Die sanger se oudste seun, Milan (4), is verlede Vrydagoggend in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem nadat hy met virale breinvliesontsteking gediagnoseer is.

Arno was in daardie stadium reeds in Kaapstad vir die Afrikaans is Groot-konserte. Hy moes toe die moeilike besluit neem om eers die konserte af te handel voor hy na Pretoria kon teruggekeer het om sy seuntjie te ondersteun.

“Ons wag nou vir die dokter om te sê, maar dit klink of hy eers môre ontslaan gaan word,” het Arno aan Huisgenoot gesê.

Klein Milan het Donderdag siek begin voel en gekla dat sy "brein seer" is, vertel Arno se vrou, Lizanie.

Hulle het nog dieselfde middag na die ongevalle-eenheid gehaas. Milan is net na sesuur Vrydagoggend in die hospitaal opgeneem. 

“Hy het Vrydagmiddag ’n lumbale punksie gehad en dit was vir my baie erg,” vertel Lizanie.

Die paartjie het ook ’n eenjarige seuntjie Luca.

Hoewel die steroïede- en kortisoonbehandeling Milan hiperaktief en geïrriteerd maak, is hy soet, lê hy mooi stil en drink hy al sy medisyne, vertel sy ma.

“Eers nadat die dokter vir my gesê het hy is buite gevaar, kon ek ’n bietjie ontspan en bid dat hy vinnig uit die hospitaal uit kan kom,” vertel Lizanie.

En Arno?

“Hulle (Afrikaans is Groot-organiseerders) het eintlik vir my gesê ek moet Vrydagaand se vertoning mis, maar hy is toe opgeneem en het net in sy bed gelê. Hy was gelukkig Saterdag weer baie beter, maar was Sondag weer siek,” sê Arno.

Lizanie sê dat dit maar baie rof gaan, want sy en Arno is bedrywig met hul BoobaLoo-ekspo wat die naweek in Pretoria sal plaasvind. Arno en sy vrou het al ses maande terug aan die baba-ekspo begin reël.

“Milan sal altyd my eerste prioriteit bly. In hierdie stadium is hy al waaraan ek kan dink, maar dit is ’n rowwe tyd om alles georden te kry. 

“Klein Luca is ook nog by die huis, maar die twee oumas help darem met hom ook,” sê Lizanie.