Op die skerm lyk hy vandag allermins na ’n rugbybreker. Sy dogtertjie trippel langs hom rond in haar balletrokkie en met ’n tiara op die kop, en sy baba lê knus in die waai van sy arm. Cheslin Kolbe is dalk beter bekend as die blitsvinnige Bokvleuel wat die land laat juig het met sy drie in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2019, maar hier by die huis is hy vandag net pa.

En álles gaan oor die kinders. Die Springbok en sy vrou, Layla, het onlangs vir ’n tweede keer ouers geword toe hulle klein Mila Skye in November verwelkom het, en hulle pas nou daarby aan om ’n gesin van vier te wees in hul aangenome tuiste in Frankryk.

Die inperking was eintlik vir hulle ’n bedekte seën, vertel die twee nou. Die lewe het ’n stadiger pas aangeneem, en hulle het die tyd gebruik om Mila te leer ken en ousus Kylah (4) te help om haar nuwe sussie te aanvaar.

Layla, Kylah en Cheslin is nou ’n gesinnetjie van
Layla, Kylah en Cheslin is nou ’n gesinnetjie van vier met die aankoms van baba Mila in November. Layla sê die swangerskap was nogal spanningsvol ná die miskrame wat sy in 2018 en 2019 gehad het. Foto: Instagram@Cheslin Kolbe

“Dit was nie so moeilik om twee kinders te hanteer nie,” sê Layla. “Cheslin was voor en ná die geboorte beseer; daarom was hy baie by die huis. Kylah is ook taamlik onafhanklik. Ek het baie tyd op my hande gehad.”

Dit is vroeg op ’n Woensdagaand en die egpaar gesels via ’n video-oproep met Huisgenoot vanuit hul huis in Toulouse, waar Cheslin (27) die afgelope vier jaar vir die tuisspan speel. Die Kolbes het nou ’n gemaklike ritme, maar dit het tyd geneem om dit te vestig, erken Cheslin.

“Dit het my ’n jaar gevat om die Franse kultuur te verstaan, die taal te praat en te verstaan en my omgewing te leer ken.”

Die eerste twee maande het hulle in ’n hotel gebly en toe in ’n Airbnb terwyl hulle na die perfekte huis gesoek het.

“Jy soek vir wat jy wil hê, want dit is jou nuwe lewe en jy gaan hier ’n gesin grootmaak,” verduidelik Layla (28). Selfs eenvoudige take soos ’n bankrekening open of gaan kruideniersware koop, was eers ’n stryd.

“Toe ons hier kom, het ek supermark toe gegaan om ’n paar goed te koop,” vertel Layla. “Ek het ingestap en na die etikette gekyk en wou net huil, want alles was in Frans.

“Dit was moeilik aan die begin.”

Die vlugvoetige vleuel en sy dogter Kylah het vroe
Die vlugvoetige vleuel en sy dogter Kylah het vroeër vanjaar pret gehad by ’n ski-oord in Frankryk. Foto: Instagram@Cheslin Kolbe

Hulle moes ook amper ’n maand wag om hul bankrekenings agtermekaar te kry.

“Jy gaan na die bank toe om ’n rekening te reël, maar dit vat ’n week om jou kaart te kry,” verduidelik Cheslin. “Dit vat dan nog ’n week om die PIN te kry, en hulle stuur alles in die pos. Hulle gebruik ook nog tjeks hier. Dit is asof Frankryk in ’n borrel van sy eie is.”

Layla se swangerskap met Mila was onverwags en het op twee miskrame gevolg – een in 2018 en een in 2019.

“Met die tweede miskraam het ek twee dae voor ek na Suid-Afrika gevlieg het, uitgevind ek is swanger en die baba verloor terwyl ons in Kaapstad was,” onthou sy. Cheslin was saam met die Springbokke in ’n ander provinsie, maar het na die Moederstad gevlieg om by sy vrou te wees.

“Toe gebeur 2020, en ek is weer swanger. Ek het gedink: ‘Wat! Swanger elke jaar?’ ” sê Layla. Die egpaar het pas van die Laureus-wêreldsportprysgeleentheid in Duitsland na Suid-Afrika teruggekeer toe Layla vermoed het sy verwag dalk weer.

“Ek was lus vir droëwors en het gedink ek is dalk swanger, maar was nie seker nie. Wanneer ek swanger is, kan ek eers niks eet nie. Toe stel ek dit ’n ruk uit om ’n toets te doen, maar ek het heeltyd vir Cheslin gesê: ‘Ek dink ek is swanger.’ ”

En sy was inderdaad. “Dit was moeilik,” erken Cheslin. “In jou agterkop is daar die gedagte dat ’n miskraam weer kan gebeur. Dis hoekom ons oor die swangerskap stilgebly het vir so lank as wat ons kon. Ons wou seker maak hierdie een was gesond.”

Die swangerskap wás stresvol, beaam Layla. “Ek het elke toets ondergaan wat die dokter voorgestel het. As gevolg van my verlede was ek baie bang. Daar was vele bloedtoetse, maar ons het alles laat nagaan net om seker te maak. En veral met covid-19 kon ek nie kanse waag nie.”

Layla, Kylah en Cheslin saam met die jongste lid v
Layla, Kylah en Cheslin saam met die jongste lid van hul gesin. Foto: Instagram@Cheslin Kolbe

Die egpaar was veronderstel om net twee weke in Suid-Afrika te bly, maar toe Frankryk streng ingeperk word, moes hulle langer op eie bodem aanbly. Toe word Suid-Afrika ook ingeperk . . . Hulle kon eindelik eers in Junie na Frankryk terugkeer. Klein Mila is op 7 November in Toulouse gebore.

“Ons het dit makliker as die meeste ouers,” sê Cheslin. “Ons kinders hou van slaap, en dit beteken ons kan ook slaap.”

Maar dit het Kylah ’n ruk gevat om daaraan te gewoond te raak om haar ouers met haar kleinsus te deel.

“Kylah was my beste vriendin, want ons het saam gereis waar Cheslin ook al gespeel het. Toe ek swanger was, was sy baie opgewonde om ’n sussie te kry, en sy het met my maag gepraat en vir Mila gesê sy kan nou uitkom,” vertel Layla. “Maar toe Mila kom, het sy besef die baba sou meer van my aandag nodig hê.”

Maar dit raak reeds beter. “Ons het vriende met kinders van Kylah se ouderdom, en wanneer hulle met Mila wil speel, raak sy jaloers, want dit is haar suster. Daardie kompetisie het haar teenoor die baba help versag.”

Toe die Kolbes verlede jaar in Suid-Afrika was, het die uitwerking van die streng inperking Cheslin en Layla diep geraak. Hulle was vasbeslote om die lyding te help verlig.

Die Bok-ster het by die Be the Difference-stigting betrokke geraak, ’n program wat daarop gemik is om opvoedkunde, voeding en sportontwikkeling in sukkelende gemeenskappe te bevorder.

“Ek het eerstehands gesien hoe die pandemie mense raak,” sê Cheslin. “Mense het werk en familielede verloor en gesukkel om kos op die tafel te sit.”

“Dit het my herinner aan hoe bevoorreg ons is,” sê Layla. “Ons kon nie by die huis sit en niks doen nie.”

Cheslin speel al sedert 2017 vir die Franse span T
Cheslin speel al sedert 2017 vir die Franse span Toulouse. Hy sê dit was aanvanklik baie moeilik om aan te pas in Frankryk, maar hy en Layla voel baie meer tuis deesdae. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die egpaar het planne gehad om ná die Wêreldbeker hul eie stigting te begin, maar het dit weens die pandemie op die lange baan geskuif. Noudat die situasie in Suid-Afrika ietwat verslap, wil hulle weer hul planne op koers kry.

“ ’n Paar jaar gelede het ek en Layla by my ouers gaan kuier,” sê Cheslin, wat in Kraaifontein in Kaapstad grootgeword het. “Daar het ’n jong seun ’n rugbybal geskop. Hy was kaalvoet en die bal was so oud dit het nie meer ’n handelsmerk op gehad nie.”

Die prentjie van daardie seun het hom herinner aan homself toe hy klein was, en hom geïnspireer om met ’n stigting te begin wat sou teruggee aan gemeenskappe wat talent voortbring maar hulpbronne benodig. Dit sal voedingskemas insluit, sportontwikkeling bied, en vir meisies toegang tot sanitêre produkte gee. Daardeur wil die Kolbes met Suid-Afrika in aanraking bly.

“Ons is dalk in Frankryk, maar ons voete is steeds in Suid-Afrika,” sê Cheslin. “Ek en Layla het albei grootgeword in gemeenskappe wat vir bendebedrywighede, dwelmmisbruik en armoede bekend is.

“Dit was nog altyd my motivering in die lewe – om beter te doen en ’n voorbeeld vir jong mense soos ek te wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe