Met sy verdedingsprestasie en puik besluitneming, is Faf aangewys as die speler van die wedstryd toe die Bokke die Dapper Bloeisels in 'n 26-3 Wêreldbeker-kwarteindstryd met 26-3 uitoorlê.

En daar druk Faf de Klerk daardie belangrike drie!
En daar druk Faf de Klerk daardie belangrike drie! Foto: Hannah Peters/Getty Images

Trouens het François "Faf" de Klerk 'n groot impak op die Springbok-spel gemaak sedert hy in 2016 na die no. 9-trui teruggekeer het. Sy styl is energiek en innoverend.

Hy is die held waarop die Bokke gewag het, veral in die belangrike skrumskakel-posisie. Danksy sy lang blonde hare en ongelooflike hardnekkigheid, het hy die bynaam "Jack Russell" gekry. 

Hier is 'n onderhoud wat ons drie jaar gelede met hom as destydse nuweling in die Bok-groep, gevoer het. 

Uittreksel uit ''n Simson wat go-go-go' 14 Julie 2016 – Hilda van Dyk

Die nuwe Bok Faf de Klerk het weer bewys dinamiet kom in klein pakkies, en so het 'n droom vir hom waar geword.

In Suid-Afrika se rugbyverlede het menige nasionale afrigter geglo: goed, groter, Bok.

Die kleiner manne, ongeaghoe vaardig of rats, het dikwels teleurgesteld langs die kantlyn bly sit wanneer die span gekies is.

Maar ná die onlangse toetsreeks tussen die Iere en die Bokke gons kenners en ondersteuners oor die blondebuks wat die ou gesegde waar bewys: Dinamiet kom in klein pakkies. En voeg maar by: Dinamiet dra 'n no. 9 op sy rug.

Lank laas was rugbyliefhebbers so opgewonde oor 'n nuwe Bok soos oor Faf de Klerk. Die skrumskakel staan dalk net 1,72 m in sy sokkies, maar gee hom die ovaal bal en skielik troon hy bo elke ander speler op die veld uit.

“Sy besluitneming op die veld is van hoogstaande gehalte,” verklaar Derick Hougaard, SuperSport-kommentator en gewese Springboklosskakel. “Sy fiksheid is op ’n ander vlak; hy is altyd eerste by die losgemaal. Hy doen alles goed.”

Maar Faf is nederig toe ons hom oor sy sensasionele Bok-debuut uitvra. “Almal het gesê ek moet net my wedstryd jol wat ek jol. Ek moet net seker maak my eersteuitgee is akkuraat, dan is ek reg. Ek het geweet as ek niks snaaks probeer nie, sal dit goed gaan.”

Basta, sê die legendariese Bokskrumskakel Joost van der Westhuizen.

“Vandag is daar internasionaal net twee skrumskakels wat werklik vir hul teenstanders 'n bedreiging is: Aaron Smith van die All Blacks en Faf. Jy kan sien Faf word toegelaat om hom op die veld uit te leef.

"En hy is gelukkig. 'n Gelukkige speler sal jou meer gee as wat nodig is. 'n Mens kan dit sien aan hoe Faf speel.”

As jy 'n Lions-aanhanger is, weet jy natuurlik lankal Faf is pure Bok. Hy speel al twee of meer seisoene kookwaterrugbyvir die Johannesburgers.

Maar hy was dalkies so ’n rapsie te kort vir die afrigter, Allister Coetzee, se voorganger.

Nes die Bybelse Simson lê Faf se krag dalkies in sy welige blonde lokke, het die voormalige Bokafrigter Nick Mallett geskerts.

Hy het natuurlik verwys na die duikslae waarmee Faf twee veel groter Iere in hul spore gestuit en drieë voorkom het.

Faf voer 'n duikslag uit op Nathan Hughes van Engl
Faf voer 'n duikslag uit op Nathan Hughes van England. Hy is bekend daarvoor dat hy spleres wat byna twee keer sy grote is behoorlik te lyf te gaan. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Maar daardie einste haredos maak dit ook maklik om Faf raak te sien toe hy tussen die ander spelers die Lions se spankamerbinnestap. Hy maak verskoning: Maandae ná 'n groot wedstryd is altyd besig. Eers die gim, dan 'n spanvergadering, dan 'n oefensessie op die veld.

Ons gaan sit op die paviljoen in die Johannesburgse stadion en kyk uit oor die lowergroen veld langs Emirates AirlinePark (voorheen Ellispark). Daar het die Lions moeilike tye beleef en die veld dikwels stert tussen die bene verlaat, vertel Faf.

Hulle was vier, vyf seisoene gelede ’n jong span sonder groot sterre en moes van onder af begin bou. “Ons het geweet dit gaan 'n rukkie duur,” sê hy.

Maar ná 2013 se Superreeks het hulle harder begin brul en in vanjaar se kompetisie is die Lions ver bo die ander Suid-Afrikaanse franchises op die punteleer.

“Alles het net begin jel. Dis 'n ongelooflike gevoel om te weet hoe ver ons gekom het. Maar ons onthou gereeld waar onswas; dit hou ons nederig.”

Faf – hy is Francois gedoop – vertel hy het langs die rugbyveld grootgeword. Sy pa, Tobie (63), het tot op die ouderdom van 45 rugby gespeel.

Op sy dag was hy voorsitter van die Laeveldse buiteklub en later ook van Nelspruit se rugbyklub.

“Ek was vier jaar oud toe ek begin om vir stelskoppers hul emmertjie sand op die veld te vat. Ek het die sandbaiekeer na die verkeerde kant van die veld geneem omdat ek rugby nog nie so mooi verstaan het nie,” vertel Faf en lag.


“Rugby was net altyd daar. My pa was sy hele lewe lank betrokke by rugby. Ek het ook altyd rugby gespeel: bulletjierugby, raakrugby voor skool. Toemy pa by Nelspruit se rugbyklub betrokke raak, het ek altyd saam geoefen,” vertel hy.

“My pa het my altyd help skop en uitgee. Eers het hy as die losskakel rondgehardloop en ek as die skrumskakel; dan is hy weer die skrumskakel en ek die losskakel.”

Wanneer Faf pale toe geskop het, het sy ma, Corrie (nou 50), agter die pale gestaanom die bal te vang. “Hulle was nog altyd daar om my te ondersteun.”

Hy was maar altyd ’n kort outjie, lag Faf. “Maar dit het my nooit gekeer nie.”

Op laerskool het hy byna elke sportsoort beoefen wat die Laerskool Bergland in Nelspruit aangebied het, maar dit was die groot Bokke – Breyton Paulse, Percy Montgomery, Corné Krige – wat teen sy kamermure gepryk het.

“Dit was nog altyd my droom om ’n Springbok te word. Ek het altyd rugby gekyk en met trots my Springboktruitjie gedra.”

Toe Faf in gr. 10 kom, wou hy na die Hoërskool Waterkloof in Pretoria gaan.

Sy ouers het eers vasgeskop, maar Faf het volgehou hy sal daar 'n beter kans hê om op die veld raakgesien te word. Eindelik het hulle ingestem.

'Almal het gesê ek moet net my wedstryd jol wat ek jol'

Hy was skaars in Pretoria, of sy ma trek agterna. Sy pa het naweke van Nelspruit na Pretoria gery om hom by wedstryde te ondersteun.

Kort voor lank is Tobie ook sak en pak stad toe.

Ná skool is Faf se harde werk en sy ouers se steun beloon toe hy 'n kontrak by die Lions se o.19-groep losslaan.

“Wanneer mense my in gr. 1 gevra het wat ek eendag wou word, het ek gesê ’n sportman,” onthou Faf. Toe hy daai eerste Lions-kontrak teken, het hygeweet sy droom is nie 'n lugkasteel nie. 

Hoe het dit gevoel toe sy naam uitgelees word as deel van Allister se eerste Bokgroep vir die reeks teen die besoekende Iere?

“Dis was net ongelooflik om te weet my droom het waar geword. Ek kan net die Here dank dat Hy my die talent en die kans gegee het om te speel.”

Hy het sy ouers dadelik gebel en hulle was oorstelp van vreugde.

Hulle het in 2012 teruggetrek Nelspruit toe, maar die lang pad Kaapstad en Johannesburg toe gevat om hom in die Groen-en-Goud te sien speel en te kykhoe hy die volkslied uit volle bors sing met die grote Duane Vermeulen se arm om sy skouer.

Voor die wedstryd kon hy op Instagram kyk na 'n video waarop sy halfbroer, Tobie de Klerk, se seuns, Tobie (7) en Ruben (3), in hul Springboktruitjiesskree: “Go, Faf, go!”

En die blonde buks het ge-pass, ge-tackle en ge-go-go-go!

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.