Die rugbybroers het onlangs groot hartseer beleef. Hul ouma aan moederskant, Sarah Samuels, van die Strand in Kaapstad, is op 8 Julie op die ouderdom van 86 oorlede.

“Sy was deel van baie eerstes. Sy het ons eerste rugbybal gekoop; sy was deel van ons eerste dag op kleuterskool en skool,” vertel Ramone (26). Sy ouma het ’n groot impak gehad het op die gemeenskap, en haar deur was altyd oop vir ander in haar straat, vertel hy.

“Sy kon nie lees of skryf nie, maar sy het geweet wanneer daar ’n drie gedruk is,” vertel Ramone, wat vroeër vir die Stormers uitgedraf het. 

Ramone se jonger broer, Damian (23), het ook op sy Instagram-blad hulde aan hul geliefde ouma gebring. “ ’n Vrou maal ’n duisend. Baie dankie vir alles, ouma, ons gaan jou vreeslik mis,” het Damian by ’n foto van hom en sy ouma geskryf.

“Sag rus saam met oupa Christie en ons Hemelse Vader. Ek is sad vandag, maar weet jy het gefight tot die einde om ons nog ’n keer te sien. Maar jou tyd is nou verstreke hier saam ons, en dis tyd vir jou om nou te seëvier saam met Liewe Jesus en al die Engele. Nogmaals dankie vir alles wat jy vir ons gedoen het en dat jy my en almal anders laat glo het dat ek ’n Springbok sou wees.”

Damian se ouer broer, Ramone, vertel dat hy altyd vir sy ouma gesê het dat hy die een sou wees wat haar eendag begrawe. En hy kon dit doen danksy die begrafnisonderneming wat hy en Damian drie jaar gelede begin het.

Die idee om hul eie begrafnisonderneming te begin het posgevat ná die dood van ’n familielid in 2017, sê Ramone. Hy en die res van sy familie was bitter teleurgesteld in die gehalte van die begrafnisdiens.

“Ek het na Damian toe gegaan en gesê dat ons iets beter moet uitwerk, en dat die manier hoe begrafnisse gedoen word, moet verander,” sê Ramone.

Dis toe dat hulle hul eie begrafnisonderneming begin het. Drie jaar later is Ramone steeds die meerderheidsaandeelhouer terwyl Damian 40% van die aandele besit.

“Gelukkige derde verjaardag aan my eerste baba, SamWill Funeral Services & Mortuary!” het Ramone vroeër vandeesmaand op Instagram geskryf.

“My liefde vir wat ek doen is groter as wat ek ooit gedink het, maar God het ander planne vir myself en my familie gehad. Drie jaar oud en geslagte om te volg. Amen,” het hy sy inskrywing afgesluit.

Vir Ramone, wat in September verlede jaar vir die eerste keer pa geword het, gaan dit oor familie. “Dit is ’n familiebesigheid. Ek het ’n seun, Ramone Edwin Samuels, en ek wil hê dat dié onderneming deur die geslagte heen aan hulle en ander oorgedra moet word.

“Dit is wonderlik dat ons ’n goeie diens kan lewer en in die proses kan bydra tot werkskepping in ’n land met ’n hoë werkloosheidsyfer.”

Wat sy rugbyloopbaan betref was daar gissinge dat Ramone by die Bulle sou aansluit. Nadat hy sy mediese toets by die Bulle geslaag het, het hy besluit om ’n tweede opinie in te win en moes hy hoor dat nog ’n besering op sy knie lewenslange gevolge sal hê.

Hy het voorheen vir ’n knie-rekonstrusie gegaan, maar het gevrees dat hy nie eendag saam met sy seuntjie rond sou kon hardloop nie. Hy verkies nou om sy verloofde van meer as ’n jaar, Michelle September, hul seuntjie en sy naamgenoot, Ramone, en sy gesondheid eerste te stel. 

Intussen maak sy broer Damian en die res van die Bokke reg om die Britse en Ierse Leeus in ’n toetsreeks te pak. Dié oudleerder van Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch het in 2017 op 18 sy debuut vir die Westelike Provinsie gemaak en draf steeds vir hulle uit. 

Damian het vroeër vanjaar aan Huisgenoot vertel hy is ook besig met ’n BA-graad in administrasie deur Milpark Education.

“Dis ’n ongelooflike platform waar ek baie leer, en ek geniet dit vreeslik,” het Damian vroeër vertel.