Sy is amper sestig, maar mooier as ooit.

Boonop lyk dit of Katherine Kelly Lang (57), beter bekend as Brooke Forrester van die sepie The Bold and the Beautiful, ook murg in haar pype het: Sy neem die komende naweek aan die driekamp-wêreldbyeenkoms, Ironman Kona, deel.

Die byeenkoms word by Kailua-Kona aan die weskus van Hawaii gehou.

Katherine neem deel om geld vir vroue se behoeftes in verskeie sportsoorte in te samel.

“Op die oomblik word driekamp deur mans oorheers en net die gedagte om ook aan dié sport deel te neem, kan vir vroue intimiderend wees,” sê Katherine.

“Hulle wonder dalk waar hulle tyd sal kry om dit te doen, hoe om al die toerusting te gebruik en hoe hulle vrese, soos om in oop water te swem, sal oorkom.”

Die Ironman-wedloop bestaan uit 3,86 km swem, ’n fietsren van 180,25 km en ’n marathon van 42,20 km.  

Dit sal nie Katherine se eerste Ironman wees nie. Sy het op 1 en 2 September vanjaar aan Suid-Afrika se Ironman in Port Elizabeth kom deelneem en dit in 6 uur en 44 minute voltooi.

Tydens haar besoek aan die land het sy ook verskeie aanhangers ontmoet en in die sepie Isidingo verskyn. 

Sy was ook op Tumi Morake se televisieprogram #WTFTUMI

Gevra hoe sy dit regkry om so fiks en gesond bly, het sy geantwoord: “Eerstens moet ek my ouers vir my goeie gene bedank. Dit is ook belangrik om ’n voedsame dieet te volg en genoeg vloeistowwe te drink en te slaap. En moenie jou lewe om partytjie nie!” 

Dit help waarskynlik ook dat Katherine iemand baie jonger in haar lewe het. 

Sy en Dominique Zoida (42) is al ’n paar jaar saam. Die paartjie bring graag tyd saam deur en hou daarvan om te reis. 

Bronne: Eu.ironman.compeoplemagazine.co.zaInstagram.com