Haar swanger lyf het soos ’n ballon voor haar uitgebult, en dit was net twee weke voor die geboorte van haar jongste seun. Toe kom die oproep – en sy besef sy is nou ’n enkelma.

Haar derde kind sou Annette Reinach se laatlam wees. Ouboet Herman was toe nege en middelkind Cobus ’n gr. 1’tjie in sy eerste week op laerskool. En toe is dié drie skielik sonder ’n pa.

Vandag is Cobus op 29 die ratse Springbokskrumskakel wat tydens die onlangse Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan die vinnigste Wêreldbekerdriekuns ooit aangeteken het toe hy binne 11 minute drie drieë in die Bokke se wedstryd teen Kanada gedruk het.

Ouboet Herman is 32 en kleinboet Jaco al 22. Maar al het meer as twee dekades ná daardie skokoproep verloop, onthou Annette (nou 58) steeds die oomblik toe sy hoor haar man, Jaco (toe 35), het in ’n motorongeluk gesterf.

Hy sou vandag so trots gewees het op sy middelkind se prestasies op die rugbyveld – Jaco sr. was immers destyds self ’n Bloemfonteinse sportlegende wat in 1986 vier wedstryde as vleuel vir die Springbokke gespeel en ook in atletiek Springbokkleure verwerf het.

“Jaco was op pad na Johannesburg vir sake,” onthou Annette nou daardie dag toe die lewe van haar en haar drie seuns soos handomkeer verander het.

“Dit was ’n dag baie soos vandag – reënerig en nat. Toe tref hy ’n plas in die pad naby Kroonstad, en hy moes beheer verloor het. Hy is op slag dood.” Dit was die swaarste tyd van haar lewe, vertel sy aan Huisgenoot.

Annette by haar seuns. Van links is Jaco, Herman e
Annette by haar seuns. Van links is Jaco, Herman en Cobus.

“Ná die ongeluk het Herman ’n ruk lank geweier dat ons die voordeur oopmaak of die foon antwoord, want hy het gesê dan huil ons. Cobus het in die stort weggekruip. En toe, twee en ’n half weke later, is Jaco se naamgenoot gebore.”

Sy het daarna net haar ma, Norma du Toit, gehad om haar met die drie seuns te help. Haar sibbes was ver en vriende het maar hul eie kinders gehad om groot te maak.

Jaco sr., Herman (links), Cobus en Annette voor Ja
Jaco sr., Herman (links), Cobus en Annette voor Jaco sr. se dood.

Annette vertel hoe sy en haar ma deur die skooljare elk langs ’n ander sportveld gestaan en in rustyd plekke geruil het sodat die seuns altyd iemand langs die kantlyn het.

Sy vee ’n paar trane af; skud haar kop. “Ag, kyk nou net, wat gaan aan met my? Dit is al 22 jaar gelede.”

Meer as twee dekades van alleen en enkelouer wees.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Cobus druk een van sy drie drieë teen Kanada. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dis bittersoet. Die seuns is vandag groot en ek kan nie trotser wees nie. Toe Cobus daai drie drieë teen Kanada druk, het die dak van hierdie huis gelig, so hard het ek geskree.”

Annette woon steeds in Bloemfontein, waar sy al meer as 20 jaar in die administrasieafdeling van die Mangaung-munisipaliteit werk. Haar jongste, Jaco, studeer vanjaar vir sy B.Com. (rekeningkunde)- honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat en woon in ’n woonstel langs haar huis.

Hy dra rooibostee en koeldrank aan terwyl ons op ’n nat Maandagoggend diep in die verlede delf.

Jaco sr. saam met Herman en Cobus.
Jaco sr. saam met Herman en Cobus.

Cobus en Herman, ’n finansiële adviseur, woon ver.

“Herman en sy gesin bly in Johannesburg. Cobus-hulle is in Engeland,” sê sy. Haar Springbokseun en sy vrou, Frances, woon op die Engelse dorp Northampton saam met hul babaseun, Righardt (nege maande).

Foto: Gallo Images/Getty Images
Cobus as jong speler by die Haaie in 2013. Foto: Gallo Images/Getty Images

Cobus het al meer as 50 wedstryde vir die Engelse premierligaspan die Northampton Saints gespeel.

Hy en Frances is in 2017 getroud. Haar ouers, Alwyn en Frances Janse van Vuuren, boer buite Cradock in die Oos-Kaap.

Annette erken sy verlang. “Dis maar moeilik wanneer hulle so ver is. Veral omdat ek Righardt ook so min sien, maar ons maak gereeld video-oproepe.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Cobus in aksie vir die Engelse premierliga­span die Northampton Saints

“Hulle is gelukkig, en ek is so bly dit gaan goed met hulle,” sê sy dan.

Sy was nie tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan nie.

“Dis moeilik, want dis baie duur om soontoe te reis. Herman was daar met die wedstryd teen Kanada; dit was baie spesiaal.”

Die drie broers het ’n hegte band, al woon hulle ver van mekaar. Hulle gesels gereeld oor rugby en ontleed Cobus se wedstryde, sê Annette. En dis of iets van pa Jaco in sy seuns agterbly.

“Ek sien hul pa in Herman en Jaco se loop. Hulle het ook sy sosiale persoonlikheid. Cobus is meer soos ek. Hy is gemaklik tussen sy eie mense, maar hy praat nie baie of maklik nie.”

Sy onthou toe Cobus in 2014 die eerste keer vir die Springbokke uitgedraf het.

“Dit was spesiaal, want dit was op Nuweland. Dieselfde rugbyveld waar sy pa sy eerste cap gekry het. Ek wou na die capping-seremonie toe gaan, maar Cobus het my die dood voor die oë gesweer as ek sou huil. Ek het belowe, en weet jy, ek het my trane gesluk.”

Sy het al vir Cobus gesê sy pa sou trots gewees het op hom, maar nie ma of seun het regtig erg aan sulke emosionele praatjies nie, vertel sy. Sy is ook tjoepstil voor hy ’n wedstryd speel. “Ek sal eers ná die tyd vir hom ’n boodskap stuur en sê: ‘Lekker game, Boeta.’ ”

 Sy pa, Jaco, het in die 1980’s vir die Springbokk
Sy pa, Jaco, het in die 1980’s vir die Springbokke uitgedraf.

Al die seuns het sporttalent by hul pa gekry, sê Annette. Jaco frons oorkant haar op die rusbank. “Ma, ek het derdes gespeel. Cobus is die sportman,” sê hy en lag.

“Cobus is baie goed in tennis en muurbal,” vervolg Annette.

“Jaco het destyds nooit die seuns gedwing om aan sport deel te neem of rugby te speel nie. Eers toe hulle ouer word, het hulle besef hoe ’n groot sportman hul pa was.

“Cobus het in gr. 11 aan Grey-kollege nog in die sewende span rugby gespeel en toe in matriek vir die eerstes. Dis toe dat hy besef hy wil ’n loopbaan daaruit maak. Ek het hom ondersteun. Ek vertrou nog altyd my seuns met hul besluite,” sê sy.

Ná skool, toe Cobus na die Sharks-akademie in Durban is, het sy ma hom elke aand om tienuur gebel, agt jaar lank – tot groot vermaak van sy spanmaats.

“Dit was die eerste keer dat hy alleen was. Hy moes sy eie wasgoed was en kos maak. Ek het maar inge-check,” vertel sy.

Oor haar Bokseun se lewe ná sy rugbydae bekommer Annette haar glad nie.

“Kom ek sê so: Wanneer Herman en Cobus op ’n skoolrugbytoer gegaan het, het ek albei R100 gegee, en die dag as die bus stop, sê Herman hy het R50 geleen en ek moet daai pel terugbetaal. Cobus sal vir my R80 teruggee. So, nee, ek is glad nie daaroor bekommerd nie.”

En het sy geglo die Bokke gaan vanjaar die Wêreldbeker wen? Nee, skud sy haar kop.

“My ma is ’n bietjie van ’n glas-is-half-leeg-mens,” spot Jaco.

“Ek verkies om verras te wees, nie teleurgesteld nie,” sê Annette glimlaggend. Sy erken sy en die seuns het deur die jare maar min oor hul pa gepraat.

“Maar almal op die dorp het ’n storie oor my pa. Al die vriende en familie het vir ons stories oor hom vertel,” sê Jaco. Maar met die troues van haar twee oudstes, elke keer wanneer Cobus oor ’n doellyn duik of in die Groen-en-Goud uitdraf, en met die geboorte van haar drie kleinkinders, kan Annette nie anders as om deesdae baie aan Jaco te dink nie.

“Elke keer dink ek: ‘Wat sou hy nou gesê het?’ of ‘Wat sou hy nou gedoen het?’ Iemand het net onlangs, ná die oorwinning, vir my gesê Jaco staar van daar Bo af met ’n hengse glimlag op sy gesig.” 

Foto’s: Frikkie Kapp, Gallo Images/Getty Images, Wessel Oosthuizen/Gallo Images, Verskaf