Minder as 18 maande gelede het twee pare op die verhoog by die Koninklike Stigting se eerste forum verskyn. ’n Gemaklike kameraderie het tussen dié vier geheers. Hulle het vertel hoe hulle kragte wil saamspan om ’n verskil te maak. 

“Ons is vier verskillende persoonlikhede,” het prins Harry gesê, “maar met ’n gedeelde passie.”

Om as ’n familie saam te werk is uitdagend, het hy bygevoeg. “Maar ons is vir die res van ons lewe aan mekaar verbind.” Maar dié egpare, wat eens die Fantastiese Vier genoem is – Harry en sy vrou, Meghan, en sy ouboet, William, en dié se vrou, Kate – kan nou glo skaars in dieselfde vertrek wees. Van die Koninklike Stigting-forum het dadels gekom.

Boonop het Harry en Meghan onlangs aangekondig hulle verbreek alle bande met William en Kate se liefdadigheidsorganisasie om hul eie een op die been te bring. 

Dié skeiding is die jongste verwik­keling in ’n voortslepende drama wat Buckinghampaleis as gissings probeer afmaak. Maar soos die tyd aanstap, is dit duidelik die skrif is aan die muur: die Fantastiese Vier is geskiedenis.

TOTSIENS, WILLIAM EN KATE

koninklikes
Harry, Meghan, Kate en William by die Koninklike Stigting-forum in 2018. Die Sussexe het intussen bande met dié stigting verbreek. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die Koninklike Stigting-skeiding het baie mense onverhoeds betrap.

“Die Stigting sal die belangrikste instrument vir die hertog en hertogin van Cambridge se liefdadigheidswerk word,” het Buckinghampaleis bekendgemaak.

“Die hertog en hertogin van Sussex sal hul eie liefdadigheidstigting vestig met ’n bedryfsteun van die Koninklike Stigting in die oorgangstydperk.”

Dis net nog ’n teken van twis en twee­spalt, het koninklike waarnemers gesê – en wat ’n dag later gebeur het, het dié vermoedens versterk. Prins William het sy 37ste verjaardag gevier en is van heinde en verre met gelukwensings oorval. 

Sy pa, prins Charles, het ’n oulike kiekie van sy eersteling op sy tweede verjaardag in die Kensingtonpaleis se tuin gedeel. Selfs prins Andrew, William se oom, het moeite gedoen en ’n ou foto van sy broerskind geplaas.

Maar sy eie broer en skoonsuster? Al wat hulle laat hoor het, was “Geluk met die hertog van Cambridge se verjaardag!” – en die publiek was nie beïndruk nie. 

“So koud en onpersoonlik,” het ’n sosialemediagebruiker opgemerk.“Hoekom sy amptelike titel gebruik?” het nog een gevra. “Hy is mos jou broer, nie waar nie?”

Wel, ja – maar dinge is duidelik nie meer wat dit was nie. 

DIE INSTAGRAMSTRYD

Kate het foto’s van haar tuin by die Chelsea-blommeskou gedeel. Foto: Instagram
meghan markle
Daarna het Meghan terruggekap met haar troufoto's. Foto: Instagram

Net ’n paar maande gelede het die Cambridges en Sussexe ’n enkele Instagramprofiel gedeel – KensingtonRoyal – en sake het heel goed verloop. 

Toe kondig Harry en Meghan in Maart aan hulle gaan hul eie koninklike hof apart van William en Kate begin – en kort daarna open hulle ook hul eie Instagramprofiel, SussexRoyal.

En siedaar! Binne ses uur het hulle 1 miljoen volgelinge gehad. Dié getal staan nou al op meer as 8,7 miljoen.

William en Kate het 9,3 miljoen aanhangers op KensingtonRoyal, maar dit is nie onmoontlik dat SussexRoyal hulle mettertyd sal verbysteek nie. Daar was al tekens dat die Sussexe – glo met Meghan aan die voortou – die Cam­bridges op dié platform probeer troef.

Een so ’n voorbeeld was toe Kate in Mei die tuin onthul wat sy vir die ­Chelsea-blommeskou ontwerp het, en oulike foto’s van dié geleentheid plaas.

Kort daarna het Meghan en Harry ’n reeks foto’s van hul troudag, wat nog nie voorheen gesien is nie, gedeel om hul eerste huweliksherdenking te vier. 

Ja, die Sussexe se herdenking het op dieselfde dag as Kate se bekendstelling geval – soos ’n koninklik bron dit stel: “Kon hulle Kate nie ’n bietjie tyd in die kollig gegun het nie?”

DIE SUSSEXE SE NUWE WOONPLEK

Die een kwessie wat die twee egpare veral verdeel het, is verblyf. 

Destyds toe Harry en Meghan in die knus Nottingham Cottage op die perseel van die Kensingtonpaleis gewoon het, het alles voor die wind gegaan. Meghan het hoender vir aandete berei, en daarna het sy en Harry op die rusbank opgekrul om televisie te kyk. 

Toe die paar bekendmaak dat hulle na wooneenheid 1 trek – ’n groot ruimte met 21 vertrekke reg langs William en Kate se wooneenheid 1A –was almal in hul noppies.

Hoe lekker sou die nefies en niggies nie in die tuin speel nie? En dink net hoe die twee egpare mekaar oor-en-weer vir aandete sou nooi en saam bordspeletjies speel?

Helaas, het dit toe nie so uitgewerk nie. Meghan en Harry wou nie in wooneenheid 1 bly nie. Hulle wou Frogmore Cottage op die perseel van die Windsor­kasteel as hul woning hê.

Dié woning was ’n geskenk van die koningin, en niemand kan ’n ouma kwalik neem dat sy “die jonger geslag ’n hupstoot wil gee nie”, sê die Daily Mail se Sarah Vine. Tog het die koste Britte die josie in gemaak.

Frogmore Cottage was destyds ’n reeks wooneenhede vir werkers op die landgoed, en dit is op groot skaal tot ’n vyfslaapkamerhuis vir Harry, Meghan en Archie opgeknap.

bad,peperduur
Harry en Meghan loop onder kritiek deur dat hul koperbad van R90 000 hopeloos te duur is. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die opknappings het R42,8 miljoen van belastingbetalers se geld gekos, en daar is sprake dat nog R10,7 miljoen aan die tuinuitleg en verfwerk bestee sal word. 

“Dit kos veels te veel geld,” sê Robert Jobson, ’n koninklike kenner wat ’n biografie oor prins Charles geskryf het.

“Harry en Meghan moes dit sien kom het. Hulle kon dit vermy het deur langs William en Kate in te trek.”

Graham Smith, wat teen die koninklikes gekant is en deel is van ’n veldtog om die monargie af te skaf, sê dis verkeerd om “geld vir ’n nuwe huis na Harry te gooi”. “As selfs een skool of hospitaal met besnoeiings gekonfronteer word, kan ons dit nie regverdig om ’n sent aan die koninklikes te bestee nie.”

Die koninklike kenner Richard Kay sê dis geen verskoning as Harry en Meghan die Kensingtonpaleis wou verlaat omdat hulle nie “hul bure wou raakloop nie”.

“As ’n vriend van prinses Diana het ek haar wooneenheid in die Kensington­paleis deur die jare gereeld besoek. Sy het dikwels vir my gesê sy sien selde ander koninklike familielede wat daar woon – tot haar groot verligting.” 

Maar Richard voeg by hy sal Harry en Meghan hul nuwe huis gun, “mits hulle die land waarde vir geld gaan gee”. 

“Maar as hulle, soos berig word, ’n aansienlike ruk oorsee gaan deurbring, wat ook ’n spul openbare geld gaan kos, gaan houdings verander.”

Harry word geloof vir die werk wat hy doen, veral met die Invictus-spele, en dat hy ’n kampvegter vir kwessies rakende geestesgesondheid is. “Maar dit alles sal in gedrang wees as hy as gemaksugtig beskou word,” voeg Richard by.

KNORRIGHEID EN ’N TIKKIE KARDASHIAN

Daar is berig die opknappings by Frogmore Cottage sluit ’n ma-en-baba-jogavertrek en ’n vloer wat “sweef” in die kothuis in. 

Maar dit blyk toe nie so te wees nie. Harry en Meghan het moeite gedoen om te verduidelik die enigste swewende vloer is in die kombuis en dié is gedoen om die bestaande ou oppervlak te beskerm. 

Maar die gerugte dat Meghan die binneversierder van die spoggerige Soho House-hotelketting aangestel het om Frogmore te versier, wil nie wyk nie – ook nie berigte dat die egpaar ’n koperbad van amper R90 000 in een van die bad­kamers laat installeer het nie.

Verder word bespiegel dat die egpaar duisende bestee het om die huis klankdig te maak. Dis naby die Heathrow-lughawe geleë en word met die klank van meer as 1 300 stralers per dag gebombardeer. 

As dit waar is, kan ’n mens hulle nie eintlik kwalik neem nie – hulle het immers nou ’n pasgebore baba. 

Maar jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter hê nie, maan koninklike kenners. As jy al die koninklike voordele wil hê, moet jy die publiek iets in ruil gee. En tot dusver slaag Harry en Meghan nog nie hierin nie. 

Daar is “Harry se knorrige vasbeslotenheid om protokol te ignoreer en wegkruipertjie met besonderhede oor Archie se geboorte te speel”, sê Sarah Vine.

“Hul Instagram-benadering tot selfbemarking en hul algehele obsessie om hul beeld te beheer, stuur die boodskap dat hulle tradisionele koninklike pligte as benede hulle sien.”

Meghan se weiering om Donald Trump tydens sy onlangse staatsbesoek aan Brittanje te ontmoet en Harry se “liggeraaktheid” oor dié reis wys ook hulle verkies om persoonlike behoeftes voor die publiek te stel, voeg Sarah by. 

“En dis iets wat die Cambridges bloot nie toelaat nie. Ek twyfel nie daaraan dat Kate heimlik net so huiwerig was om Trump te ontmoet nie, maar sy het dit nietemin met onberispelike grasie gedoen.”

Harry en Meghan dink skynbaar hulle is bo “lastige protokol” verhewe. “Daar is natuurlik niks fout daarmee om ’n bekende te wil wees nie. Maar jy kan nie verwag om soos ’n lid van die koninklike familie behandel te word as jy jou, om dit reguit te stel, soos ’n Kardashian gedra nie.”

BABASAKE

Die Sussexe se “kunstige” foto’s van baba Archie beïndruk nie juis die publiek nie. Foto: Instagram
baba,koninklikes
Mense wil graag iets minder opgesmuk te sien kry. Foto: Instagram

Die stof het nog nie eens oor die koste van Frogmore gaan lê nie, toe dit bekendgemaak is die ses weke oue Archie Harrison Mountbatten-Windsor sal op 

6 Julie in die Windsor-kapel gedoop word. 

Archie se pa en sy oom William is daar gedoop en sy ouers is verlede Mei daar getroud.

Maar sy ouers bly by hul wens om hul seun as ’n gewone burgerlike groot te maak, en teen ons druktyd was daar geen hoop op ’n foto-stortvloed nie.

“Die doop sal ’n klein byeenkoms wees,” sê ’n bron. “Foto’s sal op die Sondag deur die media en Harry en Meghan se Instagramprofiel uitgereik word.” 

William en Kate het die media toegang tot die doop van al drie hul kinders gegee hoewel die plegtigheid privaat gehou is. 

Vir die prinse George en Louis se doop by die St. James-paleis in Londen is ’n uitgesoekte groep fotograwe toegelaat om kiekies te neem toe die gesin by die kapel aankom.

Vir prinses Charlotte se doop is lede van die publiek boonop genooi om te kyk hoe die koninklike gevolg na die plattelandse kerk in Sandringham stap waar die diens gehou is. 

Archie se doop sal na verwagting ’n “baie intieme” geleentheid met net 25 mense, onder andere William, Kate en die peetouers, wees.

Die Sussexe het toegegee dat daar “wêreldwye belangstelling” in hul seun is en gesê hulle sou “met graagte” foto’s van die dag uitreik. Maar daar is kommer dat die foto’s gestileer en teleurstellend sal wees, soos dit tot dusver was. 

Mense word moeg vir die foto’s wat Harry en Meghan van hul seun uitreik, sê Ingrid Seward, die redakteur van die tyd­skrif Majesty. ’n Kunstige foto waarop Meghan Archie se voetjies vashou, of ’n kykie na die helfte van die baba se gesig op ’n Vadersdagfoto saam met Harry is nie goed genoeg nie, sê sy. 

En as die doopfoto’s ook so lyk, gaan mense nie juis beïndruk wees nie. “Mense wil gesinsfoto’s van die baba in die koninklike Honiton-kantdooprok sien,” sê Ingrid. “Dis tradisioneel en in die geval van ’n koninklike baba is daar niks fout met ’n bietjie tradisie nie.”

OORLOG VAN DIE KLEREKASTE

kate,windsor,koninklikes
Kate lyk deesdae ál meer stylvol. Kenners meen dit is om ’n steek in te kry na Meghan. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kate sal nooit erken sy voel onder druk om meer moeite met haar voorkoms te doen noudat sy ’n skoonsuster het wat glansryk én ambisieus is nie.

Daarvoor is sy gans te diskreet en betaamlik. Maar die hertogin van Cambridge laat haar nie maklik onderkry nie – en daar is tekens dat sy ’n subtiele maar uiters stylvolle speletjie speel. 

Onlangse foto’s van Kate toon ’n besliste verskuiwing aan die modefront. Vleeskleurige hakskoene en betroubare wighakskoene het vir deftiger skoene – en selfs ’n paar silwer Jimmy Choos – plek gemaak.

Haar soomlyn het van net bo die knie tot in die middel van die kuit gesak en is nou vleiender. Sy dra steeds haar geliefde noupypjeans, maar haar informele klerekas sluit nou byderwetse wyepyplangbroeke in. 

Die strak oogomlyner is saggies geklad en haar pragtige lokke is nou glad en gestileer, dikwels in ’n “imposante kanthaarrol wat min vroue so goed soos sy kan dra”, sê Lisa Armstrong van The Telegraph.

“Kate raak by die dag meer soos ’n koningin, eleganter, geliefder – ’n verenigende embleem in verdelende Brexit-tye waarop ons almal kan trots voel,” voeg sy by.

Maar Meghan vaar nie so goed nie. “Dis verbasend dat die hertogin, wat voor haar huwelik daarvoor bekend was dat sy weet hoe om met die media te werk, toegelaat het dat iets wat vir haar maklike punte moes wees – ’n beeldskone, plat-op-die-aarde, gewone Amerikaner wat geluk bring aan ’n eens verlore prins – versuur het,” sê Lisa. 

meghan markle
Meghan se klerekas word gereeld gekritiseer dat dit te duur is. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Meghan lok steeds die skares, die kameras en die sosialemediahordes, maar sy het foute begaan – en sy doen skynbaar nie veel om dit reg te stel nie. 

Haar klerekas word gereeld gekritiseer dat dit te duur is. Volgens onlangse berigte het Meghan die afgelope 18 maande ’n ver­sameling juweliersware van R10,7 miljoen versamel.

Dit sluit ’n splinternuwe ring in wat by die onlangse Vaandeldagparade aan haar vinger gewaar is – ’n ewigheidsring deur ’n top-ontwerper met diamantversiering en haar, Harry en hul seun, Archie, se geboortestene op.

“Koste is iets waaroor mense voortdurend mor, veral wanneer dit met Kate se spaarsamer benadering vergelyk word,” sê Lisa. “Die feit dat Kate ook meer uitgee, het nie die argument verander nie.

Hoe meer Meghan – en alles wat sy dra – as sleg uitgebeeld word, hoe meer word Kate en haar styl opgehemel, dikwels deur die mense wat haar voorheen gespot het en gesê het sy is ’n middelklasvrou wat die sosiale leer klim.” 

Bronne: The Telegraph, Us Weekly, Majesty Magazine,Daily Mail, BBC, ITV

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.