So gesels Rob Louw (64), die oud-Bok wat in die vroeë 1980's naam gemaak het op die rugbyveld. Netwerk24 berig James is Woensdag in die ouderdom van 50 moontlik aan sy hart dood.

James was ’n blitsvinnige vleuel en het tot die Bokke se Wêreldbekeroorwinning in 1995 bygedra.

“Ons was hegte vriende, al het hy ná my vir die Bokke gespeel. Ons het vyf jaar langs mekaar gebly in Clifton hier in Kaapstad,” vertel Rob.

Ses maande gelede nog het James ’n onderhoud vir ’n radiostasie met Rob gevoer.

Rob Louw tydens ’n onlangse onderhoud met Huisgeno
Rob Louw tydens ’n onlangse onderhoud met Huisgenoot. Foto: Misha Jordaan

“Ons het gepraat oor sy pride and joy,” onthou Rob hul laaste woorde tydens daardie onderhoud. 

James kon nie ophou praat oor Ruby, sy 14-jarige dogter, wat by hom in Johannesburg gewoon het nie.

“Ruby is my ma se naam ook,” voeg Rob by. 

Rob Louw tydens ’n wedstryd teen Nieu Seeland in 1
Rob Louw tydens ’n wedstryd teen Nieu-Seeland in 1981. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images
James Small saam met Francois Pienaar tydens die Rugbywêreldbeker in 1995. Foto: Gallo Images/Sunday Times/ Raymond Preston

James was glo van Kaapstad na Ruby onderweg toe hy dood is.

“Hy was die goedhartigste mens wat ek ken. Hy het ’n harde lewe geleef omdat hy die lewe so geniet het,” sê Rob. 

“Dis ongelooflik hartseer dat hy weg is. Ek het nou net die nuus oor die radio gehoor.”

Francois Pienaar, James se destydse kaptein, het aan Huisgenoot gesê: “Ons is almal geskok en hartseer. James was onverskrokke op die veld en het ’n diep deernis vir mense gehad van die veld af.

“Ons gaan hom baie mis. Sy familie is in ons gebede tydens dié bitter moeilike tyd. Rus in vrede, James. Jy was ’n yster.”

Christina en James toe hulle nog ’n paartjie was.
Christina en James toe hulle nog ’n paartjie was. Foto: Gallo Images

Huisgenoot het met Christina Storm, die ma van hul dogter, Ruby, probeer praat, maar sy was nog te getraumatiseer om oor James se dood te praat.