Die voormalige The Voice SA-ster Caroline-Grace Brüssow en haar oud-Bok-man Heinrich is ’n seuntjie ryker. Sy het Saterdagoggend ’n kiekie van haar, manlief en klein Marcel Werner op Instagram gedeel wat die kleinding welkom heet.

“Uiteindelik het ons kleine WARRIOR – Marcel Werner – sy verskyning gemaak. Ons harte is oorweldig met hierdie kosbare geskenk wat opreg volmaak is. Ons het jou so so lief,” skryf Caroline.

View this post on Instagram

Uiteindelik het ons kleine WARRIOR ~Marcel Werner~ sy verskyning gemaak. Ons harte is oorweldig met hierdie kosbare geskenk wat opreg volmaak is. Ons het jou so so lief. _ ??_ #helloworld #proudparents #newbornbaby

A post shared by Caroline-Grace (@carolinebrussow) on

Hul ewe bekende vriende was in die wolke – van Emo Adams tot Francois van Coke het op die foto reageer.

’n Verheugde Karlien, wat self op haar en Joe Breytenbach se kleinding wag, het sommer vinnig kommentaar gelewer: “Ag Caroline, wat ’n gebeurtenis in mens se lewe! Ek huil as ek net aan die oomblik van geboorte dink. ’n Mens kan dit nie beskryf nie! BAIE GELUK! Ek’s ook ’n 21 Des. baby.”

Toe Huisgenoot vroeër dié maand met Caroline gesels, het sy vertel hulle verwag die kleinding einde Desember of vroeg Januarie, maar toe kry die paartjie sommer ’n vroeë Kersgeskenk.

Caroline, wat in September bekendgemaak het sy en Heinrich verwag ’n seuntjie, het onlangs haar ooivaarstee by haar ouerhuis in Bloemfontein gevier. 

“Klein Marcel is meer as bederf! Ek het alles gekry wat ek kort en nog meer. My familie en vriendinne is die beste,” het sy aan Huisgenoot vertel. 

Die voormalige The Voice-deelnemer het voorheen aan Huisgenoot verklap hul seuntjie gaan Marcel Werner heet. “Dit is Heinrich se pa se name en dit is vir my die mooiste name,” het sy toe gesê. 

Die oud-Springbok Heinrich, wat tot onlangs vir die Britse rugbyklub Northampton Saints uitgedraf het, het aangekondig dat hy sy rugbystewels ophang. Heinrich het onder ’n rits beserings deurgeloop sedert hy aan die begin van 2018 by die klub in Engeland aangesluit het. 

Die paartjie bly vir eers by Caroline se ouers in Bloemfontein voordat hulle volgende jaar trek en in George gaan nesskrop.