowing.”

“Wat hoor ek nou van sulke dinge? Ek is dan ringloos,” sê sy.

In Desember verlede jaar het Willem en Sanel ook saam-saam hul verjaardae gevier. Hy verjaar op die 21ste en sy op die 24ste.

“Gee dit nog ’n maand,” spot hy, maar las gou by: “Nee, ek speel net. Ons het mos ’n ses­jaarplan.”

Soos twee skoolkinders wat pas gekys het, loop hulle hand aan hand terug na die plaashuis wat Sanel al hier aan die voet van Langbergpunt begin verfraai het.

Sy het ’n ou witgeverfde deur met foto’s agter glaspanele versier en teen ’n muur in die leefvertrek staangemaak.

Dit beeld haar en Willem se wedervaringe saam uit: hul vakansie op Plettenbergbaai, die reünie saam met die ander boere in die Paarl en hul reis tydens die Kersvakansie al langs die Suid-Kaapse kus. 

Dit was toe Willem lid was van ’n ondersteuningspan op land vir deelnemers aan die Trans-Agulhas-uitdaagvaart van Plettenbergbaai na Gordonsbaai. 

Op party plekke het hulle in tente geslaap. “Dit was lekker,” vertel Sanel. “Ons het ook Willem se ouers en vriende gesien.”

Op ’n swartbord onderaan die deur vol foto’s staan juis in wit kryt: “Find joy in the journey.

“By die dag groei ons nader aan mekaar,” merk hy op. “Dis lekker om saam met iemand te kan droom.”

boer willem,sanel prinsloo,boer soek ’n vrou
Die verliefdes op Plettenbergbaai. Foto: Verskaf

Die twee lyk so gemaklik in mekaar se geselskap asof hulle reeds jare lank ’n paartjie is. 

“Wanneer ek oor naweke hier is, kuier ons nog lekkerder omdat ons mekaar so gemis het. Dit voel vir my nou al vreemd as ek ’n dag nie saam met hom in die bakkie gery het of as hy nie vir my koffie in die bed bring nie,” vertel Sanel.

“Ek het te gemaklik met myself geraak alleen hier op die plaas. Ek het genoeg huis-huis gespeel. Ek sien daarna uit om dit nie meer te doen nie,” sê Willem.

Dan vertel Sanel van haar oupa Hennie Prinsloo (81) wat op ’n plaas buite Brits woon. Hy het haar altyd geterg dat sy vol nonsens is en gedreig hy gaan vir haar ’n rak maak waarop sy “vir ewig gaan sit”.

Maar nadat haar familie vir Willem ontmoet het, het haar oupa ’n ander deuntjie begin sing en aangekondig: “Ek gaan nou maar daardie rak wegbêre.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.