Lize Kruger, weduwee van die legendariese 1995-Spr
Lize Kruger, weduwee van die legendariese 1995-Springbokflank Ruben Kruger, woon al ses jaar in Amerika. Foto: Verskaf

Maar dit is ’n heel ander vrou as die verwese weduwee wat 10 jaar gelede die pa van haar twee blondekoppies vir oulaas moes groet, wat nou voor ons op die rekenaarskerm verskyn.

Lize Kruger lyk bruingebrand en opgewek, en haar oë blink weer. Tien jaar nadat sy die liefde van haar lewe moes groet, het sy nou ’n nuwe kans op liefde.  

“Ja, daar is weer iemand spesiaals in my lewe,” vertel sy in ’n video-onderhoud uit Bradenton in die Amerikaanse deelstaat Florida.

Sy het ses jaar gelede daarheen getrek ter wille van haar dogters, Zoë (nou 18) en Bella (15), se belowende tennisloopbane.

Lize Kruger en haar dogter, Bella, in New York. Fo
Lize Kruger en haar dogter, Bella, in New York. Foto: Verskaf

Die man by wie sy weer liefde gevind het, is nie ’n Amerikaner nie, maar ’n Pretoriase sakeman.

Hul paaie het verlede jaar weer gekruis nadat hulle jare tevore in Suid-Afrika ontmoet het. Daarna het hy geen moeite ontsien om haar die hof te maak nie. Hy het spesiaal uit Suid-Afrika gevlieg om haar vir ’n romantiese eteafspraak in New York te ontmoet.

“Hy het my na ’n Michelin-restaurant, River Café onder die Brooklyn-brug gevat,” vertel Lize.

Sy verkies om nie sy naam te noem nie omdat sy hul verhouding nog privaat wil hou. Maar sy verklap hy is geskei, “lank en groot en was self ’n sportman”.

Dié romantiese kêrel het duidelik die skoot hoog deur. Hy het al ’n paar keer vir haar in Amerika kom kuier en ook in Spanje, waar Zoë nou aan ’n vooraanstaande tennisakademie in Barcelona haar sporttalent slyp. Dié kuiers was “partykeer sommer net vir ’n naweek en dan moet hy weer terug wees in Suid-Afrika vir werk”, vertel Lize.

“Daar is nog nie trouplanne nie, hoor!” voeg sy gou by. “Maar dis goed om weer iemand te hê.” 

Dit het haar die beste deel van agt jaar geneem om haar bekende Springbok-man se dood te verwerk, sê Lize. 

Ma en dogters in 2010 op Ruben se begrafnis. Foto:
Ma en dogters in 2010 op Ruben se begrafnis. Foto: Gallo Images

“Ek kan nie baie van die eerste jaar ná Ruben se dood nie onthou. Jy doen wat jy moet doen. Aan die begin was dit asof hy enige tyd weer by die deur gaan instap. 

“Ek is so dankbaar ek het tyd geneem het om deur al die fases van rou te werk en dit nie onderdruk nie. Eers in Februarie 2018 het ek gevoel ek is nou oukei. Vir die eerste keer kon ek sy klere wegpak.”

Dit was tydens ’n besoek aan Suid-Afrika toe sy die huis verkoop het waarin sy, Ruben en hul dogters saam op ’n landgoed in die ooste van Pretoria gewoon het. Sy het ’n ander huis op dieselfde landgoed gehou waarin haar ma vroeër gewoon het.

Sy en die meisies bly daar wanneer hulle minstens een maal ’n jaar in Suid-Afrika kom kuier. En noudat die “iemand spesiaals’’ in haar lewe in die Jakarandastad woon, kan dit dalk gereelder gebeur.

“Om weer lief te hê gebeur vanself,” sê Lize. “Maar daar was baie wat ek eers moes deurwerk. ’n Mens se gedagtes is aan die begin so oorweldig met seer, en ek dink nie dis regverdig teenoor iemand anders nie, want in my gedagtes was ek heeltyd by Ruben.

Eerste liefde

“Hy was my eerste liefde,” vertel sy oor haar oorlede man op wie sy haar hart verloor het toe hulle albei 15 en nog op skool in Bloemfontein  was – sy by die Oranje Meisieskool en hy by Grey Kollege. 

“Ons is op 23 getroud. Dit was ’n skok toe Ruben in 2000 op net 30, breinkanker gekry het. Ons het toe nog nie ons kinders gehad nie. Ons het sy hele stryd in geloof aangepak, want wat nou?”

Die oud-Bokheld Ruben Kruger by die drie vroue in
Die oud-Bokheld Ruben Kruger by die drie vroue in sy lewe: sy vrou, Lize, die driejarige Isabella – wat hy vashou – en Zoë (6). Foto: ER Lombard

Hulle het saam besluit hulle wil graag kinders hê, wat die toekoms ook al vir hulle mag inhou. Veral Bella, wat vyf jaar ná sy diagnose gebore is, aard na haar pa en doen dinge op haar manier, vertel Lize.

Met sy dood op 39 was Lize ’n enkelma vir hul dogters, Zoë (toe 7) en die vierjarige Bella. 

“Ek dink in enige situasie, enige trauma kan ’n mens kies óf om daarin vas te val óf om te groei. Maar groei is nie maklik nie; dis pynlik,” sê sy nou, 10 jaar later, oor die moeilike keuses wat sy sedertdien moes maak.

“Ter wille van my kinders kon ek nie in die verlede bly nie. Ek kon nie heeltyd die seer voor hulle dra en sê hoe moeilik dit is nie. So, as ek na myself kyk is ek dankbaar vir die mens wat ek nou is,” vertel sy oor die pad van genesing wat sy grotendeels alleen gestap het.

Want vier jaar ná Ruben se dood het sy weer by ’n kruispad gekom. Dit was toe die 12-jarige Zoë ’n studiebeurs aangebied is om haar tennistalent aan die IMG-akademie in Florida te gaan slyp. 

“Ter wille van my kinders kon ek nie in die verlede bly nie. Ek kon nie heeltyd die seer voor hulle dra en sê hoe moeilik dit is nie."

“Toe hulle vir Bella, wat ook in sport uitgeblink het, ook ’n volle beurs aanbied, besluit ek: Ek gaan die geleentheid vat. Ons het elkeen net twee tasse gepak en ons het gekom,” vertel sy in ’n Zoom-onderhoud oor die Atlantiese Oseaan heen.

Sy lag. “As ek nou daaraan dink, weet ek nie of ek dit weer sou doen nie!”

Lize het destyds besluit om hul huis en motor in Suid-Afrika te hou ingeval hulle ná ses maande wou terugkom. “Maar ja, nou is ons al ses jaar hier.”

Die lewe as enkelma

Die tuisbly-ma lyk fiks en viets. “Met twee kinders wat baie sportief is, probeer ek self ook aktief bly,” vertel Lise, wat provinsiale tennis vir die Vrystaat gespeel het.

“Ek geniet dit om gimnasium toe te gaan en langs die see te gaan stap. Ons woon so twee kilometer van die see.” 

Tien jaar ná Ruben se dood is sy plek steeds leeg in hul gesinslewe. “Ek dink hy wat uit ’n sportagtergrond gekom het, sou die kinders beter verstaan het, om ná ’n intensiewe oefensessie of wedstryd te vra: Hoe voel jy? Of wanneer ’n konfliksituasie soms met afrigters opduik. Dan voel dit vir my as hier net ’n pa was . . . En ek dink ons dogters voel ook so.”

Lize Kruger, by haar oudste dogter, Zoë, in Barcel
Lize Kruger, by haar oudste dogter, Zoë, in Barcelona, Spanje. Foto: Verskaf

Met die oppak van hul huis in Pretoria het Lize ’n toespraak ontdek wat Ruben destyds ná die 1995-sege in die Wêreldbekertoernooi geskryf het. 

“Dit was asof hy met die kinders kon praat, want hy sê as jy ’n kampioen wil wees, moet jy oefen soos ’n kampioen, eet soos ’n kampioen. In 1995 was hy nooit bang vir verloor nie; dit was vir hom ’n groter ding om nie sy land teleur te stel nie.”

Ruben, wat op 39 aan breinkanker dood is, was in 1
Ruben, wat op 39 aan breinkanker dood is, was in 1995 Suid-Afrika se speler van die jaar. Foto: Getty Images

Toe die covid-19-pandemie vroeër vanjaar die wêreld tref, was Lize in Tunisië waar haar dogters tennis gespeel het. Hulle het die inperking saam in Pretoria kom deurbring. Hier het haar ouer broer, Frans Cronjé, ’n tennisafrigter, haar dogters voor hul vertrek in Augustus help oefen.

Wat haar toekomsplanne betref, wil sy eers toesien dat Bella haar skoolloopbaan in Amerika voltooi. Daarna sal sy waarskynlik soos haar ousus op die rooi klei in Barcelona wil gaan oefen. 

Die geliefde ou-springbok Ruben Kruger is in 2010 tragies dood nadat hy sy 10 jaar stryd teen kanker verloor het.

“Ek kan myself weer eendag sien terugkeer na Suid-Afrika,” sê Lize. “Ek hoop net my kinders het dan al genoeg geleer en gesien om ’n lewe vir hulself te kan bou. Ek dink dis vir hulle ook belangrik om my gelukkig te sien. Ek wil hulle nie verantwoordelik maak vir my geluk nie.  

“Ons is al deur so baie saam,” sê sy oor haar twee talentvolle kinders wat sy ná hul pa se dood alleen moes grootmaak. “Waaroor ek die dankbaarste is, is oor die mense wat hulle geword het en nie net oor die prestasies nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe