Adriaan het pas in die sosiale media aangekondig hulle is nou amptelik 'n paartjie nadat hulle in die kykNET-maatsoekreeks Boer Soek 'n Vrou weer raakgeloop het. 


Met die verfilming van Boer Soek ’n Vrou was dit Nardus – en nie Adriaan nie – wat haar hart gewen het. 

Maar daar op Thabazimbi, Limpopo, het die eensaamheid haar ondergekry – en Toanette van Boer Soek ’n Vrou-faam het op die tuisdorp van haar nuwe kêrel, Nardus van Wyk (25), verder as ooit van hom verwyder gevoel.

Hul warrelwindromanse van net meer as agt maande was een van die kykNET-maatsoekprogram se groot sukses-verhale.

Maar weg van die kameras het die verliefdheid tussen Toanette en Nardus gekwyn, en die kloof tussen die twee boere het ál groter geword. En op 18 Maart het hulle die nuus met teleurgestelde kykers gedeel: Dis verby.

“Ons het eenvoudig uitmekaargegroei; dalk selfs met mekaar verveeld geraak,” sê Toanette oor haar vlietende verhouding met die beesboer. “Ons toekomsdrome het verskil – en daar is geen kwade gevoelens daaroor nie.”

Vandag erken sy prontuit: Sy en Nardus het albei met hul lewe aangegaan. Hy is in Maart vort na Amerika om sy boerderyvaardighede daar uit te brei.

Toe die verhouding nie uitwerk nie, het Toanette in die sosiale media laat hoor: “Although my love story never ends happily ever after, I still enjoy watching love stories . . .

Adriaan Koch, ’n veearts, het haar hart verower. Sy het hom nie op TV gekies nie, maar nou kies sy hom oor en oor.

Tog het ’n nuwe liefdesverhaal kort daarna in dié donkerkopboer se lewe begin ontvou, want Toanette en die veearts Adriaan Koch (28) het vir mekaar begin flikkers gooi. En sowaar, hy was eers die man wat sy in die werklikheidsreeks nié gekies het nie.

Ja, erken sy, weg van die kameras was Adriaan veel spraaksamer – en hy het haar voete onder haar uitgeslaan. Sy lag.

“Ek kan nie sê hoekom dinge gebeur het soos dit het nie. Maar toe Adriaan vir my sê hy kon nog nie ophou aan my dink nie, het ek besef ek het ’n tweede kans gekry om my keuse te maak. Ek kies hom nou oor en oor . . .”

En daarom vra sy nou sommer hier in Huisgenoot: “Adriaan, sal jy met my kys?”

Met die verfilming van Boer Soek ’n Vrou was dit Nardus wat haar hart sommer gou gewen het, vertel Toanette in die gesellige gesinshuis van vriende op Parys in die Vrystaat.

Agter die skerms was dit vir almal duidelik dat die vonke tussen hulle spat – maar die tweetjies moes hul liefde geheim hou tot die reünie-episode in Januarie uitgesaai is, al was hulle toe reeds ses maande lank saam.

Toe hul liefde daarna afkoel, was Toanette aanvanklik oortuig dis weens die afstand van byna 400 km tussen hulle.

Sy het ’n onderneming op ’n wildplaas op Middelburg, Mpumalanga, waar sy opleiding in natuurbewaring gee, en Nardus boer saam met sy pa in die Dwaalboomdistrik sowat 50 km van Thabazimbi.

In Februarie het sy nader aan hom getrek. Maar selfs daar op Thabazimbi, sê Toanette, kon hulle mekaar weens hul skedules nie gereeld sien nie. Boonop was sy ver van haar familie en vriende, en die eensaamheid het by die dag toegeneem.

“Ek het gehoop dinge sou uitwerk. Ek is nie spyt nie. Ons het ’n wonderlike tyd saam gehad en ek het sterk oor hom gevoel, maar iets het naby aan die einde nie meer reg gevoel nie.

“Ons het oor baie dinge verskil, en dit het telkens tot ’n bakleiery gelei. Die idee dat hy vir maande na Amerika gaan, het my ook gepla. Maar ons was altyd eerlik met mekaar – en een aand het ek net reguit vir hom gesê: Ek dink ons mors mekaar se tyd. Dinge was nie meer soos aan die begin nie – en hy het saamgestem.”

Ek het gedink hy’s die liefde van my lewe, maar ek het ’n fout begaan. Nie een van ons is verpletter nie.
By Nardus van Wyk. Foto: Papi Morake

Hulle het die verhouding net daar verbreek, sê sy. Hierna was sy nog drie weke lank op Thabazimbi voor sy teruggetrek het Middelburg toe. Sy steek haar hande in haar hare.

“Ek het gedink hy’s die liefde van my lewe, maar ek het ’n fout begaan. Nie een van ons is verpletter nie. Ons is twee mense wat besef het ons werk nie, en ons albei het met ons lewe aangegaan.”

Dit was ’n “groot verligting” om weer tussen haar mense te wees, sê Toanette. Haar pa, Anton (60), en broer, Marcus (22), is haar steunpilare. Haar ma, Trudie, is in September verlede jaar ná ’n kankerstryd oorlede.

En toe, einde April, kom ’n oproep van Adriaan, ook ’n inwoner van Middelburg.

“Hy het my gevra: ‘Wat sien ek dan van jou in die media?’ Ek het vir hom gesê dinge het maar net nie gewerk nie . . .”

Vir die eerste keer praat sy oor die aantreklike veearts – en hoe sy hom eintlik al lank voor die verfilming van die maatsoekprogram geken het.

“Ek het hom vooraf ontmoet omdat hy by die veearts werk na wie ek my honde dikwels geneem het. Ek’t gedink hy’s aantreklik en het hom nog geterg en gesê hy moet vir my inskryf . . . Ek kies hom dalk net.”

Toe sy hom weer raakloop, kort voor hulle begin skiet het, het sy nie geweet sy brief is lankal gepos nie, sê Toanette.

“Ek het nog gedink hy is vreemd om my – so asof hy nie weet wat om te sê nie. Min het ek geweet dis omdat hy gewonder het of ek die brief al gesien het of nie. Toe ek dit later tydens verfilming kry, was ek verras; bly – ek het vlinders in my maag gehad.”

Maar dinge voor die televisiekameras wou net nie vlot nie.

“Hy was teruggetrokke. Dis amper asof hy tussen die ander mans verlore geraak het. Ek weet nou dis omdat hy voor die kameras ongemaklik was – dit het nie vir hom natuurlik gevoel nie.

“En ja, toe kies ek hom nie. En die hele wêreld sal my seker nie daarvoor vergewe nie – ook nie sy ouers nie,” sê sy tergend en lag hardop. Maar toe waag Adriaan nog een kans: Hy het haar genooi vir ’n braai by sy huis.

“Ag, die res is geskiedenis. Daar was magic tussen ons. Die eerste soen was . . . hemels,” sê sy skaam. “Daarna het die kuiers gevolg. Een aand het ons tot ná tweeuur die oggend gekuier. Hy het vir my gesê hy het ná die reeks ander meisies gesien, maar dat nie een by my kon kers vashou nie. Dat hy nie kon ophou aan my dink nie. Dat hy heeltyd gewonder het of daar nog een kans vir ons sou wees.

“Ek het gevries. Ek kon niks uitkry nie. Maar op pad huis toe het ek vir hom ’n stemboodskap gestuur en gesê: ‘Ek wil net vir jou sê hoe baie jou woorde beteken.’ En dat ek nog altyd gewens het ek sal ’n kans kry om my fout reg te stel – nou het ek.”

Teen Meimaand was sy verlief, erken sy.

“Ons leer mekaar nog ken; ons stap ’n wonderlike pad en ek is ongelooflik gelukkig.”

Hy het nog heeltyd skelm gehoop daar is ’n kans vir romanse tussen hulle – al was Toanette in ’n verhouding, vertel Adriaan later telefonies aan Huisgenoot.

Die selfoon is op luidspreker hier waar Huisgenoot by Toanette kuier, en sy bloos bloedrooi toe sy dié woorde hoor: “Man, jy laat my skaam kry!”

Adriaan, wat met vakansie is in Phoeket, Thailand, laat hoor: “Ek wou weer ’n kans vat – en ek het gehoop sy sal ook ’n kans met my wil vat. Natuurlik het ek gewonder wat sou gebeur as dit weer nie werk nie. Dan sou ek regtig skaam gewees het.

“Maar ek moes probeer; my gevoelens vir haar het nooit verdwyn nie.”

Dis daardie blou oë wat sy knieë so lam maak, sê hy.

“Oeg, die manier waarop sy vir my kyk. Sy draai haar kop so skuins; dan glimlag sy. Dit maak my mal. En ons lag oor die simpelste dinge. Ons geniet mekaar – sy maak my werklik gelukkig.”

Dan, terwyl Toanette bloos, sê hy oor die foon: “En as die Here dit so wil hê, dan wil ek vanjaar nog ’n ring aan daardie vinger sit . . .”

Toanette smelt. Sy het hom dalk een keer deur haar vingers laat glip, maar ’n tweede keer? Nie sommer nie.