Dis ’n vraag wat heelwat debat in Engeland ontlok. Sommige glo die koninklikes en parlementslede behoort eerste in lyn te wees vir die inenting “om te wys dis veilig” omdat hulle openbare figure is en dit dus aan hul land verskuldig is om proefkonyne te wees. 

Maar koninklike aanhangers glo koningin Elizabeth en haar man, prins Philip, moet eerste wees “om hulle te vereer vir al die jare se diens”, soos een sosialemediagebruiker dit stel. 

Die koningin, wat altyd gesteld is op reëls en wil seker maak dit lyk nie of sy haar status misbruik nie, sal waarskynlik nie instem daartoe om voor in die ry te staan nie, selfs al was dit moontlik – en blykbaar is dit nie. Almal val in ouderdomsgroepe – en die 94-jarige koningin sal waarskynlik in die tweede groep wees om die entstof deur Pfizer te ontvang oor haar hoë ouderdom. Haar man, prins Philip, is 99 jaar oud.

Die Verenigde Koninkryk het glo 10 miljoen entstowwe bestel en is van plan om die inentingsprogram so gou as moontlik van stapel te stuur.

Volgens die VK se gesamentlike komitee vir inenting en immunisering sal inwoners van versorgingstehuise en hul versorgers eerste wees, gevolg deur diegene ouer as 80, wat die koningin en prins Philip sal insluit.

Diegene ouer as 75, 70, 65 en hoërisiko-volwassenes onder 65 sal daarna volg. Jonger, gesonder mense sal in fases daarna ingeënt word.

Ingevolge die prioriteitslys sal prins Charles op 71 onder die vierde groep wees wat toegang kry, met die Brtise premier Boris Johnson (56) wat neënde in die ry staan saam met diegene onder 55. 

Op 38 is prins William in die laaste groep. Charles, William en Boris het almal vroeër vanjaar die virus opgedoen en William se diagnose het eers onlangs bekend geword nadat hy gevoel het dis “die regte ding om te doen” om dit stil te hou en nie die nasie verder te verontrus nie.

“Daar het belangrike dinge gebeur en ek wou nie enigeen bekommer nie,” het hy glo ten tyde van die siekte gesê, berig The Sun.

Charles het gesê hy het “liggies daarvan afgekom. Ek voel veral vir diegene wat geliefdes verloor het en nie saam met hulle kon wees nie. Dit is vir my die afgryslikste ding,” het hy in Junie aan Sky News gesê. “Maar om te voorkom dat dit met soveel meer mense gebeur, is ek vasberade om ’n weg hieruit te kry.”

Boris was baie siek toe hy die siekte opgedoen het, en is in die intensiewesorgeenheid opgeneem waar hy suurstof ontvang het.

Bronne: Dailymail.co.uk, Twitter, BBC.com