Volgens Variety.com het Carrie (35) by die trappe by haar huis in Nashville afgeval en haar gewrig en gesig ernstig beseer.

Sy het maande lank geen nabyskote van haar gesig op sosiale media gedeel nie, maar het wel die naweek ‘n foto op Instagram gedeel by ‘n oefensessie vir haar optrede by die Academy of Country Music-prysaand in Las Vegas, wat Sondagaand plaasgevind het.

Carrie, wat ’n driejarige seun, Isaiah, by haar man, die yshokkiespeler Mike Fisher (37) het, het die nuus van die tragiese ongeluk met haar aanhangers op haar webtuiste gedeel.

“Benewens dat ek my gewrig gebreek het, het ek dit ook reggekry om my gesig te beseer. Ek sal julle die grusame besonderhede spaar, maar toe ek uit die aand van die voorval uit my operasie kom, het die dokter aan Mike gesê dat hy tussen 40 en 50 steke in gesit het,” het sy op haar webtuiste geskryf.

"Wanneer ek reg is om voor ’n kamera te gaan, wil ek hê julle moet verstaan dat ek dalk ’n bietjie anders gaan lyk," het sy toe waarsku. 

Volgens CNN het Carrie verlede week aan haar aanhangers op haar webtuiste vertel dat haar gewrig amper 90% gesond is en haar gesig is ook besig om mooi te herstel.

“Ek voel definitief meer soos myself as wat ek in ‘n ruk gevoel het,” skryf Carrie, wat in 2005 die vierde seisoen van die sangreeks American Idol gewen het.


Carrie ook Sondagaand vir die eerste keer haar nuwe liedjie Cry Pretty by die ACM-toekennings gesing. Sy's boonop byna ’n minuut lank staande toegejuig na haar optrede.