Hy rits maklik in ’n helikopter van Londen na Skotland vir ’n potjie gholf. Of laat belastingbetalers vir sy jongste se uitspattige troue by die Windsorkasteel help opdok. Prins Andrew (59), hertog van York, is duidelik dol oor die voordele van sy geboortereg en benut dit sonder om te blik of te bloos.

En omdat hy met elke nuwe agterkleinkind van koningin Elizabeth II (92) ál laer op die lys van aanspraakmakers op die troon afsak, kan hy dié voordele boonop met ál minder verantwoordelikhede geniet.

Maar in ’n nuwe Channel 5-dokumentêr, The Royal Family at War, word onthul Andrew se traak-my-nieagtige houding wat openbare geld betref, sy eksvrou se skandale en die hertog se vriendskap met ’n seksoortreder steek prins Charles (70), sy broer, dwars in die krop.

“Dit pla Charles dat Andrew se gedrag soms die familienaam skade berokken,” sê die koninklike biograaf Penny Junor. “Prins Andrew se beeld as pierewaaier is vir hom ’n verleentheid,” beaam die koninklike kommentator Victoria Arbiter.

Charles, wie se eie skandes ook al wêreldwyd in die nuus was, sal nog skandale moet vermy as hy “nie die verwoesting van die koningin se nalatenskap op sy skouers wil hê nie”, voeg sy by.

Dit lyk of die toekomstige koning gretig is om dié risiko te beperk; daarom probeer hy nou die aandag op “die kernfamilie van koninklikes” vestig, sê die biograaf Ingrid Seward.

In dié kleiner weergawe van die koninklike gesin sal daar waarskynlik nie vir Andrew plek wees nie, wat nog te sê sy dogters, prinsesse Beatrice (30) en Eugenie (29).

Laasgenoemde se weelderige Windsortroue verlede jaar het ’n hele paar mense die harnas ingejaag.

“Die publiek raak inderdaad gefrustreerd met die sogenaamde strap hangers – diegene wat deur die monargie betaal word, maar nie baie verrig nie.”

Min van Andrew se doen en late wat die nuus haal, het met koninklike verpligtings ten bate van liefdadigheid te doen. Die prins ontlok dikwels kritiek omdat hy duisende bestee aan helikoptervlugte na geleenthede wat maklik per motor bereik kan word.

In 2005 het die Britse ouditkantoor hom oor sy buitensporige reisuitgawes van R5,9 miljoen berispe.

Sulke dinge maak Charles briesend, sê die koningin se voormalige woordvoerder Dickie Arbiter.

“Hy glo wanneer jy openbare geld gebruik, moet jy die werk doen; as jy wil speel, moet jy self opdok.”

Dit lyk nie of die waghond se teregwysing en die openbare ontsteltenis Andrew juis skeel nie. Net verlede jaar het hy ’n privaat helikopter teen R91 000 bestel vir ’n amptelike verpligting wat net 33 km van sy huis af was.

En dis nie al wat die oë laat rek nie; daar’s ook sy verbintenis met die miljardêr Jeffrey Epstein, wat in 2008 weens kinderprostitusie tronk toe is. Andrew is in 2015 hierby betrek toe ’n slagoffer hom in haar getuienis teen Epstein genoem het.

Jeffrey Epstein

Virginia Roberts beweer Epstein het haar in 2001 na Londen gevlieg om die prins te vermaak toe sy maar 17 was.

Die Buckinghampaleis het die bewerings ontken en die regter het later gelas die “onsmaaklike besonderhede” oor die prins moet uit hofverslae geskrap word. Maar Andrew het kort daarna sy rol as ambassadeur vir wêreldhandel laat vaar.

En dan is daar Sarah Ferguson (59), wie se rits onbesonnenhede ’n bitter nasmaak by baie koninklikes gelaat het. Daar’s haar roekelose besteding, amper-bankrotskap, die berugte toonsuigvoorval en die video waarin sy ’n joernalis inligting oor haar eksman in ruil vir kontant beloof.

“Jy sal dit tienvoudig terugkry,” het sy in dié video gesê. “Ek kan enige deur oopmaak. En vir jou sal ek.”

Fergie en Andrew is 23 jaar gelede geskei, maar woon steeds saam. Gerugte doen juis die ronde dat hulle onlangs hul romanse hervat het.

Spanning tussen die broers prut al jare. Met ’n ouderdomsverskil van 11 jaar het hulle nie juis saam grootgeword nie. In Charles en prinses Anne (68) se kinderjare het die koningin en prins Philip (97) hulle in die bestyging van die troon en Statebondsreise verdiep.

Maar toe Andrew en prins Edward (55) byna ’n dekade later gebore word, het “die koningin ’n doelbewuste poging aangewend om ’n normaler gesin te hê”, skryf die koninklike korrespondent Tom Sykes.

Gevolglik, sê Tom, het Andrew en Charles albei grootgeword met die oortuiging dat “hulle die spesiale een is, en hulle het toegelaat dat daardie kinderkompleks hul volwasse verhouding beïnvloed”.

Die twee jak mekaar steeds in die openbaar af wanneer hulle die kans kry. In Maart het Andrew in sy afwesigheid geskitter by ’n makietie waar die 50ste herdenking van prins Charles se inhuldiging as prins van Wallis gevier is.

Volgens ’n paleisbron was dié gebaar niks minder nie as “ ’n openlike vertoon van vyandigheid tussen die twee broers”. Of dalk was dit net Andrew se manier om terug te kap nadat die hertogin van Cornwall nie Eugenie se troue bygewoon het nie.

Charles het gesig gewys, maar sy vrou, Camilla (71), was nie daar nie. “Die verskoning – dat sy gaste moes onthaal – was blykbaar berekend om die Yorks te kleineer,” skryf Tom.

“En so ’n openbare afjak sou beslis nie sonder Charles se goedkeuring gebeur nie.”

Wat dink die koningin van die koue oorlog tussen haar seuns? Die monarg is glo hartseer oor hul afkeer van mekaar, maar steun dalk Charles se idee van ’n leniger monargie.

’n Toneel wat in 2012 tydens die koningin se diamantjubileum afgespeel het, dui beslis daarop. Net vyf mense het saam met haar op die balkon van die Buckinghampaleis verskyn: Charles, Camilla, die hertog en hertogin van Cambridge en prins Harry.

Die res van haar kroos was nêrens te sien nie.

“Dit was ’n duidelike boodskap dat dié groepie vorentoe die kernfamilie sal wees,” sê Penny. En volgens die historikus Robert Lacey het Charles ’n duidelike toekoms vir sy familie uitgestippel.

“Charles is aan die hoof, met Camilla langs hom as ’n koninginfiguur,” sê hy. “Dan William en Harry en hul vroue wat hul identiteit op hul eie manier uitdruk.

“Charles maak dit duidelik hy sien ’n minimale openbare rol vir sy broers en niks vir hul kinders nie.”

Charles sou dalk nie omgee as Andrew volkome uit die koninklike lewe tree nie.

“Hy sal verheug wees,” sê Penny. “Maar Andrew word nou deur sy ma beskerm; hy was nog altyd haar witbroodjie. Maar wie weet wat sal gebeur wanneer sy sterf en Charles beheer oorneem?” 

Andrew

Onmin oor Eugenie se troue

Andrew

Uitspattige leefstyl

Andrew

Seksskandaal

Andrew
Jeffrey

Charles

Nie mamma se gunsteling nie

Prinses

Eerste aanspraakmaker

Van
Die

BRONNE: DAILY MAIL, DAILY BEAST, THE EXPRESS, VANITY FAIR, THE GUARDIAN, THE INDEPENDENT

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GREAT STOCK/SHUTTERSTOCK