Kim Cloete
Ná baie jare is die seerplekke in die aktrise Kim Cloete se lewe genees. Foto: Lubabalo Lesolle

Jare lank was haar vriendelike glimlag soos ’n masker wat sy in die openbaar gedra het, maar daaragter was verdriet versteek.

Dit was lank asof seerkry die definisie van haar lewe was, sê die aktrise Kim Cloete. Daar was haar moeilike grootwordjare, die moord op haar destydse verloofde, die 7de Laan-akteur Randall de Jager, asook ’n mislukte huwelik en verbreekte verlowing. 

Voor die kameras was sy nog altyd borrelend en energiek, maar eers toe Kim (41) en die akteur Murray Todd (47) vroeg in 2016 begin uitgaan, was dit asof die donker onweerswolke oor haar lewe eindelik begin wegtrek het. 

Maar net toe sy weer kon glimlag, het ’n “allesvernietigende” miskraam haar vroeg in 2018 getref.

“Ek wil net nie soos ’n Jannie-Jammergat klink nie, want die waarheid is dat ek ten spyte van al die beproewings nog nooit jammer vir myself gevoel het nie,” sê die aanbieder en aktrise. Sy is veral bekend om TV-rolle in Fynskrif en Binnelanders, en is tans weer op die kassie as Lana Bridgette in die nuwe kykNET-drama Afgrond.

Ten spyte van al die struikelblokke in haar pad tot hier, is sy nou die gelukkigste wat sy nog ooit was, verseker sy jou. En dis alles danksy haar silwer vos aan wie sy in September 2018 verloof geraak het. 

“Daar was ’n tyd in my lewe toe ek alles bevraagteken het: my loopbaan, die mense met wie ek my lewe deel. Daar was seer oor ervarings wat wonde gemaak het en oor verhoudings wat letsels gelaat het,” vertel Kim.

“Maar met Murray was dit . . . sjoe. Anders. Ons albei is al deur ’n egskeiding en moes al moeilike tye trotseer. Die seerkry van ons verlede was soos skrapnel wat ons moes laat uithaal om heel te kon wees vir mekaar. Hy het my weer laat glo in liefde, hy laat my weer lag sonder behoud.” 

Die seerplekke in haar lewe is eindelik heel. Verlede jaar het sy toegekyk hoe haar ouers, Julian (62) en Angeline Nicholas (64), vir die eerste keer in haar lewe om een tafel kuier. En al is daar nog seer oor haar miskraam, geniet sy dit om tannie te wees vir haar broer, Duran Nicholas (33), se twee kleuters.

“En ek is verloof aan die beste man ooit,” borrel sy weer oor Murray.

Hy is lief vir haar as gevolg van wie sy is, vertel Kim, nie ten spyte daarvan nie. Die twee akteurs moes onlangs hul troue ’n tweede keer uitstel weens die coronavirus-pandemie – dié keer na ’n datum in 2022 waaroor hulle nog besluit.

“Ag, dit maak nie saak nie,” sê sy. “Dis danksy hom dat ek weer liefde aanvaar, dat ek weer opreg kan lag. Elke dag saam met hom is ’n sprokie.” 

Kim Cloete
Kim vertel sy waardeer opnuut die lewe nadat sy en Murray albei verlede jaar teen Covid-19 gestoei het. Foto: Lubabalo Lesolle

Om weer te lag ná die seer

Kim sit op ’n kroegstoel in die kombuis van die paartjie se moderne huis in Randburg, Johannesburg, toe Murray en hulle twee blaffende pitbull-honde, Stella en Jasper, by die voordeur kom groet.

Sy bou deesdae haar lewe op selfliefde, vertel sy. Op ’n dag, êrens nadat haar pad met Murray s’n gekruis het, het sy besluit: Die verlede sal haar nie meer beroof van geluk nie.

“Ek het besef hoe ons as mens martelaarskap verhewe,” sê Kim.

“Mense klap vir jou hande as jy jammer voel vir jouself en lang trane huil. Maar wanneer jy opstaan en terugbaklei, wanneer jy jou uitspreek teen die donker van die lewe en weier dat dit jou onderkry, is daar nie dieselfde oordonderende handeklap nie.”

Toe sy en Murray verlede jaar kort ná Maart positief toets vir covid-19, het sy opnuut besef hoe kosbaar die lewe is.

“Ons was albei doodsiek,” onthou Kim.

Kim Cloete
Links is Murray Todd, Kim se verloofde, en regs haar broer, Duran, saam met hul honde, Stella en Jasper. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek het vir Murray gesê om my asseblief net nie hospitaal toe te neem nie; ek was doodbang ek sou nooit daar uitkom nie. Dit klink dramaties, maar in een stadium het ek hom gevra of hy weet waar my testament is. Ek was nie bang om dood te gaan nie, maar bang om onafgehandelde sake agter te laat.” 

Die siekte het haar herinner hoeveel sy het om voor dankbaar te wees. “Dis cheesy, maar ek vang myself kort-kort na Murray kyk en besef: Ek is die gelukkigste vrou.” 

Hulle ken mekaar al byna twee dekades, maar hulle het eers in 2016 verlief geraak nadat hulle mekaar by ’n vulstasie raakgeloop en ’n drankie gaan drink het. 

“Dit was vir ons albei ’n groot skok,” onthou sy. “Daar was bier, pizza, laataand-oproepe en toe ’n soen. Ek was in die oorgang van ’n moeilike hoofstuk in my lewe na ’n plek van vrede – dit was vir my moeilik om weer te glo. Maar Murray het dit vir my maklik gemaak. Hy het my laat vergeet van die pyn en trauma van die verlede.” 

Alles word toe nog mooier toe sy uitvind sy is swanger. “Ek wou nog altyd ’n ma wees; dit was een van my grootste drome,” vertel sy. “Dit was ’n magical tyd, daardie kort swangerskap. Dit was vinnig, maar lank genoeg om opgewonde te word.” 

Sy het die nuus eers stilgehou, maar Murray, ma Angeline en haar beste vriendin van die laaste 20 jaar, die 7de Laan aktrise Quinne Brown, het haar gedra.

Toe sy haar halfsusters, Robyn Clasen, Ashley du Plessis, Dominique Arendse, Anaïs Marais en Annie Hendricks later daarvan vertel, was hulle ook vir haar ’n bron van ondersteuning. Kim het haar susters en pa eers ontmoet toe sy 18 jaar oud was, maar vandag is hulle onafskeidbaar. 

“Ek het in een stadium ophou huil, want ek het besef hoe geliefd ek is – en hoe bevoorreg ek eintlik is. Buitendien weet ek nou daar is soveel verskillende vorms van ma-wees.” 

Die begeerte om ’n bondeltjie van haar eie te hê, sal nooit verdwyn nie, maar Kim vertel sy het nou vrede. “Ek is lankal nie meer op die punt waar dit vir my seer is dat ek so lank gesukkel het om ’n ma te wees nie. Ja, ek hoop dit gebeur vir ons, maar dit oorskadu nie meer my lewe nie.” 

’n Beeldskone einde aan ’n moeilike hoofstuk

Sy en Murray was van plan om in die laatsomer vanjaar in Mosambiek te trou. 

“Ag, dit sou beeldskoon wees,” sê sy oor haar groot dag wat weens die pandemie op ys bly. “Ek sê vir hom ons gaan nog lank in die honeymoon-fase bly, want die honeymoon wil net nie kom nie en is daarom ook nog lank nie verby nie. Eintlik het ons niks om oor te kla nie.”

Dis vir haar belangrik om nie op haar eie verliese of tekortkomings te fokus nie, sê Kim. Toe die inperking in Maart aangekondig is, het sy “mikrokombuise” op verskeie plekke in die Kaapstad en Johannesburg-omgewing op die been gebring en tot net voor Kersfees verlede jaar meer as 70 000 families met behulp van skenkings gevoed. 

“Daar word altyd gesê iemand moet iets doen, maar miskien is jý daardie iemand.”

Die verfilming aan Afgrond laat verlede jaar het ook afleiding verskaf. Hulle het ses weke lank geskiet en die ure was “moordend”, sê Kim. Haar karakter is ’n sepiester wat ná vyf jaar uit ’n koma ontwaak en besef sy het geheueverlies. Dit was ’n uitdagende rol, erken sy.

“Dit vertel die ander kant van die storie wat ons so gereeld hoor: ’n manlike skurk en ’n vroulike slagoffer. Maar nou is die rolle omgeruil – ek word die skurk en die man die slagoffer.”

Sy maak haar oë groot. “Daar kom drama, maar ek gaan niks verklap nie.” 

Kim en haar vennoot, die akteur Clint Brink, is ook in die proses om hul eerste vollengtefliek te vervaardig. Dit word behartig deur Dreamerschild Productions, ’n maatskappy wat sy in 2007 gestig het. 

“Die maatskappy is destyds begin vir my veldtogwerk teen geweld teen vroue en kinders. Dis ’n groot stap in my loopbaan, en nooit sou ek kon voorsien dat daar amper twee dekades later ’n fliek daaruit gebore sal word nie.” 

Dis nog ’n goeie einde, nes in haar eie lewe.

“Nè?” sê sy en plak ’n soen op die stertswaaiende Stella se kop. “Want al is dit soms onseker en met tye selfs ongelooflik moeilik, kom daar altyd weer mooiweersdae – en dis al wat tel.”

  • Afgrond word Woensdae 20:00 op kykNET uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe