Kirsten Grant het ’n spesiale oggend saam met haar
Kirsten Grant het ’n spesiale oggend saam met haar vriendinne gehad. Foto: Armadillo Media

Die ses vroue het gedink hulle is genooi vir ’n heerlike ontbyt by die restaurant Olives & Plates in Sandton, maar is toe met die strooimeisienuus verras. Die besties het glase sjampanje geklink, koek geëet en koffie saam geniet om die goeie nuus en toekomstige troue te vier.

By haar strooimeisies. Foto: Armadillo Media
By haar strooimeisies. Foto: Armadillo Media

“Al my vriendinne was baie verras. Namate hulle een-een ingeloop het, kon ek sien hoe opgewonde hulle raak,” vertel Kirsten. 

Malcolm het in Julie vir Kirsten, sy hoërskoolliefde en meisie van die afgelope 10, jaar die jawoord gevra. Sy is 'n dokter wat haar gemeenskapsdiensjaar by die Sebokeng-hospitaal in Gauteng verrig.

Kirsten Grant en Malcolm Marx trou volgende jaar.
Kirsten Grant en Malcolm Marx trou volgende jaar. Foto: Instagram (@kirstagrant)

Kirsten verklap dat hulle op die wynplaas MolenVliet tussen Franschhoek en Stellenbosch in die Boland gaan afhaak. 

“Dit was bietjie moeilik om reëlings te probeer tref tydens die covid-19-inperking. Veral omdat ons Kaapstad toe moes vlieg om na plekke te kyk. Gelukkig was Malcolm nog in Suid-Afrika toe ons weer plaaslik kon begin reis. Ons is so opgewonde, want MolenVliet is beeldskoon,” laat sy hoor. 

“Die enigste ander ding wat moeilik is weens covid-19 is die feit dat nie baie mense kan betrokke wees wanneer jy rokke aanpas nie. Ek dink ek sal eerder bietjie wag voor ek dit doen, want ek wil my ma, my ouma en al my beste vriendinne daar hê as dit moontlik is.”

Haar suster, Kendal, is hoofstrooimeisie. Foto: Ar
Haar suster, Kendal, is hoofstrooimeisie. Foto: Armadillo Media

Te midde van al die beplanning moet Malcolm ook terugkeer na Japan, waar hy vir die Kubota Spears-rugbyspan uitdraf.

“Ons is bietjie angstig, want hy gaan vir die meeste van die tyd in Japan wees. Met volgende jaar se rugbyseisoen wat nog baie onseker is, weet ons nie hoe baie tyd daar gaan wees vir hom om my te help met die beplanning nie. Gelukkig het ons ’n wonderlike troubeplanner wat die grootste gedeelte van die beplanning en die agter-die-skerms-werk doen.”

Sy het geskenkbokse laat maak om haar vriendinne t
Sy het geskenkbokse laat maak om haar vriendinne te vra om strooimeisies te wees. Foto: Armadillo Media

Vir nou het Kirsten net een ding waarop sy wil fokus. 

“Ons moet nog die dekor en kos ook finaliseer, en ek het ’n paar idees wat ek wil uitprobeer. Maar die belangrikste is dat ek my rok moet kry.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe