Nes met ’n skattejag het boer Willem sy meisie met die lang heuningblonde hare al langs ’n klofie op ’n rooibosplaas by Clanwilliam tot by Innie Mikkie gelei.

By dié uitkykpunt in ’n mik van die Langbergpunt met ’n prentjiemooi uitsig op Lambertsbaai het ’n groot verrassing op haar gewag.

Toe Willem Pool en Sanel Prinsloo se romanse verlede jaar voor die kameras van die werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou ontvou het, het hulle dikwels tyd daar deurgebring.

En vandat sy “mooi nooi” uit Mooinooi in Noordwes aan die begin van die jaar by hom in die Wes-Kaap aangesluit het, het hulle gereeld daar op hul spesiale plek gaan braai.

Maar toe Willem (30) teen skemeraand op Dinsdag 21 Julie sy bakkie se neus in die rigting van Innie Mikkie stuur, het sy snuf in die neus gekry en gedink: “Hier kom ’n ding.”

Willem en Sanel
Foto: Misha Jordaan

Want eintlik was hulle veronderstel om ‘dorp toe te ry om ’n botteltjie makataankonfyt daar te gaan aflaai’, vertel Sanel (23) in die plaashuis met sy hoë plafon en oop wit balke.

Sy het skaars ’n ent van die uitkykpunt uit die bakkie geklim toe sy die eerste laaghoutbord sien waarop daar in swart letters geverf is: “Die pad na ons vir ewig begin hier.” ’n Paar tree verder was die woorde op die volgende bordjie: “Sal jy my hand vat en nooit weer los nie?”

In ’n fotoboekie met Polaroids is elke romantiese toneel van die jawoord vra op die berg verewig: “Deel twee van ons sprokie is net om die draai,” het die volgende boodskap gelui. En toe: “Jy is die liefde van my lewe, my hart se punt.” Gevolg deur: “Jy is my klein pikkewyn, my pot se deksel” en “Die boer het sy vrou gekry”.

By daardie laaste bord, omring met feetjieliggies, moes die boer darem eers die nooi van sy hart om haar hand vra.

Willem en Sanel
“Lyk my jy het genoeg tee, so ek sal die suiker en melk bring,” het Sanel in ’n brief geskryf. Foto: Misha Jordaan

Terwyl die sonsondergang die hemel oranje tint, het Willem (30) op sy knie afgesak. Maar eers het hy ’n stemboodskap van haar ouers vir haar gespeel.

‘Jou lag is genoeg om so ’n klein meisie die wêreld se butterflies te gee’

“Dis reg. Jy het my blessing,” het Herman Prinsloo se stem die hele pad uit Mooinooi opgeklink.

“Ek het dit vir haar gespeel sodat sy nie onseker sou wees oor of sy moet ja sê nie,” vertel Willem nou.

En toe vra hy: “Sal jy met my trou?”

Dan vertel hy nog van daardie aand se betowering: “Sanel was in trane, sy kon nie ’n woord uitkry nie, maar sy het haar kop geknik. Ek moes later seker maak of sy ja gesê het of nie.”

Sy het dit glad nie verwag nie, sê Sanel, al het sy vroeër die aand reeds vermoed Willem voer iets in die mou. “Hy het my kom aanjaag.

Hy’t al 10 voor ses die aand by my kamer begin rondstaan, en ek kon ook nie verstaan hoekom hy gestort en nuwe klere aangetrek het nie. Toe doen ek maar dieselfde.”

Willem en Sanel
Al was daar reeds sprake van hul skapies bymekaarjaag, wou Willem Sanel graag met die ver­lowing verras. Foto: Misha Jordaan

Al is daar lank reeds liefde in die lug en sprake van hul skapies bymekaarjaag, wou hy gehad het die verlowing moes vir haar ’n verrassing wees. “Ek het dit daarom in die week op ’n Dinsdagaand gedoen,” verklap Willem.

Dit moes ook voor donker wees sodat hulle oor Lambertsbaai kon uitkyk. Die knewel aan haar vinger het hy lank voor die inperking al van Carine van Zyl, ’n juwelier van Riebeek-Kasteel, bestel.

“Sanel het op ’n kol ’n soortgelyke ring op die internet gesien en ’n foto ge-email,” vertel Willem. En nou is daardie prentjie die ware Jakob wat pragtig aan haar ringvinger flonker.

Willem en Sanel
Die knoets aan Sanel se vinger is reeds voor die inperking bestel. Foto: Misha Jordaan

Dieselfde Dinsdagaand nog het Sanel die groot nuus in die sosiale media gedeel. “My pa is baie dankbaar dat iemand die paaiement op sy dogter kan oorneem,” het sy op Instagram gespot.

By ’n foto van hulle twee waarop sy met die verloofring aan haar vinger spog, lui die inskrywing: “Noem hom sommer my verloofde!” “Ons is baie opgewonde!” vertel sy die volgende oggend aan Huisgenoot uit Leipoldtville waar sy deur die week in ’n woonstel bly en gr. R-onderwyseres is.

“Die 60 km Leipoldtville toe is beter as die 1 400 km van Mooinooi af,” sê Sanel, wat elke naweek op die plaas Langbergpunt kom kuier waar Willem ’n plaasbestuurder is.

Onder die koffietafel waarop ’n bonzai-boompie pryk, lê die grys-en-wit katjie, Lisie, die jongste toevoeging tot die Poolgesin. Met ons aankoms op die plaas- werf het hul twee skaaphonde, Tessa en Leah, al om Willem en Sanel se voete gedraai.

In die kombuis staan Huisgenoot se Wenresepte-boeke op ’n rak ingeryg.

boer willem en sanel
Van die geskenkies wat Sanel vir hom gestuur het toe sy Willem se hart wou wen. Foto: Misha Jordaan
Willem en Sanel
Foto: Misha Jordaan

“Ek kon nie kook nie,” erken Sanel. “Maar ek het nou al lekker daaruit geleer.” Willem knik instemmend. “Sy het tot vir my ’n sjokoladekoek vir my 30ste verjaardag gebak,” vertel hy, en Sanel straal.

Met Huisgenoot se vorige besoek in Januarie het hy kamstig gekla oor die motorhuis wat vol bokse is “met haar goeters in”.

Die hand van ’n vrou was toe al duidelik in die plaashuis te bespeur. “Daar is badsout in die badkamer,” het die donkerkopboer toe met ’n vonkel in die oog laat hoor.

“Die huis is besiger. Oral lê iets van haar, soos haarknippies, waarmee sy haar omgewing merk.” En Sanel het speels teruggekap: “Ek moet my stempel afdruk.”

Sedertdien het sy nog dieper spore hier in die huis en in sy hart kom trap. Op die agterstoep is ’n versameling vetplantjies wat hulle saam versorg. ’n Klomp klein foto’s van hul lewe saam hang geraam in die leefvertrek.

“Ek het die kaste getakel,” vertel Sanel oor haar regrukplanne, maar Willem brom: “Sy sê dis reggepak; ek sê dis deurmekaar, want ek weet nie meer waar enigiets is nie.”

Willem en Sanel
Sanel, wat deur die week op Leipoldtville woon en as ’n gr. R-onderwyseres werk, het reeds haar stempel afgedruk in die plaashuis waar sy naweke vir boer Willem kom kuier. Foto: Misha Jordaan

Kykers van die 12de seisoen van die maatsoekreeks het al opgemerk hoe die twee jong verliefdes soos ou getroudes kan kibbel. “Dis in ’n goeie gees,” vertel Sanel vrolik.

Hy het háár gekies uit die drie vroue wat by hom op die plaas kom kuier het. En nou, ’n jaar later, lyk Willem steeds soos ’n kat wat room gekry het. Wat het hom haar laat kies?

Watter wenke het hulle vir die vroue wat nou vir die nuwe seisoen van die reeks inskryf? En waarna moet die boere uitkyk wanneer hulle ’n moeilike keuse moet maak? (Sien kassie onder)

Sanel staan op, verdwyn by ’n kamer in en kom met ’n boks terug met Willem se naam daarop. Sy het dit aan die begin van die reeks vir hom gestuur om hom in te katrol.

“Ons het hom sewe maande laas oopgemaak, so ons hoef nie oor covid-19 te worry nie,” stel sy ons gerus.

Dan begin sy die presentjies daarin uitpak: ’n boksie melk en ’n pakkie suiker met ’n nota daarby: “Lyk my jy het genoeg tee, so ek sal die suiker en melk bring.” Daar is ook ’n goiingsakkie met klein klippies in en ’n boodskap: “Ek sal saam met jou klippe kou.”

Vir sy geliefde hondekind Tessa het sy speelgoed ingesluit om aan te kou met ’n nota: “paw of approval”. Dan kom ’n ou eksemplaar van Charles Dickens se boek David Copperfield te voorskyn wat sy in ’n plakboek omskep het.

Willem en Sanel
Die jong verliefdes voor Willem se ruim plaashuis. Foto: Misha Jordaan

“Ek gaan baie teëpraat,” skerts sy op die dekbladsy waar sy ’n sakkie rooibostee vasgeplak het. Dit herinner Willem aan ’n ander bewonderaar se minder suksesvolle poging.

“Daar was ’n vrou wat vir my Engelse tee gestuur het; ek hou nie daarvan nie,” laat hy hoor. In die middel van die boek het Sanel destyds ’n lys met 10 feite oor haar vasgeplak, soos dat sy van vasdans hou, een van 26 kleinkinders is, ’n no. 3-skoen dra en toe al nege jaar lank in ’n koshuis was.

Sy sê ook haar grootste talent is “om O² om te sit in CO²”. Willem is weer op die seepkissie: “ Ja, dis die waarheid. Sy kan nie ophou praat nie.” As die 10de feit het Sanel verklaar: “Ek dink jy is 10 uit 10.” Nou erken sy: “Jis, dis cheesy.”

Maar wie gee om, want sy het hom daarmee gevang. En hulle lag lekker. Sy haal ’n brief uit die boks, geskryf op papier wat sy “verouder” het deur dit in – let wel – rooibostee te doop.

Willem rakel die dele daaruit op wat sy hartsnare die meeste geroer het: “Jou lag is genoeg om so ’n klein meisie die wêreld se butterflies te gee, dan praat ons nie eens van daai dimpels nie.”

Willem en Sanel
Hul ver­sameling vetplantjies wat hulle saam ver­sorg. Foto: Misha Jordaan

Haar vriendinne in die Klawerhofkoshuis by die Noordwes-universiteit in Potchefstroom waar Sanel toe onderwys studeer het, veral Clarése Grobbelaar, het aan die brief help skryf: “Ons dreig elke jaar, maar nooit het ons Die Een vir haar gesien nie. Maar jy, boeta, het die jackpot geslaan.

Jou mooi hart en persoonlikheid het dadelik ’n groot plek in ons harte kom maak.” Heel aan die einde van Sanel se spesiale plakboek vir hom staan daar: “Fluit fluit, ons storie is lank nog nie uit . . .”

Dalk was sy heldersiende toe sy dit doerie tyd geskryf het. Want nou wag daar een van die mooi dae ’n boerebruilof wanneer die coronavirus eers sy tentakels verslap het . . . 

So wen jy ’n hart

Hier’s die gewilde Boer soek ’n vrou-paartjie se wenke vir deelnemers aan die nuwe seisoen.

Sanel:

  • Slaan eerder jou naam met ’n plank as dat jy iets voorgee wat jy nie is nie.
  • Probeer om dinge te waag wat jy nooit andersins in ’n verhouding sou gedoen het nie.
  • Moenie iemand se tyd mors nie – jy’s op televisie.

Willem:

  • Kyk mooi na wat in die briewe geskryf is.
  • As jy iets anders probeer wees as wat jy is, gaan jy die een of ander tyd uitgevang word.
  • Die vroue moet dít kry wat hulle gesien het.
  • Wees ernstig; dit is nie ’n speletjie nie