Sanel en Willem pas nadat hulle in die eg verbind is op Clanwilliam in die Cederberge. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images
Sanel en Willem pas nadat hulle in die eg verbind is op Clanwilliam in die Cederberge. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

Op die R364 tussen Clanwilliam en Lambertsbaai sien jy ’n afdraaipad gemerk met wapperende ballonne. “Boer kry sy vrou!” kondig die swart bord onder die ballonne aan.

Volg jy vandag daardie pad, kom jy af op ’n toneel wat jou weer aan gelukkige eindes laat glo. Boer Willem se “Klein Pikkewyn”, soos hy haar noem, het nou ’n ring aan haar vinger nadat hulle daar in die prentjiemooi Cederberge getrou het.

Hul lewe saam op ’n rooibosplaas in dié geweste lê nou oop voor hulle. Nie dat die paadjie tot hier sonder kronkels was nie. Hulle moes dwarsdeur die inperking wag om trou te beloof in die NG kerk op Clanwilliam, die dorpie wat Sanel Prinsloo (24) nou saam met haar man, Willem Pool (31), haar tuiste noem.

Nadat hulle in 2019 voor kykers se oë in kykNET se 12de seisoen van Boer soek ’n vrou verlief geraak het, het Sanel van Mooinooi in Noordwes na die Wes-Kaap getrek om nader aan Willem te wees.

Die pad saam lê oop voor hulle nadat hulle in 2019 in Boer soek ’n vrou verlief geraak het. ER Lombard/Media24/Gallo Images
Die pad saam lê oop voor hulle nadat hulle in 2019 in Boer soek ’n vrou verlief geraak het. ER Lombard/Media24/Gallo Images

Sy het begin verlede jaar as gr. R-onderwyseres daar naby op Leipoldtville begin skoolhou. Die 60 km van dié dorpie na Willem se plaas het sy lag-lag afgelê, vertel Sanel se vriendin Clarése Venter, die een wat haar destyds ook die brief help skryf het waarmee sy vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het.

Sanel se raakvatter-persoonlikheid beteken sy weet wat sy wil hê en sy doen moeite om dit te kry. En vandag sien ’n mens daardie noukeurigheid in die perfek gereëlde bruilof. Sy daag klokslag om drieuur by die kerk op. Haar rok het lang kantmoue en ’n 2 meter lange sleep wat met blinkers bespikkel is.

Willem wag sy bruid voor die kansel in ’n swart pak en roesbruin das in. Hy bars byna van opwinding.

Net een ding verleen ’n mate van onsekerheid aan die trouseremonie wat Sanel andersins haarfyn beplan het: Willem se twee skaaphonde, wat die trouringe aan hul nek by die dorp se bekende Blomkerk moet indra. Gaan die honde hulself gedra?

Hul honde, Tessa (links) en Leah, was die ringdrae
Hul honde, Tessa (links) en Leah, was die ringdraers. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

Teen 15:32, nadat die paartjie voor ds. Jacques Greyling hul troubeloftes afgelê het, fluit Willem onverwags ’n paar fluite en die twee honde kom ingestorm.

Die ouer hond, Tessa, is duidelik goed geoefen van jare se skapies jaag, maar die jonger Leah skrik vir die fotograaf, blaf ’n paar keer en skarrel tussen die gaste deur.

Genadiglik maak albei honde dit tot voor in die kerk en die boer en sy verloofde word met ’n ring en ’n soen amptelik man en vrou.

Ná die seremonie wag die twee ringdraers gedienstig agterop Willem se bakkie terwyl hul baas en nuwe nooi onder ’n reënbui van konfetti van gansvere en bloekomblare uit die kerk kom.

Maar nog iets wat Sanel nie sou kon beheer nie, is die weer. En soos voorspel, sak ’n reënbui skielik buite die kerk uit. Die neerslag ry die fotonemery voor die onthaal in die wiele terwyl almal onder hul sambrele vir skuilplek skarrel.

Maar in hierdie geweste kla ’n mens nie oor reën nie. Dit beteken seën. En nes die bekende Clanwilliamdam is die meneer en mevrou se harte vol. Vol van  liefde  vir  mekaar,  hul  familie  en  vriende.

Boer soek ’n vrou word toe Boer kry sy een.

Boer Willem gee sy pragtige bruid ’n soen nadat hulle hul troubeloftes voor ds. Jacques Greyling afgelê het. Foto: ER Lombard/Gallo Images
Boer Willem gee sy pragtige bruid ’n soen nadat hulle hul troubeloftes voor ds. Jacques Greyling afgelê het. Foto: ER Lombard/Gallo Images

TAFELS VOL LIEFDE EN VREUGDE

Ook in die onthaalsaal op die  Ysterfontein-rooibosplaas  se  enorme  skuur is die moeite wat in die reëlings ingegaan het duidelik.

Kom jy daar aan, verwelkom ’n reuse-boom met wit lapbloeisels jou. Binne staan nog  een.  Daar is ’n Polaroid-kamera sodat gaste foto’s vir die egpaar se plakboek kan neem.

Stap jy in die skuur in, is daar ’n waentjie met glashouers vol lekkers van toeka se dae, soos appelkosies, Chappies en gesiggielekkers.

Bont ligte omtower die ander groot bome wat in potte ingedra is. Feëtjieliggies hang uit die dak. Op die tafel op gaste se borde is daar ’n briefie wat jou verwelkom: “Ons stick jou vir een gratis drankie van jou keuse. Dankie dat jy hier was.”

Die spyskaart belowe ’n “harvest table” as voorgereg, met “skaapspit, hoendersosaties  met  kapokaartappels,  pampoenpoffers, romerige groenbone met feta en spek en ’n mengelslaai.” Die nagereg is die lekkergoed by die ingang en die troukoek.

Die tafeldekor. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Ima
Die tafeldekor. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

Die bruid en bruidegom daag kort voor ses op, nes Sanel die 201 gaste ’n rukkie tevore beloof het. Dadelik word die troukoek gesny. Die onderste laag is wortelkoek, Willem se gunsteling. Die boonste laag is rooifluweel, Sanel se voorkeur. Hulle voer mekaar en sorg dat daar van die lekker Switserse meringue-versiersel op mekaar se gesig agterbly.

En hierna open hulle die dansbaan met Theuns Jordaan se “Sal jy bly”: My voete stap al jare lank, soos ’n rigtingwyser op die Noordwes pad . . . Sal jy trou in ’n ou wit rok, met my?

Gou  is  Sanel  se  leliewit  sleep  roesbruin, maar daaraan steur die gelukkige bruid haar nie. Die toesprake is kort en kragtig en die grappies skoon. Dis veral die woorde aan Sanel se ouers van een van  Willem  se  strooijonkers, JJ du Plessis, tydens sy heildronk wat diep tref: “Ek  wil  hê  julle  moet  met  ’n  smile hier wegry. En julle moet wakker word met ’n smile  die  volgende oggend, want jul dogter is by Willem en hier by ons in die heel beste hande.”

Die bruidspaar by hul ouers. Van links is Johnelle
Die bruidspaar by hul ouers. Van links is Johnelle en Herman Prinsloo, Sanel en Willem en Willem se ouers, Annetjie van Sittert en Willie Pool. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

'EK WEET HY SAL MOOI NA HAAR KYK'

Met sy plattelandse  Afrikaanse  aksent  en  die  kortmouhemde wat hy so graag selfs op koue dae dra, lyk Willem gewoonlik ook soos ’n boer wat dinge kan raakvat.

Hy was oor die jare op Burgersdorp, Lichtenburg en Clanwilliam op skool en boer al 10 jaar hier op die plaas Langbergpunt. Sy pa, Willie, is ’n eiendomsagent op Knysna aan die Tuinroete.

“Ek het nooit ’n episode van Boer soek ’n vrou misgeloop nie,” vertel pa Willem op die onthaal. “Ek het dit afgelaai en by die werk op my laptop gekyk.”  

Hy vertel hy het in Sanel ’n derde dogter bygekry.

Annetjie van Sittert, Willem se ma, is ’n tweede keer getroud en woon op Hartenbos.

“Op TV het ek nie vir seker geweet hy gaan haar kies nie, maar toe ons haar voor die program op ’n braai ontmoet, het ek geweet sy is die een. Ek het van toe af baie van die meisiekind gehou.” Willem se susters, Alida Botma (42) en Elmaré Doykova (48), het van Klerksdorp gekom vir die troue.

Sanel het op die myndorpie Mooinooi grootgeword en was aan die Hoërskool Brits in die koshuis. Daarna het sy aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom  onderwys  studeer. 

Haar  pa, Herman, is ’n sakeman op Brits en haar ma, Johnelle, hoof van ’n kleuterskool. Sy het ’n jonger suster, Lu-Mari (17), en kleinboet, Drikus (14).

“Ons is saam met julle bly.” Die bruid en bruidego
“Ons is saam met julle bly.” Die bruid en bruidegom deel nog ’n soen terwyl hul strooijonkers en -meisies toekyk. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

Voor die troue wag Herman buite die gastehuis waar sy oudste aantrek. “Ek moet seker rustig wees,” sê hy. “Dis my eerste kind se troue. Dis my vuurdoop. Al wat ek vir seker weet, is ek kry ’n baie goeie seun by.”

Maar dan is daar ’n tikkie spyt in sy stem toe hy opmerk: “Sy bly nou so ver.” Herman het darem voor hul verlowing op 21 Julie vir Willem in ’n stemboodskap laat weet hy is gelukkig met sy dogter se keuse. “Dis reg. Jy het my blessing,”   het hy gesê.

Willem  het  dié  boodskap  vir Sanel gespeel toe hy haar op die plaas die jawoord gevra het. Jong Drikus is beskermend oor sy sussie wat nou so ver bly, maar ook hy is in sy noppies met die troue.

“Ek is bly dit is Willem. Ek weet hy sal mooi na haar kyk.”

Die sangeres Leah, wat die aanbieder was van die Boer soek ’n vrou-seisoen waarin Willem en Sanel mekaar ontmoet het, is ook onder die gaste, met haar man, Hennie van Niekerk, aan haar sy.

By Leah (middel), aanbieder van die Boer soek ’n v
By Leah (middel), aanbieder van die Boer soek ’n vrou-seisoen waarin hulle en Hantie Fourie en Hentie Kruger deelgeneem het. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

“Dis so lekker om hier te wees,” vertel sy. “Ek mis die mense.” Sy vertel sy hoef darem deesdae nie meer so ver te ry as met haar Boer soek ’n vrou-dae nie, want sy is nou die aanbieder van die leefstyl-program Duidelik dapper.

Daar is groot opgewondenheid onder die gaste toe hulle opmerk nog ’n Boer soek ’n vrou-paartjie, Hentie Kruger en Hantie Fourie, is ook hier. ’n Mens ry juis by Hentie se ou plaashuis verby op pad na Willem. Die twee bure het toevallig vir dieselfde seisoen ingeskryf, waar albei die topvyf gehaal en liefde gevind het.

BUURMAN, WANNEER TROU JULLE?

Hantie het van Pretoria na Clanwilliam getrek en ’n werk by ’n prokureur gekry om naby Hentie te wees, maar toe hy tydens inperking sy werk op die plaas verloor en nuwe geleenthede in die rooibostee-bedryf in Pretoria hulle voordoen, het hulle na haar huis in die Jakarandastad teruggetrek.

Mis sy die platteland?

There is no place like home,” antwoord Hantie. Dis lekker vir haar om naby haar mense in Pretoria te wees. Hentie moet nog die groot stad gewoond raak. “Ek sukkel om by daardie vreeslike plek aan te pas,” bieg die plaasjapie. “Maar Hantie maak dit alles die moeite werd,” voeg hy vinnig by.

Het hulle ook nou troukoors? Hantie is gou met ’n antwoord gereed: “Ons het albei kinders wat op trou staan. Laat hulle eers in die eg verbind word.”

Sy Willem het ’n sesjaar-plan  gehad  voor  hulle sou  trou, het Sanel begin verlede jaar nog aan Huisgenoot vertel. “Ons vat ons tyd en wil nie ons verhouding oorryp druk nie,” was haar woorde toe.

As jy boer, dra jy vellies wat gebou is om te hou. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images
As jy boer, dra jy vellies wat gebou is om te hou. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

“Ons is taamlik seker ons hoort by mekaar,” het Willem destyds gesê. “Ons sal eers nog ’n paar jaar saam wil groei en vir die boeretroue spaar.”

Maar soos die reën wat vandag uitsak, kan jy nie voorspel wat met die liefde gebeur nie, en die verliefdes voel toe sommer veel gouer gereed vir trou.

Jacques het juis in sy preek uit Spreuke 30: 18 en 19 aangehaal: “Daar is drie dinge wat vir my verbasend is, nee, eintlik is daar vier wat ek glad nie kan verstaan nie: hoe ’n arend in die lug kan bly, hoe ’n slang teen ’n rots kan uitseil, hoe ’n skip op die see kan vaar en hoe ’n man die hart van ’n vrou wen.”  

Hy het verder vertel God is ’n komponis. “Toe Hy man en vrou geskep het, het hy nuwe musiek geskryf. Luister met ’n geoefende oor na hierdie musiek. Laat ander hierdie komposisie hoor, en sing dit gereeld vir mekaar.”

In haar kantrok en Willem se swart pak en leerdas
In haar kantrok en Willem se swart pak en leerdas op die R364 na die rooibosteeplaas wat hy bestuur. Foto: ER Lombard/Media24/Gallo Images

DIE TROUPAAR BEDANK:

Blos Bakery (Troukoek) bake@blosbakery.co.za; Enzoani (Trourok) infoafr@enzoani.com; Kilig Photo en Kilig Films (Foto's en video) kiligphoto@gmail.com; Evelyn Francis (Bruid se grimering) www.evelynfrancis.co.za; Bazeru Events (Blomme en dekor) Boeta Genis 083-601-6456; Strassberger Shoes (Bruidegom en strooijonkers se skoene) 021-492-1461; Soul Leather (Bruid se skoene) soulfinery.co.za; Cederberg Wines (Wyn op tafels) 021-482-1461; Function and Events (Sommige dekor) 021-300-4035; Candles 4 U (Kerse op die tafels) 021-300-4035