Ezel en Duane en hul seuns, Anru (links) en Zian,
Ezel en Duane en hul seuns, Anru (links) en Zian, saam met hul twee oulike honde, Dash en Marshall. Foto: Misha Jordaan

Soms stap die Springbok-agsteman en Bloubul-kaptein niksvermoedend met sy twee jong seuns in ’n winkelwaentjie deur ’n inkopiesentrum. En as hy weer hoor, fluister ’n stemmetjie uit die waentjie vir ’n verbyganger: “Dis Duane Vermeulen!”

Die reus van ’n man skud sy kop verleë en glimlag skeef. 

“Ja, jy raak dan nogal vinnig bloedrooi voor mense. Maar nou ja, dit is maar hoe kinders is, jy weet, die eerlikheid wat daar is.”

Ouboet Anru (7) verstaan al beter as klein Zian (4) wat hul pa se beroep as professionele rugbyspeler behels, maar hulle albei weet waar en vir watter spanne hy uitdraf en hulle is sommer baie trots op hulle pappa.

“Hulle hou van rugby en sal dit saam met hul tjommies by die skool speel. Maar Anru is meer van ’n gholfspeler. Ek dink ons gaan vir Zian dalk moet laat stoei, want jinne, hy is ’n fighter en ’n moeilike mannetjie – maar ek dink hy sal dalk eerder die rugbymannetjie wees tussen die twee,” vertel Duane (34), duidelik net so trots op sy twee bulletjies soos hulle op hul talentvolle pa. 

Toe die Bulle op 30 Januarie met Duane aan die spits vir die eerste keer in 12 jaar die Curriebeker omhoog hou, was dié tweetjies en hul ma, Ezel (36), in ’n hotel langs Loftus Versfeld om Duane te ondersteun.

Hulle het die wedstryd saam met die ander spelers se vroue en kinders op televisie gekyk, omdat daar weens die streng covid-19-regulasies net 174 mense per wedstryd in die stadion mag wees.  

“Ons kon hulle darem ná die tyd sien en foto’s neem van hulle by die Curriebeker, so dit was lekker en spesiaal,” vertel Duane.

Maar om in die middel van ’n pandemie op die veld uit te draf in ’n dolleë rugbystadion, bly maar ’n vreemde ervaring, erken hy.

“Die atmosfeer is heeltemal anders. ’n Ou se energie voor ’n wedstryd begin mos opbou wanneer jy opwarm en die crowd is daar en die mense skree. Al skree hulle óp jou of vír jou – daar is darem ’n geraas en ’n bietjie energie voor ’n wedstryd. Ek het regtig nie gedink dit sal ’n ou so baie affekteer nie, maar dit het.”

Tog is hy trots op wat hulle kon vermag – om die Curriebeker én die SuperRugby Unlocked-reeks laat verlede jaar te wen.

“Die Bulle het lanklaas iets gewen, so dit was lekker om ’n positiewe verandering te maak. Hoe nader ons aan ons doelwitte gekom het, hoe meer geloof het die ouens gekry. Dit was baie spesiaal onder die vreemde omstandighede.” 

Die man van amper twee meter lank, maak homself al hinkepink tuis by die eetkamertafel van die gesin se huis in Durbanville, Kaapstad. Hy het die vorige week ’n knie-operasie ondergaan, en moet nou vir ses weke rus. “ ’n Bietjie panelbeating waarvoor daar nie tyd is in die seisoen nie,” sê hy weer met daardie skewe glimlag van hom.

Die inperking was vir die Vermeulens welkome gehaltetyd saam, nadat Duane die ses jaar voor dit min tuis kon wees terwyl hy in die buiteland rugby gespeel het.

Toe die inperking in Maart verlede jaar aangekondig is, was Duane nog in Japan, waar hy in die plaaslike liga gespeel het.

Ezel skuif langs haar man in en vertel verder. “Daardie aand met die aankondiging het ek vir Duane vier vlugte uit Japan bespreek. Die eerste twee is summier gekanselleer, die derde is uitgestel en met die vierde was die reisagent tot laataand met my op die foon om vir hom ’n vlug te kry. Dink net as hy nie kon terugkom nie? Dan sou ons hom vir hoe lank nie gesien het nie,” onthou sy.

“Hy het letterlik die aand agtuur hier aangekom en lockdown het om middernag begin. Net-net!” 

Die inperking was vir die Vermeulens welkome gehaltetyd saam, nadat Duane die ses jaar voor dit min tuis kon wees terwyl hy in die buiteland rugby gespeel het. 

“Ons het klomp dinge rondom die huis gedoen, bietjie reggemaak. Ons het in die garage geoefen met toue en fietse en om die huis gehardloop . . .” sê hy.

“En ons het báie gebraai, kaart gespeel, bordspeletjies, legkaarte,” las Ezel by.

Die Bullekaptein en Springbokagtsteman, Duane Verm
Die Bullekaptein en Springbokagtsteman, Duane Vermeulen, en sy vrou, Ezel, koester elke oomblik van gehaltetyd wat hulle saam deurbring. Foto: Misha Jordaan

Sy was soos ’n tevrede moederhen met al haar manne onder een dak.

“Dit is maar moeilik as hy weg is. Dit is nie maklik nie en ek kan sien hoe die kinders hom mis. So hulle het dit gelove dat hy by die huis is en so baie tyd saam met hulle kon deurbring. Hulle het nuwe goed gedoen, soos leer fietsry en swem,” vertel sy. “Dit was spesiaal.”

Wanneer hy vir die Bulle uitdraf en in Pretoria oefen, bly Duane gewoonlik in ’n hotel naby Loftus, en gaan kuier soms by sy ma, Estelien Vermeulen, in Mbombela in Mpumalanga. Wanneer daar ’n blaaskans is, kom hy huis toe na sy gesin. 

Tussendeur bly hulle in verbinding met gereelde video-oproepe. 

“Dit is moeilik, want jy is baie min by die huis. Dit maak huwelike moeilik, dit maak kommunikasie moeilik. Dit is altyd makliker om face to face te praat . . . Ek dink as ek die dag klaarmaak, sal ek myself weer kom voorstel,” skerts Duane en Ezel lag. 

“Mense dink dit is ’n helse glamorous affêre om in die sportbedryf te wees, maar ek dink baie min mense weet watse opofferings ’n ou maak om te doen wat jy wil doen,” sê hy. 

“En nie net die spelers nie – die vroue en die kinders, die familie en almal maak opofferings,” sê Ezel, wat ’n dansskool bedryf. 

Die paartjie het vroeg in Duane se rugbyloopbaan ontmoet, toe hy vir die Pumas uitgedraf het en Ezel die span se bemarkingsbestuurder was. Nou is hulle al 16 jaar saam – agt daarvan as getroudes. 

Hulle is albei lief vir die Kaap en wil graag hul kinders hier vestig; daarom het hulle besluit dat ’n pendelhuwelik vir nou die beste werk. 

“Dit is maar ’n langtermynplan,” verduidelik Duane. “Ons het gaan uitwerk: As ek ’n loopbaan van nóg tien jaar sou hê, dan het ons definitief (Pretoria toe) geskuif. Maar ek teken van seisoen tot seisoen, want ’n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie. En om vir ’n jaar of ’n seisoen op te trek, is nie so maklik nie.”

Ezel was saam met Duane in Japan toe die Bokke die
Ezel was saam met Duane in Japan toe die Bokke die Wêreldbeker in 2019 gewen het. Foto: Gallo Images-Getty Images

Die Bulle se onlangse segetog is maar net nog kerfies op Duane se indrukwekkende rugby-CV – waarop die grootste prestasie die Bokke se Wêreldbeker-oorwinning in 2019 is. 

Hy onthou die oomblik ná die eindfluitjie in Japan nog baie goed. “Almal druk mekaar en ek staan daar en soek iemand. Ek sien net ouens hardloop na mekaar toe, maar ek kon nie beweeg nie. Nee, toe vloei die trane. Toe is dit chaos.”

Boonop is hy as speler van die wedstryd vereer. Hieroor is hy nederig. “Dit is ’n helse eer om so iets te kon kry, maar as jy terugkyk, kon enigeen in die span dit gekry het. Ek was net die gelukkige ou.”

Pure Bokplesier.
Pure Bokplesier. Foto: Gallo Images- Getty Images

Tog was Duane se paadjie tot by rugbyglorie nie altyd maklik nie. Sy pa, André, is ná ’n kankerstryd oorlede toe Duane maar net agt jaar oud was. 

Die Bok dink soms terug aan sy grootwordjare en wonder wat sy pa, wat self ’n kranige rugbyspeler was, sou sê as hy hom nou kon sien. “Partykeer soek ’n mens daai bevestiging dat jy die regte besluite in die lewe gemaak het. Ek dink dit sou vir my great gewees het,” sê hy. 

Ja, dit wás uitdagend. “Daar was byvoorbeeld pa-en-seun-rugbyaande en sulke goed, en ek het niemand gehad wat my kon vat nie – my ma kon dit nie doen nie. Maar net so is daar weer ander mense wat ander uitdagings gehad het.”

Sy eie ervaring beteken wel dat enige gehaltetyd saam met sy seuns vir Duane spesiaal is – of dit nou op die gholfbaan, langs die viswater of met ’n rugbybal in die agtertuin is. 

En wanneer hy vol liefde oor hulle praat, is daar geen teken van die taai rugbybreker wat ons Saterdae op die veld sien nie.

“Ek het al klomp klein goedjies en mylpale van hul grootword gemis in die tyd wat ek van die huis weg was, maar ek probeer daai tyd opmaak en koester élke oomblik saam met hulle.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe