’n Pruik, aanplakneus, valstande, en siedaar! Renée Zellweger wórd Judy Garland – en wanneer sy begin sing, is dit genoeg om ’n mens hoendervel te gee. Dit gons omtrent in rolprentkringe oor Renée se kragtige uitbeelding van dié brose Hollywood-ikoon: Sy het vroeër vandeesmaand reeds ’n Golden Globe gewen, en party meen ’n Oscar wink ook vir haar.

Maar enige pryse wat sy vir haar hoofrol in die biografiese fliek Judy wen, sal bloot die kersie op die koek wees. Om Judy te speel, die aktrise wat sy al haar lewe lank bewonder, is ’n droom wat vir die 50-jarige aktrise waar geword het.

Judy was ’n silwerdoeklegende wat miljoene mense met haar pragtige stem, delikate skoonheid en boeiende spel meegevoer het. En baie mense meen Renée se spel in dié rolprent is die beste van haar loopbaan.

“Renée verrig wondere met haar vertolking van Garland,” sê Peter Travers van die tydskrif Rolling Stone. “Sy sing haar hart uit, lê haar gekneusde siel bloot en speel met ’n heftigheid wat eindelik grasieus word.”

Die fliek speel in 1968 af toe Judy Londen toe is om nuwe lewe in haar loopbaan te blaas. Dié het stagneer omdat sy gereeld pille gesluk en haar aan drank vergryp het. ’n Jaar later is die ster dood in haar woonstel aangetref nadat sy per abuis ’n oordosis slaappille gedrink het.

Renée kry heelwat pluimpies vir haar genuanseerde spel en pragtige sang.

“Dit maak nie saak hoe goed jy “Somewhere over the Rainbow” ken nie, jy hoor dalk nooit weer so ’n hartverskeurende weergawe soos Zellweger s’n nie,” sê die koerant New York Post se Sara Stewart oor die lied wat Judy as Dorothy in die 1939-fliek The Wizard of Oz gesing het.

Meer as enigiets wou sy Judy se nalatenskap eer, sê Renée. “Sy het so baie vir soveel mense beteken. Almal het gevoel sy praat persoonlik met hulle – dat sy op die een of ander manier by hul pyn aanklank vind.”

En dis iets wat Renée kon uitbeeld soos niemand anders nie, meen Rupert Goold, die regisseur van Judy: “Sy skitter wanneer sy glimlag, en tog lê daar diepe ervaring en hartseer in haar oë.”

Renée het haar in die karakter verdiep – iets wat sy al vir heelwat rolle gedoen het. Die bekendste hiervan is seker Bridget Jones, waarvoor sy aansienlik gewig aangesit het en ’n Britse aksent moes aanleer.

Dié keer het sy boeke en ou programme en flieks verslind om Judy se stem en liggaamshouding te vervolmaak.

“Ek het YouTube-video’s in ’n spieël laat weerkaats en dan langsaan gestaan. Dan het ek na die video’s gekyk en my bes gedoen om haar na te boots. Ek het elke dag na haar musiek geluister en na beeldmateriaal van haar gekyk voor ek gaan slaap het. Sy was altyd daar, altyd teenwoordig.”

Renée Zellweger as Judy Garland.
Renée Zellweger as Judy Garland.

Dit was ook ’n uitdaging om soos die ster te lyk, veral wat haar tande betref, vertel die hoofontwerper, Jeremy Woodhead. “Dit was teen die einde taamlik verrot,” sê hy. “Ek het sewe tot agt stelle valstande gemaak waarmee Renée moes toneelspeel en sing.”

Die blouoogaktrise moes ook bruin kontaklense dra, en haar wenkbroue is spesifiek gevorm om “teatraal” te lyk, voeg Jeremy by. ’n Donkerbruin pruik en grimering – wat elke dag tot ’n anderhalf uur geneem het om aan te wend – het die gedaantewisseling voltooi.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Judy Garland tree op in 1960. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Renée was ’n droom om mee saam te werk,” sê Jeremy. “Sy het altyd met ’n glimlag opgedaag.”

Rupert sê hy het geweet die ontwerpspan het die spyker op die kop geslaan toe hy foto’s op sy foon aan mense wys en vra: “Raai wie is dit?”

“Hulle het glad nie geweet dit is Renée nie. Dit was skitterend.”

Renée se ouers was groot aanhangers van Judy Garland, en sy vertel dat Judy sedert haar kinderdae in Texas deel van hul huishouding was. “Judy was altyd op die platespeler,” sê sy.

Toe Renée in 2002 die eerste keer ’n Oscar-benoeming losslaan vir haar spel in Bridget Jones’s Diary, was die rok wat sy na die glansryke prysaand gedra het ’n huldeblyk aan Judy in die 1946-fliek Till the Clouds Roll By.

Renée was nog altyd ’n aanhanger van dié Hollywood
Renée was nog altyd ’n aanhanger van dié Hollywood-­ikoon, en by die 2002-Oscars het sy aan haar hulde gebring met ’n rok soortgelyk aan dié van Judy in die fliek Till the Clouds Roll By.

Selfs haar eerste karaoke-ervaring was om “Somewhere over the Rainbow” uit volle bors in ’n kroeg in Tokio te sing. Sy het dus nie ’n oomblik getwyfel toe sy gevra is om Judy te speel nie, sê die aktrise. “Om haar lewe en talent te kan verken? Hoe kan jy anders as om van so ’n projek te hou?”

Renée was nog altyd ’n aanhanger van dié Hollywood
Renée was nog altyd ’n aanhanger van dié Hollywood-­ikoon, en by die 2002-Oscars het sy aan haar hulde gebring met ’n rok soortgelyk aan dié van Judy in die fliek Till the Clouds Roll By.

Die aktrise het in 2016 met Bridget Jones’s Baby haar terugkeer na die silwerdoek gemaak nadat sy in 2010 aangekondig het sy neem ’n blaaskans van Hollywood. Nes Judy het sy ’n punt bereik waar haar lewe en werk gedreig het om haar te oorweldig, en sy het by ’n terapeut om hulp aangeklop.

“Hy het besef ek bring 99% van my lewe as ’n openbare figuur deur en net ’n piepklein breukdeeltjie in my regte lewe. Hy het gesê ek het nodig om nie heeltyd iets te hê om te doen nie.”

Renée, wat al daarvan beskuldig is dat sy te maer is, het haar ook nie versorg nie. “Ek was nie gesond nie. Ek was die laaste ding op my prioriteitlys.”

Sy erken sy moes ’n tree terugstaan. “Ek moes iets nuuts aanleer. En nie vir ’n rol nie, maar vir my lewe sodat ek as ’n mens kan groei.”

Toe skryf sy vir ’n kollegekursus in en bring tyd saam met haar uitgebreide familie deur.

“Ek het grense geleer. Ek het geleer om die woord ‘nee’ gereelder te gebruik. Ek het klas geloop. Ek het baie projekte vervaardig. Ek het ’n televisieprogram geskep (Cinnamon Girl van 2013). Ek het ook vasgestel wat my broerskinders se gunstelingdinge is.”

Maar tog sal daar altyd dié met skerp tonge wees. Toe sy in 2014 ’n seldsame verskyning by die Elle Women in Hollywood-prysgeleentheid maak, is daar gegis dit lyk of sy aan haar gesig laat werk het. Sy het die bewerings trompop geloop.

“Ek is bly mense dink ek lyk anders,” het sy aan die tydskrif People gesê. “Ek lei ’n ander, gelukkige en meer vervullende lewe, en ek is verheug dat dit dalk sigbaar is. Mense ken my nie in my 40’s nie. Mense ken my nie as gesond nie.”

Deesdae verdeel Renée haar tyd tussen Amerika en Londen, ’n stad waarop sy halsoorkop verlief geraak het. Sy ry op die moltrein en is dol oor “vis-en-tjips met pap ertjies en ekstra sout” en Engelse ontbyttee.

“Ek is lief vir Londen,” het sy voorheen gesê. “Niemand herken my hier nie.”

Renée beplan nie om binnekort weer ’n blaaskans te vat nie, want sy “is gaande” oor toneelspeel en waardeer dit nog meer ná haar rustyd.

“Een ding daarvan om aan Judy te werk waaroor ek mal was, was dat dit nie gevoel het soos ‘boem, hier gaan ons!’ nie. Dit het gevoel soos ’n baie stil verkenning van wie Judy was; ’n leerervaring en ’n reis tot in die hart van ’n legende.” 

Bronne: TOWNANDCOUNTRYMAG.COM, ETONLINE.COM, IOL.CO.ZA, EONLINE.COM, THESUN.CO.UK