Die steun spruit uit Caster wat die week in Switserland is om te appelleer teen die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se poging om haar en ander vroue-atlete se testosteroonvlakke te reguleer. 

Caster se geslag is vanaf 2009 onder die soeklig toe sy as 18-jarige die vroue 800 m-wedren by die IAAF-wêreldkampioenskapstoernooi in Berlyn gewen het.

Kort daarna het die ster-atleet onder kritiek deurgeloop en sy is verder verneder toe kritici haar vroulikheid bevraagteken en insinueer dat sy ’n voorsprong bo ander vroue-atlete geniet. 

Caster moes daarna ’n geslagtoets ondergaan om aan internasionale atletiekbeheerliggame, soos die IAAF en ook die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), te bewys dat sy – as ’n vrou met hoë testosteroonvlakke – inderdaad vroulik is. 

Met haar appèlsaak teen die IAAF se regulasie, het Suid-Afrikaanse sportsterre hul steun aan Suid-Afrika se goue meisie in die sosiale media uitgespreek.

Jesse Kriel, die Blou Bul- en Springboksenter, het op Twitter ’n foto van Caster by haar goue medalje by 'n sportbyeenkoms gedeel en die volgende daarby geskryf:

"Party mense hou nie daarvan wanneer jy helderder as hulle skyn nie," het die Protea-vrouekrieketspeler, Suné Luus, getwiet. "Doen dit in elk geval. Moet nooit buig nie, staan sterk en trots. 1000% agter jou @caster800m."

Die Suid-Afrikaanse vrouesokkerkaptein, Janine van Wyk, het ook haar stem dik gemaak om Caster te ondersteun.

"Jy is 'n inspirasie vir baie. Jy het baie struikelblokke en uitdagings oorkom. Hierdie is maar net nog een van daardie gevegte, maar hierdie keer hoef jy nie alleen te baklei nie. Jou mede-Suid-Afrikaners staan bankvas agter jou deur hierdie moeilike tyd van jou loopbaan," het die Banyana Banyana-ster by 'n foto van Caster by die landsvlag op Twitter geskryf.

Verskeie sport-organisasies het ook verklarings uitgereik waarin hul hul steun vir Caster uitspreek. 

Atletiek SA het hul "volkome ondersteuning" aan Caster belowe, en Krieket Suid-Afrika het haar as 'n ikoon beskryf. Mark Alexander, die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Caster as 'n "nasionale bate" beskryf en bygevoeg dat Saru haar "100% steun in die geveg wat ons as diskriminerend teenoor vroue beskryf." 

’n Uitspraak in die appèlsaak word teen einde Maart verwag. 

Ekstra bronne: EWN, The Guardian