Angelina Jolie (43) en Brad Pitt (54) gaan glo op 4 Desember in ’n hof in Los Angelesmekaar pak in ’n stryd om toesig oor hul ses kinders. Die verhoor kan glo twee tot drie weke duur. 

Brad en Angie het mekaar destyds op die stel van hul romantiese aksiekomedieprent van 2005, Mr. & Mrs Smith, ontmoet. Hulle was 10 jaar saam en twee jaar getroud, maar hul paadjies het in 2016 geskei weens “onversoenbare verskille”. 

Brad en Angelina Foto's: Gallo Images/Getty Images

Die paartjie se egskeiding is nog nie gefinaliseer nie. Hulle het drie biologiese kinders, Shiloh (12) en die tweeling, Knox en Vivienne (10) en drie aangenome kinders, Maddox (17), Pax (14) en Zahara (13).

Brad soek 50/50-toesig oor dié kinders en Angie soek alleentoesig oor hul kroos.

Die paartjie se egskeiding haal gereeld hoofopskrifte. Brad is daarvan beskuldig dat hy nie die kinders se kindertoelaes betaal het nie.

Sy prokureur het dit egter in hofdokumente ontken en gesê Brad het Angelina R112 miljoen geleen om haar huidige woning te koop en “rekeninge” van haar en die kinders van sowat R18 miljoen sedert hul paadjies geskei het, betaal het.

Tydens hul bitter toesigdispuut is Brad ook ondersoek vir kindermishandeling. Die Hollywood-akteur is sedertdien van die klagte vrygespreek.

Bronne: Mirror, TMZ