Die gelukkige meisie wat Brendan se hart verower het, is Zanelle Viljoen, ’n pragtige brunet wat veeartsenykunde op Onderstepoort, noord van Pretoria, studeer.

Hy het sy aanhangers behoorlik laat gons toe hy in sy jongste Instagram-plasing ’n foto van hom en Zanelle by ’n romantiese sonsondergang gedeel het. Gelukwense het van oral ingestroom.

Dit is die eerste keer dat Brendan, bekend vir sy liedjies Stop Wag Bly Net ’n Bietjie en Die Perfekte Een vir My, die vrou in sy lewe vir sy meer as 11 000 volgelinge wys.

En dit klink asof Zanelle beslis die Perfekte Een vir hom is!

Die foto, wat reeds meer as 9 000 trefslae gekry het, lyk voorwaar soos ’n poskaartprentjie met die gelukkige paartjie wat gedurende ’n sonsondergang knus langs mekaar staan.

In die inskrywing saam met die foto beskryf hy vir Zanelle  as “die vuur in my siel, die water in my rivier”.

“Nog nooit het ek gevoel dat God my so liefhet dat hy een van sy mooiste engele vir my leen nie. Jy is uniek in jou eie manier en ek staan in verwondering elke keer as ek my oë op jou lê. Die mooiste persoon binne en buite, perfek in my oë. Dankie dat jy my gelukkig maak en my ondersteun en aanvaar ten spyte van al my foute en imperfections. Dankie vir elke traan en elke glimlag wat ons saam kan deel. Jy is my toevlug en my kalmeerpil, dat ek iemand soos jy kon verdien gaan my verstand tebowe. Dankie dat ek die kans kan kry om jou gelukkig te maak, ek sal als gee. Eks ♥ vir jou.”

Brendan het skaam-skaam gelag toe Huisgenoot hom oor die mooi vrou in sy lewe uitvra.

“Ek was in my lewe nog nooit in so verhouding of het hierdie tipe liefde al ervaar nie. Zanelle is ongelooflik spesiaal vir my,” vertel die sanger.

Zanelle, wat meer as 9 000 volgelinge op Instagram het, het sy oog twee jaar gelede gevang.

“Ek het haar op Instagram raakgesien en toe vir haar ’n boodskap gestuur en gevra of ons een of ander tyd kan kuier.”

Maar die stilte wat Brendan van die skoonheid gekry het, was ietwat oorverdowend vir hom. Toe maak die boerseun ’n plan!

“Toe ek sien sy ignoreer my boodskap, gaan kyk ek op haar blad met wie sy vriende is. Ek kontak toe ’n vriendin van haar en vra toe vir haar om te gaan aanklop by Zanelle en vra dat sy hom moet antwoord.

Dit was ’n plan wat gewerk het.

Kort daarna het Brendan en sy vriend Zanelle en haar vriendin gaan oplaai en saam gebraai.

Maar dié nooi van Onderstepoort was nie ’n maklike vangs nie, en die ander mense by die gemengde koshuis het sommer vinnig Bredan se bakkie raakgesien waarop sy handelsmerk pronk.

“Van die manne het gereeld my bakkie se wiele afgeblaas of die moere losgedraai wanneer ek by Zanelle gaan kuier het. Daar was selfs ’n dag waar ek teruggery het van haar en my een wiel van my bakkie afgerol het. Ek het amper my bakkie gerol. Ek was op pad na ’n vertoning en was toe vyf uur laat daarvoor,” vertel hy.

Maar die kat kom weer en die manne moes gou aanvaar die talentvolle hartebreker gaan nie tou opgooi nie.

“Ek en Zanelle was vir 19 maande aan en af bymekaar, maar dit was nogals van ’n rollercoaster ride.”

Want om ’n meisie te hê in dié bedryf is soms moeilk, sê hy.

“Ek het die Instagram–plasing gemaak want ek wil graag afshow met haar. Sy is pragtig, van binne en buite. Maar ek het dit ook gedoen, want in die bedryf waarin ek is, is daar baie versoekings; daar is meisies wat baie kanse vat. Dit kan ’n mens vining van die pad af ruk sodat jy jou fokus verloor.”

Toe plaas Zanelle op ’n dag ’n Instagram-inskrywing wat lui: “One day you will realize that you left a diamond while you were playing with stones.”

“Daardie inskrywing het my nogals geruk. En ek het besef ’n mens weet nie werklik wat jy het tot jy dit verloor het nie.”

Nou kan die tweetjies nie genoeg kry van mekaar nie.

“My ouers is absoluut mal oor haar, en Zanelle se ouers het my nog altyd aanvaar en nog nooit onwelkom laat voel nie.

Praat die tweetjies al oor trouplanne in die nabye toekoms?

“O, nee! Ons is nog jonk en Zanelle studeer nog. Ek dink haar graad is een van die moeilikste goed om te studeer.”

Op die pragtige foto wat Bredan gedeel het, is dit nie net hy en sy meisie by ’n sonsondergang nie. By hul voete staan ’n Jack Russell wat ook ’n bietjie aandag wil trek.

“Sy naam is Trompie,” lag Brendan.

“Hy is 10 maande oud. Zanelle het hom vanjaar op Valentysdag vir my gegee.”