’n Paartjie stap in vir sap, koffie of iets te ete. Musiek speel en die man gryp die vrou van agter (ONDER) en hulle begin dans. Hulle is ontspanne; die vonk tussen hulle vuurwarm. 

Dit was die laaste keer dat Angelina Jolie en Brad Pitt saam gesien is. Twee maande later het Brangelina met ’n slag ingeplof en twee jaar later is dinge steeds lelik. 

Net ná die skeiding het die twee al die regte geluide gemaak: Die kinders kom eerste; hulle is verenig in hul wens vir hul kroos om onaangetas te bly. 

Brad (54) het nugter geword, meer by die kuns- en argitektuurwêreld betrokke geraak en met Neri Oxman (42), ’n professor aan die Massachusetts-instituut vir Tegnologie, begin uitgaan. Angelina (43) het haar in haar menseregtewerk verdiep en Maleficent 2 gemaak. 

Maar toe neem sake ’n aaklige wending. 

Vroeër vandeesmaand het Angie se prokureur, Samantha Bley DeJean, dokumente ingedien wat beweer Brad “het ’n plig om kinderonderhoud te betaal.

Tot nou het Brad Pitt geen betekenisvolle kinderonderhoud betaal sedert die skeiding nie”.

Die volgende dag het Brad se prokureur, Lawrence Spiegel, teruggekap. Hy het die indiening “onnodig” genoem, “ ’n kwalik bedekte poging om mediadekking te manipuleer”.

Angie in Parys saam met haar kinders, (van links) Shiloh, Vivienne, Maddox, Pax, Zahara en Knox. Foto: Gallo Images/Getty Images

Lawrence het dokumente ingedien wat toon Brad het ná die skeiding vir Angelina sowat R116 miljoen “geleen” om haar huis van R362,5 miljoen in Los Angeles te koop. En ook R44,95 miljoen “tot die voordeel van me. Jolie en die minderjarige kinders bygedra”. 

Net so vinnig het Samantha losgebrand: Brad se prokureur se indiening was “ ’n blatante poging om die waarheid te verdoesel en die aandag af te lei van die feit dat hy nie sy regsverpligtings om die kinders te steun ten volle nagekom het nie”.

Daarby betaal Angelina rente aan haar eks vir die huislening, en “ ’n lening is nie kinderonderhoud nie, en om dit as sodanig weer te gee is misleidend en onakkuraat”. 

Maar, soos die glansnuuswebtuiste TMZ uitwys, hoekom sou Angelina ’n lening nodig hê? Die aktrise en menseregteaktivis is R2,32 miljard werd.

Ja, Brad se netto waarde is R3,48 miljard, maar nogtans. Kon sy nie haar eie deposito bekostig nie? 

’n Bron na aan Angie vertel sy het nie veel gewerk sedert die skeiding nie. Dit is nie altyd vir haar maklik om groot bedrae kontant in die hande te kry nie.

Sy word deur woede aangevuur en dit het belaglik onredelik geword

“Sy en die kinders reis baie en hulle het nie ’n gewone lewe nie,” voeg die bron by. “Hul leefstyl kos baie.”

Die eintlike probleem, volgens ’n bron, is nie geld nie; dis dat Angelina nie kan verwerk wat in September 2016 op daardie vlug van Frankryk na Los Angeles gebeur het nie.

Al is Brad op aanklag van kindermishandeling vrygespreek, “was dit vir haar die laaste strooi. Sy wil enige verhouding beëindig wat hy met die kinders het,” het die bron aan TMZ gesê.

“Sy word deur woede aangevuur en dit het belaglik onredelik geword.”

Sake het so versleg, gerugte doen die ronde Laura Wasser, Angelina se hoëprofielproku­reur, het bedank omdat haar kliënt “so venynig geword het”. Maar Angie se mense ontken dit.

Een ding is seker, sê ’n bron: Brad en Angelina is nie naby aan ’n skikking nie.

BRONNE: PEOPLE, DAILY MAIL, TMZ, TELEGRAPH