Aanhangers kan werklik nie genoeg kry van Willem (30) en sy pasmaat, Sanel (23), se verhouding nie en boonop het die ontwerper Ita Oberholzer onlangs ’n skattige skets van dié tweetjies in die sosiale media gedeel.

“Jong, ek sal nou nie sê dit is roem nie,” lag Willem, “Maar ek is bly dat die mense dit geniet en deel in ons vreugde.” 

“’n Jaar gelede het ek nie eers gedink dat ek aan Boer soek ’n vrou gaan deelneem nie. Ek het beslis nie gedink ek sal nou hier sit met ’n pragtige nooi aan my sy, en dan pronk ons nog op ’n skets op die internet nie,” vertel Willem aan Huisgenoot.

“Dit voel steeds of ek elke dag in ’n droom lewe en die droom is so stelselmatig besig om waar te word; dit is ’n baie lekker gevoel,” sê hy.

En pla al die aandag dan nie?

“Die mense lewer baie kommentaar aanlyn, maar ek het nog nie regtig slegte kommentaar raakgelees nie,” vertel Willem, wat op ’n rooibosteeplaas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap boer. “Die mense is regtig dierbaar en hulle lewer die mooiste kommentaar.”

Selfs die mense wat hulle gereeld stop om ’n foto te neem of geselsies aan te knoop is nie vir die paartjie ’n probleem nie. Gelukkig is hul albei “mense-mense”, verklap hy die geheim. “Daar het eendag ’n oom vir sowat ’n halfuur met my kom gesels en hy het vir my foto’s van sy plaas gewys,” vertel Willem. “Ons WhatsApp nou nog en hy het gesê ons moet vir hom op Senekal kom kuier.”

’n Mens maak sommer vriende met die mense wanneer hulle met jou kom gesels, lag Willem.

Tog voel Willem die aandag en aanlyn kommentaar plaas nie regtig druk op hul verhouding nie. Inteendeel, dit bring hulle nader aan mekaar. “Dit is altyd ’n lekker onderwerp om oor te gesels. As Sanel oor naweke hier kuier, sê sy: ‘Het jy gesien iemand het nou weer dit geskryf of dat gesê?’ Dan lag ons lekker saam,” vertel Willem.

boer willem,plaas,clanwilliam
Voor sy plaashuis naby Clanwilliam saam met die vrou op die plaas, sy eenjarige skaaphond, Tessa. Foto: Corrie Hansen

Sedert die TV-reeks op 9 Januarie vanjaar geëindig het, het die kollig op die tweetjies nog nie regtig dowwer geraak nie, bieg Willem.

“Ons was nou al in Rapport, die plaaslike koerant en in die Huisgenoot gewees,” vertel hy. “Dit is lekker en ons geniet dit. Ons sien dit as iets waarop jy kan terugkyk wanneer jy ouer is.

“Dit vorm als deel van ’n baie lekker liefdesverhaal wat ons besig is om saam te skryf,” voeg Willem by.