Die sangeres, wat in November onthul het sy en haar man, Warren Linden, verwag ’n dogtertjie, het Saterdag 17 Februarie haar ooievaarstee gevier. Sy het selfs in die sosiale media een foto van haar by haar ooievaarstee gedeel en hul eersteling se naam verklap. Die kleinding gaan Aleiah-Rose heet!

Charlize (25) se ma, Ilse, wat saam met Charlize en haar gesin in die werklikheidsreeks Die Bergs op VIA gesig gewys het, het die ooievaarstee vir haar in Centurion gereël. Nou deel sy kiekies van die spesiale dag met Huisgenoot-lesers.

Charlize is tans 31 weke swanger. Foto: Adel Viljoen/Floating Avil

Charlize is tans 31 weke swanger en is baie opgewonde oor hul kleinding se koms. Die baba word op 17 April verwag. "Dis presies ’n week na my 26ste verjaardag en vier dae ná my en Warren se eerste huweliksherdenking. Dit maak dit nog meer spesiaal," vertel sy aan Huisgenoot. "Vir ’n groter geskenk kon ons nie vra nie."

Dit was nie vir die paartjie 'n maklike taak om 'n naam vir hul eersteling te kies nie. Hulle het ook daaroor gebid, vertel Charlize.

“Aleiah-Rose was nie maklik om by uit te kom nie. Ons het so gesukkel om te kies tussen ’n hele paar opsies! Op die ou einde het ek toe net gebid en vir die Here gevra om ons te help en dieselfde aand droom ek toe van die naam!" vertel sy vir ons.

Aleiah beteken "om op te styg" in Hebreeus en "verhewe" in Arabies, verduidelik sy.

“In ons oë weet ons reeds sy gaan groot hoogtes bereik en baie spesiaal wees, en elke keer dat ons haar op haar naam noem, spreek ons dit oor haar uit! Wat Rose betref . . . Sy is al reg van die begin af haar oupa (wat vasbeslote was dat ons ’n klein dogtertjie kry die oomblik toe ons uitvind ons is swanger) en liewe Jesus se klein rosie gedoop!” vertel Charlize trots.

“In my hart het die Here die naam gekies en ek en Warren het ná my droom gesamentlik besluit dat die naam uniek en perfek is vir ons pienkvoet!” vertel sy opgewonde.

En hoe ervaar sy haar swangerskap sover?

"Die eerste trimester was hel," bieg Charlize. "Ek was bitterlik siek en die meeste van die tyd maar baie moeg. ’n Vrou se lyf gaan deur so ’n groot skok en verandering en dis baie oorweldigend.

"Gelukkig het my man en gesin, veral my ma, my vreeslik ondersteun en daardeur gehelp. Ek het beslis baie respek vir elke liewe mamma daar buite, want swangerskap is nie vir sissies nie!

"Ná die eerste trimester het dit so stelselmatig begin beter raak. Swangerskap in geheel bly maar een ongelooflike reis, ups and downs and all!" laat sy hoor.

Foto: Adel Viljoen/Floating Avil

Charlize en Warren woon tans in Eldoraigne in Pretoria. Die babakamer is amper gereed vir hul kleinding se koms oor twee maande, vertel Charlize.

Charlize is vir seker een opgewonde mamma. Foto: Adel Viljoen/ Floating Avil
Die ooievaarstee is deur haar ma en familie beplan. Foto: Adel Viljoen/ Floating Avil
'n Pragtige drielaagkoek is op die tafel te sien. Foto: Adel Viljoen/ Floating Avil
Die kleurskema was pienk-en-wit. Foto: Adel Viljoen/ Floating Avil

Terwyl sy die dae aftel tot haar kleinding se geboorte, hou haar musiek haar besig. "Ek is mal daaroor om nou en dan ’n cover van ’n bekende liedjie te doen," sê sy. "Dit wys veelsydigheid en dis ook altyd lekker om ’n bietjie iets anders te doen. Hou dop, ek maak dit binnekort bekend!"

Sy het die oulikste babaklere gekry. Foto: Adel Viljoen/ Floating Avil

Sy is besig met skryfsessies en skryf liedjies in die hoop om nog vanjaar ’n paar enkelsnitte uit te reik. Sy wil volgende jaar nog ’n album uitreik. "Ek beplan ook om voor die einde van die jaar ’n skoonheidsreeks bekend te stel," vertel sy.

Nee kyk, Charlize gaan beslis ’n besige mamma wees!