Bouwer het op Instagram gedeel dat hy 2018 “afgeskop” het met ’n rugoperasie wat sy L5/S1-werwel vervang het.

Die operasie het Donderdag 18 Januarie plaasgevind en hy is Saterdagoggend ontslaan.

"Ek was in goeie hande. Dr Emmanuel Thobejane van Spine Africa het my ten alle tye veilig laat voel, so ek is bly die ergste is verby," het Bouwer aan Huisgenoot gesê.

Volgens Bouwer het hy die rugbesering opgedoen toe hy en ’n paar vriende by ’n pretpark in Johannesburg was. "Ek het geswaai aan 'n swaai wat sowat twee meter van die grond af was," het Bouwer vertel.

"Ek moes net my hande los en met my rug op 'n vangmat val, maar my hande het gegly toe ek geswaai het."

Hy vertel dat sy lyf ’n "backsummy" gemaak het en dat hy met sy nek in die hoek van die vangmat geval het met sy onderlyf wat om sy nek buig.

Bouwer skryf by die Instagram-inskrywing dat hy uitsien na die “herstelperiode by die huis met verpleegster Leandie du Randt Bosch” wat na hom sal omsien.

Leandie het ook ’n pragtige inskrywing in die sosiale media gedeel. 

"Aan al ons vriende en familie wat so by ons gestaan het - Dankie julle! #GodIsGoed," skryf sy.

Bouwer het in 2015 met die aktrise Leandie du Randt Bosch in Potchefstroom getrou. 

"Sulke operasies is maar 'n groot ding op 'n ou se lyf, so ek vat dinge stadig by die huis," het Bouwer gesê. Verder slaap hy baie en doen sy rehabilitasie-oefeninge. "Januarie/Februarie is maar my 'Netflix en Painkillers' maand," voeg hy by.

Talle bekendes soos aktrise Simoné Nortmann, Adam-sanger en aktreur Reynard Hugo en sanger Deon Meiring het van dié inskrywing gehou.

“Strongs dude! X,” het Karen Zoid op Bouwer se Instagram-inskrywing geskryf.

Scandal-akteur Wayne van Rooyen het ook vir Bouwer sterkte toegewens.

Die sangeres Janie Bay het “Baie sterkte B” op die inskrywing geskryf.

Baie sterkte! Ons hoop jy voel sommer gou beter.