Die paartjie, wat in April hul eersteling, Aleiah-Rose, in die wêreld verwelkom het, het die afgelope naweek 'n verrassingspartytjie van 'n vriend bygewoon en die klein Aleiah-Rose het ook lekker saam gaan kuier, vertel Charlize (26) aan Huisgenoot. 

Haar kleinding was stroopsoet, vertel die trotste ma, en niemand op die partytjie kon genoeg van haar kry nie.

Hul sosiale kalender het net voller geraak sedert Aleiah-Rose se koms, sê Charlize.

Sy en Warren (26) is baie geseënd om nog albei hul ouers te hê wat na hul kleindogter kan omsien wanneer nodig.

"Dit vat my ’n ruk om te ontspan, want ’n mens is maar senuweeagtig as jy nie by jou babatjie is nie, maar gelukkig weet ek sy is te alle tye in die beste hande, wat vir haar net liefde gee,” sê Charlize.

Wat balans betref, meen sy dat hul lewe nie tot stilstand gekom het ná hul kleinding se koms nie. Inteendeel, die teenoorgestelde het met haar en haar man gebeur, sê Charlize. 

“Ons doen meer dinge en kuier lekkerder saam met ons vriende en ons maak regtig tyd vir mekaar en ons familie,” het sy gesê.

Sy sê die lewe maak meer sin wanneer so 'n klein lyfie dit met jou deel. “Dit is makliker om alles te balanseer en ons is gelukkiger. Ons leef voluit,” sê sy. 

Volgens Charlize is dit belangrik vir nuwe ma’s om elke oomblik te geniet en ook te besef dat die lewe nie stop ná die geboorte van 'n kind nie.

“'n Mens word so lief vir jou baba dat dit soms voel jy wil haar net vat en in 'n grot gaan bly waar niemand haar op enige manier kan skade aandoen nie.”

Sy meen ’n mens raak gewoond aan die nuwe leefstyl, roetine en liefde vir jou kind wanneer alles eers gestabiliseer het. 

“Geniet elke oomblik; hulle word so vinnig groot. Glimlag en geniet die lewe. Dis die belangrikste,” sê Charlize. 

Die voorbereiding vir gesellighede is nie meer so maklik nie. “Dis doeke, bottels, 'n stootwaentjie en 'n skoon stelletjie klere en alles moet voorberei word."

Sy is dankbaar Warren is 'n raakvat-pa. 

Die twee is steeds smoorverlief en maak ekstra moeite om alleentyd vir hulle as paartjie te maak. “Ons gaan deur ekstra moeite om aande alleen uit te beplan. Ek dink dit is baie belangrik vir enige huwelik,” sê sy. 

Charlize is dié tyd van die jaar baie bedrywig met vertonings en is besig met 'n nuwe projek waaroor sy nie veel kan verklap nie.

“Ek hoop om dit teen die einde van die jaar bekend te stel en is vreeslik opgewonde.”