Die rugbyheld AJ Venter gryp nou die lewe aan en v
Die rugbyheld AJ Venter gryp nou die lewe aan en vertel ander hoe om dit te doen nadat hy jare lank teen angs­tigheid baklei het. Foto: Facebook/AJ Venter

Wanneer die rooikopflank op die rugbyveld uitgedraf het, het die wedstryd vlam gevat. Maar min sou kon raai sodra AJ Venter sy tokse uittrek, verander die onverskrokkenheid op die veld in vrees en onsekerheid.

“Die lewe is nie regverdig nie,” bulder sy stem oor die kubergolwe uit sy blyplek op ’n landgoed op Ballito naby Durban.

’n Mens moet twee keer kyk om die man op die skerm as die oud-Springboklosvoorspeler te herken. Met sy byderwetse bril met ’n vierkantige groen raam lyk AJ (47) vandag eerder soos ’n ontwerper of kunstenaar.

“Ek het nog een met ’n blou raam wat my meisie vir R220 aanlyn gekoop het,” vertel hy. “Haal ek dit af, is alles net dof om my,” vertel hy met hande wat voor hom rondtas soos ’n swaksiende.

Dis byna vreemd om dié breker so eerlik oor ’n swakplek in sy mondering te hoor praat. Maar, vertel AJ, hy moes ’n paar jaar gelede sy kwesbaarhede in die oë kyk.

AJ het ook flank vir die Kaapse span, die Stormers
AJ het ook flank vir die Kaapse span, die Stormers, gespeel. Foto: Gallo Images

In sy 12 jaar as ’n beroepsrugbyspeler in die vroeë 2000’s het hy vir amper ál Suid-Afrika se provinsiale spanne gespeel – buiten die Blou Bulle – en hy het ook ’n draai in Italië gemaak.

Hy was bekend as ’n geharde speler wat voluit gespeel het. Op die veld kon dit skaars beter gaan, en hy het boonop drie suksesvolle ondernemings gehad.

AJ Venter het ook vir die Barbarians uitgedraf. Fo
AJ Venter het ook vir die Barbarians uitgedraf. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar sy verhoudings het telkemale skipbreuk gely, erken hy. Hy is twee keer geskei, en ná sy uittrede het nog ’n langter­mynverhouding geëindig.

En toe, sowat vyf jaar gelede, het sy lewe uitmekaargeval.

Hy was middeljarig, sonder kind of kraai. Sy sakebelange het misluk en die gloriedae waar hy Saterdag ná Saterdag op die veld toegejuig is, was ver in die verlede.

As jy jou fokus van die negatiewe kan wegstuur, kan jy jou lewe verander.

“Ek het besef ek wil nie meer kinders hê nie, want hulle sal 18 wees as ek 60 is, maar ek wou nie een­saam wees nie. Ek het vasgevang geraak in hierdie spiraal van vrees. Hoe nader die naweek gekom het, hoe meer gefrustreerd het ek geraak. Terwyl al my vriende en familie mense gehad het om dit mee te deel, het ek alleen gesit,” onthou hy.

Een Vrydagoggend in 2015 het hy opgestaan en siek gevoel.

“My woonstel se mure het daardie middag op my toegesak. Dit was vir my moeilik om selfs te loop. Ek het my dokter gebel, en hy het gemeen dit klink soos ’n angsaanval.”

Die dokter het medikasie voorgeskryf – en AJ kon vir die eerste keer in maande lekker slaap.

“Dit het my laat beter voel, maar ek gebruik min medisyne, nie eens vir ’n babelas of hoofpyn nie. Toe ek met die medikasie ophou, het ek weer angs gekry. Ek moes myself afvra: ‘Wat het met AJ gebeur? Hoekom voel jy so?’ ”

Mettertyd het hy ’n psigiater gaan sien en vasgestel hy is nie klinies depressief nie en dat sy simptome nie deur ’n chemiese wanbalans in sy brein veroorsaak word nie.

Die oplossing was om ’n nuwe manier van dink aan te leer, sê hy.

“Ek moes weer leer om in dankbaarheid te leef. Ek is nou op die beste plek waar ek ooit was. Ek groei elke dag omdat ek elke dag my oortuigings uitdaag.”

Dis dié insigte wat hy as ’n motivering­spreker graag met gehore deel. “As jy jou fokus van die negatiewe kan wegstuur, kan jy jou lewe verander.”

Die donker dae kort ná daardie eerste angsaanval voel vandag ver weg.

Ná twee en ’n half jaar as enkellopende het hy die afgelope jaar weer ’n vrou in sy lewe. Hy en Danielle Roberts (42), ’n dieetkundige, is juis pas terug van ’n vakansie op die Tuinroete.

Hy en die dieetkundige Danielle Ro­berts gaan uit.
Hy en die dieetkundige Danielle Roberts gaan uit. Foto: Facebook/AJ Venter

Hy vermoed ’n staptog in die berge is die rede daarvoor dat hy vandag ’n bietjie grieperig voel.

“ ’n Bosluis het my gebyt, en ek vermoed ek het dalk bosluiskoors. Ek twyfel of dit covid-19 is.” Oor die pandemie sê hy bloot: “Ons weet dit is ’n werklikheid, maar ons lewe nie in vrees nie.”

Benewens sy podsending, Life with AJ, waarin hy lewensafrigting en motiveringspraatjies bied, werk hy ook by ’n teg­nomaatskappy in Durban.

AJ was ’n windgat. AJ is nou ’n beter ou. Jy kan leer uit die verlede om die toekoms beter te beplan. Ek leef veral in die nou.

Allan Kleynhans, ’n motiveringspreker wat voorheen by die Sharks gewerk het en nou in Engeland in die Amerikaanse lewensafrigter Tony Robbins se span is, het hom uit die donker gat van angs gehelp – en dit het maande geduur, sê AJ.

“In my eerste sessie op Skype het ek ’n uur lank gehuil,” onthou hy. “Ek moes die snellers identifiseer wat my angs veroorsaak het. Selfs in die middel van die nag. Was dit geld of verhoudings?” Met Allan se hulp kon hy tegnieke aanleer om dit te bowe te kom.

“Ek identifiseer dit en sê: ‘Ek respekteer jou,’ en probeer dan my denke stuur na iets waarvoor ek dankbaar is.”

Oor sy huwelike en vorige verhouding wil AJ nie uitbrei nie, maar hy het daaruit geleer, sê hy.

“Ek is oor niks spyt nie, maar besef nou ek was nie in beheer van my denke nie. AJ was ’n windgat. AJ is nou ’n beter ou. Jy kan leer uit die verlede om die toekoms beter te beplan. Ek leef veral in die nou.”

Deesdae mediteer hy ook om hom in dankbaarheid gewortel te hou. Hy gebruik ses dae per week ’n app met begeleide meditasie, musiek en praatjies deur kundiges.

“Ek gebruik dit 10 minute op ’n keer. Ek sou beter rugby gespeel het as ek dit des­tyds gebruik het.”

AJ Venter in die trui van die Sharks. Foto: Gallo
AJ Venter in die trui van die Sharks. Foto: Gallo Images

Wanneer hy met leerders praat, steek hy niks weg nie, en hy vertel onder meer hoe hy as skoolkind by die HTS Louis Botha in Bloemfontein geboelie is.

“Die afknouery het in st. 6 gebeur. Saans in die koshuis het ’n senior rondgeloop en water op mense uitgegooi. Of hulle het kerswas in ouens se hare laat drup.

“In my geval was daar twee matrieks wat om die een of ander rede nie van my gehou het nie. Ek het wakker geword met verskriklike pyn. My voete was gebrand. Hulle het naskeermiddel op my voete gegooi en dit aan die brand gesteek.”

Hy het maande lank gesukkel om te loop weens die brandwonde, en hy dra vandag nog letsels daarvan.

“As kind is dit moeilik om daaroor te kom, maar ek weet nou ons is in beheer van ons denke en emosies. Ons kan besluit of ons dit vir ewig teen daardie mense gaan hou. Ons kan besluit of ons iemand wat ons boelie op Facebook, Instagram of Twitter wil hê.”

­­AJ saam met sy honde, (van links) Malla, Zulu en
­AJ saam met sy honde, (van links) Malla, Zulu en Thandi. Foto: Facebook/AJ Venter

Terwyl 2020 weens die coronaviruskrisis wêreldwyd ’n uitdagende jaar was, het dit vir AJ een ligpunt ingehou: sy ontmoeting met Danielle.

“Ek wou ’n ou help om gewig af te skud en het geweet sy is ’n dieetkundige by die Sharks. Sy het ingestem om dit pro bono te doen,” vertel hy.

Die twee het mekaar kort voor die inperking in Durban ontmoet, en van daar het hulle daagliks per video-oproep gekommunikeer – soms tot vier uur lank.

“Dit was die beste manier om mekaar te leer ken. Ons het alles van mekaar geweet sonder om te soen en druk; sonder fisieke elemente,” vertel AJ.

Toe die inperking tot vlak 5 verslap is, het hulle mekaar “behoorlik gedruk”, grinnik AJ soos ’n stout seun. “Ek het haar in die kattebak van my kar by die landgoed ingesmokkel!”

En maande later is hulle gelukkiger as ooit.

“Ons het mekaar nie nodig nie, maar ons wil by mekaar wees. Sy is nie by my omdat ek rugby speel, met ’n deftige motor ry of in ’n groot huis bly nie. Dis hoekom dit werk. Sy soek net vir AJ.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe